Afrikaans is Groot-kaartjies nog beskikbaar ná kuberaanval

Afrikaans is Groot (Foto: Stephen Elliott)

Afrikaans is Groot (AIG) het bevestig dat hy die slagoffer van ʼn kuberaanval was en dat die organisasie vertroulik verneem het wie daarvoor verantwoordelik was.

Die direksie van AIG het in ʼn verklaring bevestig die kuberaanval het op 27 Maart plaasgevind toe kaartjieverkope by Computicket geopen het vir die konserte wat later vanjaar plaasvind.

Rapport het Sondag berig sowat 85 000 kaartjies is deur onbekende kopers bespreek, maar nooit gekoop nie en dat dit tot gevolg gehad het dat mense wat kaartjies wou koop dit nie kon doen nie.

“Afrikaans is Groot het vertroulik verneem wie die beweerde kwaadwillige aanvaller(s) was, maar kan ongelukkig in hierdie stadium geen name bekend maak nie.” Volgens die direksie ondersoek die polisie se handelstak tans die saak. “Die strafregtelike klag is na ons wete deur Computicket/Shoprite aanhangig gemaak.”

Volgens die direksie het Afrikaans is Groot op openbare aanvraag juis van Ticketpro na Computicket geskuif in die hoop dat daar nie weer, soos vantevore, probleme met kaartjieverkope sou wees nie.

Arnold Coleske. Foto: Afrikaans is Groot/Facebook

“Dit is vir ons ʼn groot skok dat so ʼn aanval op Afrikaans is Groot van stapel gestuur sou word, en dit is uiters jammer dat ons getroue ondersteuners hieronder moes ly. Ons verstaan dit was ʼn groot frustrasie en het ontsteltenis onder ons aanhangers veroorsaak,” het Arnold Coleske, uitvoerende direkteur van die Afrikaans is Groot-konserte, gesê.

Die direksie het ook gesê duisende konsertgangers is onder die indruk dat die kaartjies uitverkoop is. “Daar is wel kaartjies vir die konserte beskikbaar wat op 23, 24, 25, 29, 30 November asook 1 en 2 Desember in Pretoria gaan plaasvind.”

Afrikaans is Groot oorweeg dit ook om bykomende vertonings te open sodat alle ongelukkige ondersteuners wat Afrikaans is Groot-kaartjies wil bekom die konsert kan bywoon.

“Afrikaans is Groot is wagtend op die strekking van die ondersoek wat deur die SAPD uitgevoer word. Soos wat ons inligting bekom, sal ons dit bekend maak.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mielie ·

Dit gaan interesant wees om te sien wie die skuldige PARTY is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.