Afrigter wat glo met seuns lol weer in hof

Parktown Boys’ High School. Foto: Via Facebook

Die voormalige waterpolo-afrigter van die Parktown Boys’ High School in Johannesburg wat teregstaan op 160 aanklagte wat seksuele aanranding, verkragting en kindermishandeling insluit, het Maandag in die Palm Ridge-hooggeregshof verskyn.

Die staat het egter versoek dat die saak uitgestel word vir verdere oorlegpleging.

Die saak is tot Dinsdag uitgestel, wanneer die verhoor na verwagting sal begin.

Die 22-jarige beskuldigde, wie se naam nog weerhou moet word, se regspan het in Julie aan die saak onttrek aangesien hulle nie betaling ontvang het nie.

Die man het om regshulp aansoek gedoen en sy nuwe regsverteenwoordiger moes op die hoogte van die saak gebring word voor die verhoor kon voortgaan.

Maroela Media het vroeër berig die beskuldigde is in November 2016 in hegtenis geneem nadat die man glo ʼn 15-jarige seun in die koshuis se sitkamer onbehoorlik betas het. Die beweerde aanranding is deur veiligheidskameras by die skool opgeneem en het sodoende onder die skoolbestuur se aandag gekom.

Die beskuldigde moes pligte by die skool se koshuis verrig en het ook waterpolo afgerig.

Die beskuldigde het dissiplinêre stappe vrygespring deur uit sy pos by die skool te bedank kort nadat die beweerde oortredings aan die lig gekom het. ʼn Strafregtelike aanklag is egter ingedien en hy is in hegtenis geneem. Hy is ʼn maand later op borgtog van R3 000 vrygelaat.

Minstens 23 seuns tussen 14 en 16 jaar oud het na vore gekom as klaers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

humor ·

Magtig man, wat makeer hierdie man? Sy deraadwerk is beslis n chaos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.