Afrigting, geriewe belangriker as kwotas

Deur Marthinus Koekemoer

Argieffoto (Foto: Krieket SA/Twitter)

“Die kwotastelsel is besig om Suid-Afrikaanse krieket lam te lê.”

Só het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregtewaghond, vandeesweek in ’n mondelingse voorlegging by Krieket SA (KSA) se Social Justice and Nation Building (SJN)‑paneel gesê.

AfriForum is genooi om voor die paneel te verskyn nadat dié organisasie vroeër vanjaar ’n skriftelike voorlegging aan die SJN-komitee gemaak het.

Volgens Kriel moet die fokus wees om elke kind toegang tot goeie fasiliteite en afrigting te gee. Hierdie ideaal word egter in die wiele gery deur KSA wat onder regeringsdruk en politieke inmenging swig en rassisme deur middel van raskwotas struktureel deel van Suid-Afrikaanse krieket maak, meen hy.

Kriel sê AfriForum is gekant teen rassisme en raskwotas in sport. “Ons glo raskwotas skend die waardigheid van spelers. Aan die een kant word wit spelers op grond van die kleur van hul vel nie gekies nie, maar aan die ander kant word talentvolle swart spelers as kwotaspelers gebrandmerk.

“Dit steek al op skolevlak kop uit en die waardigheid van spelers tot op senior vlak word steeds beïnvloed. AfriForum is oorval met briewe van ouers wie se kinders as gevolg van hul ras nie vir spanne gekies is nie en die trauma wat dit veroorsaak het, moenie geïgnoreer word nie,” sê Kriel.

Hy het ook verwys na die rasdebakel tydens die 2015-Wêreldbeker toe Kyle Abbott op grond van sy velkleur uit die Proteaspan vir die halfeindstryd weggelaat is. Abbott het hierna oorweeg om uit internasionale krieket te tree.

Kallie Kriel. (Foto: Reint Dymeka)

Kriel het ook verwys na hoe die kwotastelsel eerder ongelykhede vergroot as om kinders van townshipskole ’n geleentheid te gee om te ontwikkel. “Kwotas word as ’n maklike uitweg gebruik om getalle op te maak, maar die spelers van kleur word grootliks uit gegoede privaat skole gekies wat geensins help om krieket in townshipskole te ontwikkel nie.

“Die Internasionale Krieketraad (IKR) se reëls verbied enige lidland om teen ’n speler op grond van ras, kleur, geloof, nasionale of etniese herkoms te diskrimineer. So ook mag ’n regering nie met die land se krieketbeheerraad se sake inmeng nie. Hieruit is dit duidelik dat KSA die IKR se reëls oortree.

“Talent is nie tot sekere rasgroepe beperk nie en die land spog met verskeie talentevolle spelers uit verskillende gemeenskappe, maar om hul talent ten volle te ontwikkel moet spelers teen die sterkste moontlike opponente meeding. Wanneer spanne nie op meriete gekies word nie, gebeur dit nie en word die span en uiteindelik krieket in die land lamgelê,” sê Kriel.

Volgens Kriel het AfriForum as ’n alternatief tot die rasgedrewe kwotastelsel ’n sespuntplan vir sportontwikkeling. Dit sluit in:

  • Skep fasiliteite waar sport beoefen kan word. Munisipaliteite en plaaslike regerings sal ’n belangrike rol hierin moet speel.
  • Gee alle skole die geleentheid om sport aan te bied. Alhoewel die ou Model C-skole reeds verskeie sportsoorte aanbied, is dit nie die geval by die oorgrote meerderheid van ander skole nie. As eerste stap om hierdie leemte te vul moet liggaamlike opvoeding weer by skole ingestel word.
  • Ontwikkel sterk jeugklubs daar waar skolesport nie moontlik is nie. Nie alle skole sal na-ure sport kan aanbied nie en jeugklubs kan hierdie leemte vul.
  • Sportbeheerrade moet afrigting van die hoogste gehalte verseker. Ná goeie fasiliteite ontwikkel is, kan afrigters geïdentifiseer en opgelei word en op hul beurt tot die ontwikkeling van sport bydra. Alhoewel sulke strukture wel reeds bestaan, moet dit verder uitgebou word.
  • Maak seker programme is volhoubaar wat dit makliker sal maak om borge te kry. Die skep van fasiliteite en strukture vir die lang duur, in gemeenskappe waar dit nie voorheen beskikbaar was nie, sal ook borge makliker lok.
  • Bring ’n ontwikkelingskomitee op die been wat bestaan uit verskeie rolspelers wat bereid is om ’n bydrae te maak. Hierdie komitee moet grootskaalse deelname aan sport aanmoedig en sal verseker dat die verantwoordelikheid nie vierkantig op die sportbeheerliggaam se skouers rus nie.

Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, sê indien AfriForum se sespuntplan vir sportontwikkeling toegepas word en politieke agendas vermy word, sal ware bemagtiging van gemeenskappe en mense kan plaasvind. “Sport het die vermoë om gemeenskappe saam te snoer, maar politieke inmenging in sport loop die risiko om gemeenskappe uitmekaar te jaag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jack ·

Dit maak nie meer saak nie.Die meeste blankes stel in elk geval nie meer belang in enige sport in die land nie.Hou dit maar.Voordat ALL vorme van kwotas,transformasie en politieke inmenging op ALLE ouderdoms groepe en sportsoorte gestop word nie stel ons nie meer belang nie.Hou dit maar.Ons ondersteun as dit moet die opposisie.

Kirst ·

Jy was seker lekker teleurgesteld toe die B&I Leeus so pak gekry het die afgelope Saterdag toe die Springbokke se twee driee albei deur “kwota” spelers gedruk is. Ek hoop (nie) jou span vaar beter teen die Springbokke hierdie Saterdag.

Jr ·

Ja en hulle het daai driee op hulle eie gedruk. Die ander spelers het niks te doene gehad. Net soos Kolisi op sy eie die WB gewen het. Pphhhttt

Kirst ·

Ek het gewag vir die reaksie. Natuurlik was dit Pollard en De Klerk se visie en vaardigheid wat die geleenthede geskep het. Van beide skoppe sou egter dadels gekom het as daar niemand was om die drie te druk nie. Dis hoekom mens dit ‘n rugbySPAN noem. As ons burgers in SA beter as ‘n span kon saamwerk sou ons ook meer sukses gehad het.
Ek wens net diegene wat so gal braak oor sg kwotas en beweer hulle volg nie meer SA sport as ‘n gevolg daarvan nie, wil dan ook ophou om berigte oor SA sport te lees en ophou kommentaar lewer daarop. Gaan kyk Engelse sokker of iets en laat die van ons wat SA sport nog ondersteun toe om dit in vrede te geniet.

Jr ·

Jou argument is so flou want jy lees nie wat ek vra. Dis n span poging SOOS ek jou gevra het. Jy het die kleur van die drie drukker geuiter, nie ek nie.

Kirst ·

Ek het dit bloot gedoen om die punt te bewys dat “hulle” nie so “useless” is as wat almal uitmaak nie, en dat die Springbokke wen omdat hulle as ‘n (ras) diverse groep saam as ‘n span speel. Solank mense hulle blindstaar teen kleur gaan ons nerens kom in die land nie. Gaan bly dan maar liewers in ‘n land met ‘n meerderheid wit bevolking (as jy kan).

Vrijburger ·

Kirst jy mis die punt.
“Solank mense hulle blindstaar teen kleur gaan ons nerens kom in die land nie.” Juis. Ek stem. Die artikel gaan juis oor ‘n regering en sportorganisasies wat hulle blindstaar teen kleur. Haal kleur (dws kwotas) uit sport en laat die enigste maatstaf meriete wees.

Kirst ·

Ek stem saam met jou en met Afriforum se benadering in die artikel. Ek is net keelvol vir mense soos Jack wat kamtig nie meer SA sport kyk nie en die spanne wat teen ons speel ondersteun, en sulke kommentaar lewer op artikels oor SA sport. As jy nie meer SA sport kyk nie en/of die ander spanne ondersteun is dit jou keuse wat jy nie op my, wat nog SA sport kyk en ondersteun ongeag wie gekies word, hoef te probeer afdwing nie. Ek is bly oor Afriforum se pogings en ondersteun hulle finansieel, maar ek gaan nie wag tot hulle sukses bereik voor ek weer sport kyk, of my mond uitspoel oor swart spelers solank hulle presteer nie. Mense vergeet die Springbokke is wereldkampioene en kan nog die reeks wen.

Harley Davidson ·

Skrap alle diskriminerende wette en regulasies gebaseer op velkleur op die sportveld en in die werksplek, die beste kandidaat moet aangestel word ongeag ras,alternatief gee ons ‘n onafhanklike tuisstaat om hierdie demokrasie in plek te sit.

Francois ·

Sal nooit gebeur. Dan kan hulle nie kla en raskaart slewig voorgooi nie en dit gaan aan die politiek se sakke vat

piet ·

Die kwotastelsel het definitief gewerk om die proses te versnel om spelers van kleur deur te bring tot op top-vlak. Dis egter nou uitgedien en kan geskrap word, daar is genoeg spelers van alle kleure in die sisteem om die bestes op ‘n verteenwoordigende vlak te kies.

Adrianis ·

Daar is nie genoeg spasie op hierdie blad om al die belowende en talentvolle jong krieket en rugby spelers se name te noem wat eerder na hul skool loopbane in Suid Afrika eerder hulle heil oorsee gaan soek het en op die ou einde en voortgegaan het om hulle aangenome land te gaan verteenwoordig en van hulle op die ou einde uitblinkers geword het nie. Watter ander land in die wêreld word so kwota stelsel gebruik om spanne van ‘n jong ouderdomsgroep, op die basis van hulle velkleur te kies. Vanaf 1991 tot 2021 het ons Nationale krieket span al minder sukses bereik m.b.t. hoe mededingend hulle is op Internationale vlak en hoe meer oorsese internationale spanne van Suid Afrika afkomstig is. Navorsing sal dit bewys. Kallie Kriel, jy gee hoop vir baie mense in die land om rassisme te beveg. Baie dankie.

Hendrik ·

Ek moet eerlik wees van ‘n baie geesdriftige sportondersteuning tot tans wat ek nou Dinsdag eers uitgevind het wat die Leeus Bokke wedstryd uitslag was. Ek het nie eens ‘n TV meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.