AfriForum wil amnestietydperk laat verleng

ammunisie-vuurwapenwet-vuurwapens

(Foto: David Levêque/Unsplash)

Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het vandag wéér ’n skrywe aan Bheki Cele, minister van polisie, gerig om navraag te doen oor die moontlike verlenging van die vuurwapenamnestietydperk.

Dít volg nadat AfriForum ook op 25 en 30 Maart vanjaar ʼn skrywe aan Cele en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, gerig het waarin dié organisasie sy kommer uitgespreek het oor die feit dat vuurwapeneienaars nie tydens vlak 5 van afsondering van die amnestietydperk gebruik kon maak nie.

Cele het egter op 22 April in ’n skrywe aan AfriForum gesê hy oorweeg om die parlement vir ’n verlenging van die amnestieperiode te nader. Lt.genl. Moeketsi David Sempe het dit kort daarna in ’n riglyn bevestig.

Die amnestietydperk wat op 1 Desember begin het, strek tot 31 Mei.

Vuurwapeneienaars wat in besit van ongelisensieerde vuurwapens is, word onder meer in dié tyd die geleentheid gegun om die vuurwapens by hul naaste polisiekantoor in te handig sonder dat hulle daarvoor vervolg word.

Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, het gesê persone wat van die amnestietydperk gebruik wil maak, behoort die geleentheid gegun te word om dit na behore te doen.

“Dit is steeds ’n uitdaging in die afsonderingstydperk om deskundiges te nader om duidelikheid te kry oor wat presies die amnestie vir ’n persoon wat daarvan gebruik wil maak inhou en watter stappe gedoen moet word indien die persoon weer vir ’n vuurwapen wat by die polisiestasie ingegee word, aansoek wil doen,” sê Kamfer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael 1 ·

Ek waardeer julle opovering,sal graag wou gehoor het dat julle uitlig dat vandag hemelvaar dag is is so gehou moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.