Afrikaans bly, sê US-raad

stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. Argieffoto.

Die raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het Maandagaand tydens ʼn vergadering ʼn mosie aanvaar en opnuut bevestig dat verandering aan die taalbeleid nie ten koste van Afrikaans mag wees nie.

Die raad het in ʼn verklaring gesê hy bly verbind tot die taalbeleid soos aanvaar op 22 November 2014 en die interpretasie daarvan deur prof. Wim de Villiers, die rektor, in sy inhuldigingsrede. “Stellenbosch is nie ʼn Afrikaanse universiteit nie; Stellenbosch is nie ʼn Engelse universiteit nie; Stellenbosch is nie ʼn isiXhosa universiteit nie; Stellenbosch is ʼn meertalige Suid-Afrikaanse universiteit – een van min in hierdie kategorie, wat bitter nodig is in ʼn land met 11 amptelike tale.”

Die raad het onomwonde verklaar dat taal nooit enige hindernis mag wees vir enige student wat voorgraads óf nagraads aan die US wil studeer, en nie óf Afrikaans óf Engels magtig is nie. “Daarom versoek die raad die bestuur om met die oog hierop die nodige meganismes verder uit te bou en deurlopend te monitor. Indien dit sou beteken dat die Engelse akademiese aanbod die gestelde teiken oorskry, sal dit die ondersteuning van die raad geniet.”

Die raad het tegelykertyd verklaar dat dit nie ten koste mag wees van die ooreengekome minimum teiken vir die Afrikaanse aanbod nie. “Die raad versoek dat óók die Afrikaanse voorgraadse akademiese aanbod nog verder verhoog sal word. Die raad bevestig hiermee dat die Universiteit se meertalige aanbod as ʼn strategiese bate vir die US beskou word en as ʼn kompeterende voordeel uitgebou moet word.”

Die raad het in terme van die administratiewe en kommunikasie-taal aan die US besluit dat taal nooit uitsluitend mag wees vir studente en personeel nie. “Die raad aanvaar dat, soos tans, amptelike dokumente en kommunikasie daarom in Afrikaans sowel as in Engels beskikbaar sal wees. Studente, personeel en die publiek sal steeds aangespreek word in die taal van hul voorkeur, hetsy Afrikaans of Engels en indien moontlik ook isiXhosa.”

Die raad het versoek dat daar onderling gereël word rakende die voertaal van vergaderings en byeenkomste aan die US en in universiteitskoshuise ten einde niemand uit te sluit nie. “Die raad beskou die groeiende diversiteit in die studente-demografie aan die US as ʼn groot bate vir sowel die akademiese as persoonlike vorming van die studente wat kies om aan die US te studeer. Die raad sal daarom saam met bestuur kreatief wil bly dink hoe onderlinge begrip en waardering vir almal verbonde aan die US bevorder kan word, en die verrykingspotensiaal van die diversiteit maksimaal ontsluit kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johann Marx ·

Jip. Afrikaanssprekendes bou ‘n Universiteit, en gee klas in Afrikaans. Ouers betaal hulle rekeninge, geboue en perseel word opgepas en uitgebou, almal hou hulle besig met hulle studies. Die liberale Engelssprekendes se liberalisme haal hulle in….en hulle vlug van hulle eie universiteite na “Afrikaanse Universiteite” toe (gaan kyk maar Maties se getalle statistiek). Die oomblik wat hulle by ‘n Afrikaanse Universiteit opdaag, begin hulle aandring om ook in Engels onderrig te word. Die Universiteit stem toe, begin in Engels klas gee, en die dieselfde massas wat die Engelse na Afrikaanse Universiteite laat migreer het, neem oor. Onthou julle Kovsies? Randse Afrikaanse Universiteit? Voor onderrig ver-Engels is daar, hoeveel stakings, toyi-toyi, oproer, afbrand, infra-struktuur beskadiging, intimidasie, geweld, polisie-optrede, en of sosiale onrus was daar op hierdie kampusse?

Derek Meyer ·

Hey, die RAU! Ek onthou hoe my pa altyd geld gegee het vir ‘n Afrikaanse Universiteit aan die Rand. Voor die Universiteit beginhet. Toe die grond omgeploeg was en strate toegemaak was en daai wonderlike geboue opgerig was.

Toe ek my nagraadse studies gedoen het daar. In Afrikaans. En daai pragtige grasvelde voor die koshuis waar ek gebly het. En dat die Universiteit nie eens omhein was nie. Dit was nie nodig nie want niemand kon ons vermoor het daar binne nie.

Daai dae is verby. RAU is UJ. Die hoofkampus van die UJ is einlik nogal ‘n goed-omheinde plakkerskamp op die oomblik.

Miskien is di tyd vir ons om die verlede vaarwel toe te roep en weereens ‘n nuwe Afrikaanse Universiteit te begin? Dis maar die geskiedenis; Afrikaners begin fantastiese organisasies en Universiteite en besighede en sulke dinge, dan word ander mense jaloers en neem dit oor en breek dit af. Dis maar hoe dit is, maar ons begin weer en word weer die beste tot volgende keer…Ons oorleef baie gemaklik intussen.

Francois ·

Goeie nuus! Tog is dit ironies dat, op dieselfde dag waarop die media oor hierdie wyse besluit van die US-raad berig, daar ‘n artikel deur Prof Amanda Gouws van die US in Die Burger verskyn waarin sy weer eens onbeskaamd ten gunste van ‘n Engelse US betoog. Haar pro-Engelse argumente is nie alleen geyk nie, maar getuig ook van oorvereenvoudiging – iets wat sekerlik nie van ‘n geleerde professor verwag word nie. So sê sy byvoorbeeld dat sy in een van haar lesings gevra het hoeveel studente onderrig in Engels verkies, en dat 80% van die studente positief geantwoord het. Ek is seker dat, sou die professor haar studente vra of hulle nie meer toetse of eksamens wil skryf nie, sy ‘n 100% positiewe respons sal ontvang. Dit beteken egter nie dat sulke terugvoer op ‘n stewige pedagogiese basis berus nie. Net so is die aanname dat uitsluitlik of oorwegend Engelse onderrig pedagogies verantwoordbaar is, na my mening hoogs verdag. Die eenvoudige waarheid is dat Suid-Afrika ‘n veeltalige land is, en dat ‘n enkele taal nie op kunsmatige wyse (as deel van die ANC se sosiale ingeneurswese) op die bevolking afgedwing mag word nie. Daarbenewens mag Afrikaans se hoër funksie as gevestigde universiteitstaal nie ondernyn word nie – Afrikaans is in dié opsig ‘n nasionale bate en Afrikaans se status as sodanig word deur die Grondwet gewaarborg. Miskien moet kommentators soos Prof Gouws hierdie groter prentjie in gedagte hou, eerder as om op eng en stiksienige argumente te steun.

Johann Marx ·

Francois…hierdie professor skerm maar net vir haar inkomste, byvoordele en pensioenfonds. Die dag as alles by Maties na Engels toe verval, sal sy darem vir die base kan sê sy “ondersteun” hulle planne al lankal….hulle kan dit selfs in die Burger gaan lees!!

Pieter ·

Ek stem saam met jou maar dit vertel vir my ‘n ander storie: Die akademikus se uitsprake laat my ernstig wonder oor die kwaliteit van haar opleiding en dan spesifiek toepassing van daardie opleiding. Dit klink vir my te ernstig kader ontplooiing.

Gerhard Burger ·

Francois, ek stem saam. Netjies raakgevat! Gouws se argumentasie isnie net ‘n verontagsaming van die grondwetlik verskansde posisie van Afrikaans nie, maar verpraktisering daarvan sal op ‘n oortreding (skending) van die grondwet neerkom. Twee ander onbegryplike aspekte tree na vore: (1) hoe is dit moontlik dat ‘n koerant soos Die Burger ‘n joernalistieke massa van teen-Afrikaans aan die US teenoor ‘n stroompie van pro-Afrikaans toelaat? Logika, en wel om meerdere rede, moet vir jou sê dat dit tog nie kan nie! Is die koerant werklik daarop uit om homself te versuip? (2) hoe is dit moontlik dat Gouws as politieke kommentator en as kampvegter vir vroue gereeld in haar kommentaar na die grondwetlike beskerming verwys, maar in hierdie geval bereid is dat dieselfde grondwetlike beskerming summier en brutaal van ‘n besondere groep taalsprekers weggeneem word? Sy regverdig dit deur allerhande verdwaalde argument. Vernietig sy nie in die proses haar integriteit nie? My antwoord op beide is kortom – Ja! Die raad se besluit is geneem. Nou sal die praktyk dopgehou moet word. Ten slotte: weereens, ek het eweneens geen begrip vir die US se bestuursbeskouing dat Afrikaans so isiXhoza uitgebou moet word nie. Miskien is daar iemand wat dit verstaan en kan verduidelik.

anoniem ·

Afrikaans sprekende studente sal Engelse klasse kan volg- kan Engels sprekende (veral die wit groep) meer as net Engels praat? Dieselfde vraag geld ook vir dosente- word net Engels sprekendes aangestel – en Afrikaans is subtiel weggewerk. Wat nou gebeur is dat al die vergaderings en lesings. in Engels sal wees, want as daar 1 persoon is wat nie Afrikaans verstaan nie sal dit in Engels wees.(Dis wat by K9ovsies gebeur). Sal die Engels sprekendes dieselfde toegewing maak as daar 1 Afrikaans sprekende persoon is wat nie Engels verstaan nie?

HEVW ·

Darem positiewe nuus, maar wat is al hierdie versekering werd in n wipplankryery en bolmakiesie- slanery soos ons die afgelope tyd deur sg. hoe akademisie beleef het. Baie geloofwaardigheid is beslis ingeboed. Hier sal beslis gemonitor moet word. Die stryd is lank nog nie verby nie.

Faan Ries ·

Dankie tog vir die vreeslike vergunning dat “ons” nog in eietaal onderrig mag word. Dankie tog dat ons met n gatkruipend houding kon beskerm wat ons sin was en is. Waarom is “mense” so versot en behep om oor te vat dit wat “apartheids simboliek” het? Die verdrukkers stature moet mos gehaat en verag word. (soos die monumente) Bou julle eie “HOP” strukture om eie aan jule kultuur te wees en studeer dan daar. Die kinders wat wil en kan sal in enige taal hul onderig ontvang maar laat die wat Afrikaans eksklusief wil wees toegelaat word om hulle “Demokratiese reg” uit te leef

Carel Taute ·

Baie woorde maar eintlik niksseggend… terwyl ons mooi woordjies praat ..kul jou hier en kul jou daar .. weg is jou taal
Onthou ons nog die ou NP strategie van “Eie woongebiede eie skole…. ”
Waar is die rugraat heen?

Derek Meyer ·

Ja, ek onthou dit baie goed. Ek het my basies gedoen Kroonstad gedurende die ’89 verkiesing. Op elke lamppaal in die dorp was “Eie skole, eie woongebied is NP beleid.” Alles gedrop ‘n paar maande na die verkiesing….

HEVW ·

En ons Afrikaanse studente sal in hierdie stryd beslis n meer volwasse houding moet handhaaf en vir hulself moet uitmaak wie en wat presies hulle is en op alle terreine hul eiendomlike laat geld en beskerm. Daar kan nie net van buite af verantwoordelikheid geneem word nie.

Ludwig ·

Dit klínk alles goed, daar is baie woorde gesê, maar wat gaan in die praktyk gebeur? Gelukkig is my geloof sterker as die liberales se planne. En Afrikaans is groter as prof. Gouws en dieseulkes. Sy sê nie in watter klas sy haar vraag gestel het nie. As dit byvoorbeeld in ‘n Engelse letterkunde-klas was, sou die antwoord tog gewees het dat die studente onderig in Engels verkies, maar by prof. Willem Kempen, prof. Meyer de Villiers, prof. W.J. du P Erlank (Eitemal), Fransie Malherbe en sulke manne se klasse in my tyd sou so ‘n vraag net ‘n bulderende gelag uitgelok het en ons sou dadelik die betrokke proffie vir ‘n koffieklas geskiet het! Omdat Afrikaans groter is as ons almal, beslis groter as prof. Gouws en haar trawante. Ons kan en sal en mag nie versmaai wat ons aan moedersknie gevoer en geleer is nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.