AfriForum wil help in Pta se donker ooste

Foto bloot ter illustrasie (Foto: iStock)

Te midde van voortslepende kragonderbrekings hoef inwoners in die ooste van Pretoria nie op die pad ook in duisternis gehul te wees weens straatligte wat nie werk nie. AfriForum se Garsfontein-Faerie Glen-tak wil help om dié probleem te pak.

Die tak het in samewerking met veiligheidsmaatskappye en ander gemeenskapsorganisasies in die gebied ʼn oudit gedoen om te bepaal hoeveel straatligte in die omgewing van Garsfontein en Faerie Glen buite werking is. Die oudit vorm deel van AfriForum se pogings landwyd om woonbuurte te verlig.

Die tak stel tans ʼn lys saam van straatligte wat buite werking of beskadig is en dié lys gaan hom help om die omvang van die probleem te bepaal.

Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, sê sodra die oudit afgehandel is, sal die verslag aan die Tshwane-metro oorhandig word sodat herstelwerk so gou moontlik kan begin. Die burgerregteorganisasie gaan ook die metro hiermee bystaan.

“AfriForum verstaan dat daar enorme uitdagings is met verouderde infrastruktuur en beperkte hulpbronne, daarom het die plaaslike AfriForum-tak besluit om die projek af te skop sodat daar akkurate inligting is om mee te werk,” sê Ungerer.

Die oudit sal AfriForum in staat stel om die metro met aksieplanne by te staan, sodat die probleem doeltreffend aangepak word.

“Sou die metro nie in staat wees om die nodige herstelwerk te doen nie, sal AfriForum se Garsfontein-Faerie Glen-tak alles in die stryd werp om self hierdie dele van Pretoria-Oos te verlig. Dit is ʼn groot veiligheidsrisiko as dit stikdonker op die paaie is en AfriForum wil ʼn daadwerklike rol speel in die beveiliging van hierdie gebied.

“Die hele gemeenskap se hulp word egter benodig sodat die inligting akkuraat vervat word,” sê Ungerer.

AfriForum se Garsfontein-Faerie Glen-tak doen ʼn beroep op lede van die publiek om onklaarrakings aan te meld. Stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek afriforum.co.za/verlig-jou-straat/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kombiman ·

Wat van die ander areas in Pretoria? is net die ooste belangrik???

Wakkerslaper ·

Als goed en wel, maar dan wil ek OPHOU OF MINDER BELASTING BETAAL ASB. Hoekom moet ons aanhou belasting betaal net sodat burgerregte organisasies of die privaatsektor die werk moet doen – dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.