Afrigter afgedank ná ‘molestering’-bewerings

Bryanston High School. (Argieffoto: Facebook)

Die 33-jarige sportafrigter van Bryanston High School wat vroeër vanjaar vir beweerde molestering van leerders in hegtenis geneem is, is Vrydag finaal afgedank.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het in ʼn verklaring bevestig die skoolbeheerliggaam het die afrigter vandag afgedank nadat hy voorheen geskors was toe die bewerings aan die lig gekom het.

“Die afrigter wat deur die skoolbeheerliggaam aangestel is se dissiplinêre verhoor is vandag afgehandel en die uitkoms daarvan sal verseker dat hy van die rol van opvoeders geskrap word,” het Mabona gesê.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het die man se afdanking verwelkom en gesê die departement sal nooit huiwer om op tree waar bewerings van dié aard kop uitsteek nie. “Ons verwelkom hierdie sanksie en doen ʼn beroep op opvoeders om hulle van wangedrag te weerhou aangesien hulle veronderstel is om deur hul gedrag ʼn voorbeeld vir leerders in ʼn veilige skoolomgewing te wees,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig die afrigter is op 17 Januarie in hegtenis geneem in verband met dade wat hy na bewering van 2017 tot verlede jaar met leerders gepleeg het. Die beweerde voorvalle het glo tydens netbalwedstryde en skooluitstappies plaasgevind.

Die beskuldigde is vroeër borgtog toegestaan in die landdroshof in Alexandra en moet weer op 12 Maart daar voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

IK ·

Ek neem aan sy naam is ’33-jarige sportafrigter’ siende dat hy reeds in die hof verskyn het.?

SANET ·

Dis eweskielik of die duiwel loshande ?rondhol in ons skole met ñ vlaag en plaag van kindermolesteerders,wat nog AMPER MEER BESKERM word as hul slagoffers! WALGLIK!!
INDERDAAD NES JY DAAR SÊ IK…

Mariné Lourens ·

Dagsê IK

Dankie vir jou kommentaar. Artikel 154(2b) van die Strafproseswet bepaal dat geen persoon wat teregstaan op seksuele oortredings se aanklagte geïdentifiseer mag word, direk of indirek, voordat die beskuldigde nie op die aanklagte teen hom gepleit het nie. Sodra die beskuldigde gepleit het, sal Maroela Media sy identiteit bekend maak soos deur die wet bepaal. Hoop dit klaar die verwarring op.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Eunice ·

Slaan my hande saam,dat hy so beskerm word!
Skokkend dat pedofiele by kinders in skole werk

Snowball ·

Pedofiele kies juis beroepe waar hulle maklik met kinders in aanraking kan kom….daarom moet ouers NIEMAND net vertrou nie en nooit ‘n kind se woord in twyfel trek as hulle kom sê as iets onvanpas met hulle gebeur het nie.

Poppie ·

In my skooldae was daar nie n onderwyser in sig as ons netbal gespeel het nie (behalwe die busbestuurder maar n onderwyseres was altyd by hom. Wat maak hy tussen jong meisies?

ne ·

Hoop die moordenaars in skole word ook deur die depatrement veroordeel. Die man moet kry wat hom toekom, geen simpatie vir sulke mense nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.