Afrikaans is Groot: Konsert skop af sonder enige betoging

Foto: eNuus

Foto: eNuus

Die eerste vertonings van die Afrikaans is Groot-konserte het vlot verloop ten spyte van dreigemente deur die ANC-jeugliga dat hulle daarheen gaan opruk om te betoog oor onlange opmerkings deur Steve Hofmeyr.

Die jeugliga se aanvanklike plan was glo om Vrydag met die konsert se opening voor die Moreletapark Gemeente, waar dit gehou word, te betoog. Dit het egter glo deur die mat geval omdat hulle nie vroeg genoeg daarvoor aansoek gedoen het nie.

Dit is nog nie duidelik of die jeugliga steeds beplan om met die betoging voort te gaan nie. Maroela Media het navraag by die Tshwane Metro gedoen en wag vir terugvoer. Bandile Masuku, die jeugliga se woordvoerder, kon nie vir kommentaar berei, word nie.

Daar is nog ses vertonings wat tot en met Saterdag in Pretoria aangebied gaan word. Drie uitverkoopte konserte word volgende week in Kaapstad by die Grand West Arena gehou.

Barnard Beukman, woordvoerder Afrikaans is Groot (AIG), het Maandag aan Maroela Media gesê hulle is van die jeugliga se plan bewus en het konsertgangers verseker dat hulle veilig sal wees en dat doeltreffende maatreëls in plek is om dit te verseker, indien daar tog ʼn betoging sou plaasvind.

Beukman het verlede week in ʼn verklaring gesê dat die jeugliga geen amptelike melding van ʼn betoging gemaak het nie. “Sover ons bewus is, is geen aansoek om ʼn betoging te hou nog by die owerhede ingedien nie – minstens sewe dae voorafkennis is nodig,” het Beukman gesê.

Die jeugliga het aanstoot geneem nadat Hofmeyr onlangs getwiet het: “Sorry to offend but in my books Blacks were the architects of Apartheid. Go figure.”

Sy twiet het ʼn opskudding op sosiale media veroorsaak. Talle Twitter-gebruikers het Hofmeyr se borge en maatskappye wat geleenthede borg waar Hofmeyr betrokke is, op sosiale media gekap en gevra of hulle sy uitlatings goedkeur. Die komediant, Conrad Koch wat die stem is agter die karakter Chester Missing, het homself ook uitgespreek teen Hofmeyr en die twee hoofborge van AIG, naamlik Pick n Pay en Land Rover.

eNuus was Vrydag met die opening by die konsert gewees en het die volgende insetsel saamgestel. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rieks ·

Hoop hulle gun my ook ‘n rustige konsert die naweek. Sien al sooo lank uit daarna dat ek nie ‘n EFF – speek in die wiel wil hê nie :-)

SJ Botha ·

Goeie nuus. kap hulle Steve en laat ons die boodskap vir groot besigheid gee: Vat aan ons helde en ons boykot julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.