AfriForum wil veiligheid by skole opskerp

Carien Bloem projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum met die gids. (Foto: Reint Dykema, AfriForum)

AfriForum het Woensdag ’n skoleveiligheidsgids bekend gestel wat Suid-Afrikaanse skole kan volg om te verseker dat hulle oor die nodige en korrekte veiligheidsmaatreëls beskik gedurende ’n moontlike noodsituasie.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê dié veiligheidsgids kom te midde van ’n skerp toename in onluste by Suid-Afrikaanse skole veral oor die afgelope twee jaar.

“Tydens die Hoërskool Overvaal-voorval in 2018 en talle onluste wat reeds in 2019 by skole reg oor die land plaasgevind het, is dit weer eens bevestig dat veiligheidsmaatreëls vir skole dringend onder die loep geneem sal moet word. Ons vind dat skole in baie gevalle nie gerat is om sulke insidente te kan hanteer nie en daarom het ons hierdie gids saamgestel,” sê Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.

“Aspekte waarop die gids fokus is byvoorbeeld om seker te maak dat die skool se omheining ’n doeltreffende hoogte is en van duursame materiaal gemaak is wat nie maklik vernietig kan word nie, asook om seker te maak dat daar voldoende nooduitgange en brandblussers is. Daar is ontsettend baie veiligheidsaspekte wat ʼn mens kan miskyk, maar wat die potensiaal het om in ’n noodsituasie ernstige probleme te veroorsaak,” sê Bloem.

Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum en Hardus Visagie, voormalige voorsitter van die beheerliggaam van Hoërskool Overvaal Woensdag tydens die bekendstelling van die gids. (Foto: Reint Dykema, AfriForum)

Dié gids, in samewerking met AfriForum se onderwys- asook gemeenskapsveiligheidsbene, is nié net vir die doel van protesaksie by skole opgestel nie, maar ook vir ander situasies soos bomdreigemente of natuurrampe.

“Met die bekendstelling van die skoleveiligheidsgids wil ons skole bemagtig om proaktief op te tree deur oudits by skole te doen wat betref die veiligheid van die skool en leerders, en om maatreëls in te stel om die veiligheid van die leerders in skole te verbeter,” sê Cameron. “Ons wil skole weerbaar maak.”

Lede van AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling gaan gevolglik skole in verskillende dorpe tydens hul Ankerdorppadskou, ’n nasionale veldtog, besoek om te verseker dat skole voldoende veiligheidsmaatreëls gereed het. Gedurende só ’n besoek sal AfriForum met behulp van die spesifieke skool se beheerliggaam ’n oudit doen om te bepaal waar daar plek vir verbetering in die skool se veiligheid is.

AfriForum sal gedurende dié padskou Pretoria, Rustenburg, George, Nelspruit, Tzaneen, Krugersdorp, Secunda en Bethlehem van Februarie tot November vanjaar besoek.

Dié gids is gratis en in Afrikaans en Engels beskikbaar. “Ons wil hierdie diens aanbied ongeag gebied of taal. Dit is elke leerder en onderwyser se reg om gehalte-onderrig in ’n veilige omgewing te ontvang”, sê Bloem.

Enige skole, ouers en onderwysers kan bloot ’n SMS na 42314 stuur indien daar ’n behoefte is vir só ’n besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

Ek onthou in 1990 het ons ook by die skool soortgelyke ‘veiligheids’ raad ontvang. Selfs die skoolbus bestuurder het die kinders aanbeveel om hul tasse teen die vensters te hou indien ons (passasiers) dalk met klippe bestook word… Kan jy glo ons is nou WEER daar?
Ai – selfbeskikking is enigste oplossing

Cornelia ·

Baie baie dankie lan, Carien en span. Dit is ‘n riem onder die hart.

madels ·

In ander lande sal dit bestempel word as terreur aanvalle wanneer gewapende volwassenes oor skole se heinings spring, drade breek ens….. hier in SA word NIKS gedoen nie. Siek! Maak my sommer woedend kwaad!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.