Afrika kookpot vir kubermisdaad

Argieffoto. (Pixabay.com)

Ongeveer een uit elke drie transaksies wat per selfoon in Suid-Afrika uitgevoer word, vind op bedrieglike wyse plaas. Kuberbedrog deur middel van selfone beloop boonop $4 miljard (R58 miljard) per jaar in Afrika en kenners waarsku dit kan teen die einde van 2021 tot R5 miljard toeneem.

Dié kommerwekkende tendens is in ʼn uitgawe van die Ferlio-groep van privaat ondersoekers se maandelikse nuusbrief, wat pas verskyn het ʼn Groot rede vir dié toename is die Covid-19-pandemie wat verbruikers toenemend noodsaak om transaksies aanlyn te doen.

“Die enigste sektor wat tydens die Covid-19-inperking floreer het, was kubermisdaad,” sê Toby Shapshak, redakteur en uitgewer van die Suid-Afrikaanse uitgawe van die tydskrif Stuff. Hy sê mense wat van die huis af werk het gewoonlik nie dieselfde sekuriteit op hul netwerke en rekenaars as op kantoor nie.

“Die grootste probleem is dat mense onbewus is van die sekuriteitsmaatreëls wat hulle in plek moet hê. Hulle laai indringerware (malware) af omdat hulle op skakels klik wat hul vriende op sosiale media aanstuur en beland dan op webwerwe waar die kriminele sit en wag om toe te slaan.”

David Lotfi, die uitvoerende hoof van die Franse maatskappy Evina wat telekommunikasiemaatskappye wêreldwyd adviseer oor metodes om hul eindverbruikers teen bedrog te beskerm, word aangehaal in Ferlio se nuusbrief. .

slimfoon-in-die-hand-kuberbedel

(Foto: Kaboompics.com)

Hy beskryf kubermisdaad in Afrika as “ʼn virtuele geskarrel om die kontinent opnuut te plunder” en sê bedrieërs gebruik toenemend digitale bemarking en advertensienetwerke soos Google om hul kwaadwillige doel te bereik.

“In Afrika sien ons die perfekte storm: ʼn jeugdige bevolking wat miljarde aan selfoonkoste bestee en ʼn toename in internetverkeer weens die pandemie veroorsaak deur die koronavirus.”

Volgens Lotfi is Afrika, en veral Suid-Afrika, van groot belang vir die selfoonbedryf omdat dit so vinnig groei. The Mobile Economy, Sub-Saharan Africa se 2020-verslag wys 477 miljoen mense in Afrika het einde 2019 toegang tot selfone gehad. Volgens ʼn artikel wat in Desember deur Statista.com gepubliseer is, gebruik ongeveer 20 tot 22 miljoen mense in Suid-Afrika ’n slimfoon, wat ongeveer een derde van die land se bevolking uitmaak. Die getal slimfoongebruikers sal na verwagting tot 2023 met meer as vyf miljoen groei.

“Selfoonkriminele mag nie toegelaat word om in hierdie vasteland die oorhand te kry nie omdat dit ʼn sleutelrol vervul in die toekoms van digitale besighede en telekommunikasie,” sê Lotfi.

Hy sê die twee algemeenste metodes wat kuberkriminele gebruik, is klikkaping (click-jacking) en kwaadwillige toepassings wat ʼn bedreiging inhou vir die verbruiker sowel as vir die diensverskaffer.

Eersgenoemde is ʼn tegniek waarvolgens ʼn wettige opdrag of klik onderskep word en die gebruiker onwetend na ʼn webwerf gelei word waar sensitiewe finansiële en ander inligting gesteel kan word.

Kwaadwillige toepassings het dieselfde doel, naamlik om die gebruiker te bedrieg, maar bevat indringerware wat tydens die opdatering van ʼn toepassing of selfs tydens die oorspronklike aflaai daarvan, ingebed is sonder dat die gebruiker dit besef.  Die indringerware raak dan aktief en aktiveer die data sonder dat die gebruiker daarvan weet. Dié verloor uiteindelik groot hoeveelhede data terwyl die kriminele met hul bedrieglike optrede voortgaan.

“Dit is bedrog, maar dit is ook kubermisdaad wat geldwassery insluit waarmee die gruwelikste misdade teen die mensdom gefinansier word,” sê Lotfi.

Minstens 75 000 kwaadwillige transaksies per maand kan wêreldwyd deur selfoonbedrog gegenereer word. Evina beweer die bedrogkoers in die Midde-Ooste en in streke van Afrika is 27% en dat 60% van aanvalle tydens klikkaping plaasvind. Sowat19% is as gevolg van kwaadwillige toepassings wat ʼn meer verfynde tegniek behels.

Volgens Lotfi is klikkaping egter ʼn basiese tipe bedrog wat die afgelope vyf jaar in groot dele van die wêreld uitgeroei is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wielspore ·

Ek kry ten minste 2 e-posse per dag waar ek die erfgenaam is van ‘n groot klomp geld van ‘n onbekende persoon. Dan ook daardie selfoon boodskappe wat gewoonlik so net na middernag hulle opwagting maak met min of meer dieselfde inhoud. Dan lees jy die nommer in op true-caller om te sien aan wie dit behoort en die resultaat is gewoonlik MTN of Vodacom-SA.

Wynand ·

Dit is nie die enigste misdaad wat floreer het nie. Programme wat ingestel is om sulke dinge te stop werk net so goed soos die operateur dit toelaat. Baie maal word pos geblokkeer wat geen risiko inhou nie, en dis net daar waar die probleem begin.
Jammer om te sê, maar ons ouergemeenskap val baie makliker in die lokval want ons kom van ‘n tydperk af waar mens makliker jou medemens vertrou het. Maar i.p.v. om te leer hoe mense toegang tot die rekenaar kan kry, bly hulle liewerste weg daarvan en sosiale media. Dit is die grootste fout. Geen wonder dat ons agter raak met sulke tegnologie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.