Afrikaans-matriekvraestel vol verrassings

skole matrieks matriek matriekeksamen onderwys

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Hoewel die begripstoets meer tyd gevat het as wat hulle verwag het, is matrikulante tevrede dat vanjaar se Afrikaans-vraestel (taal-afdeling) nie moeiliker was as wat hulle verwag het nie. ʼn Taalkenner meen egter daar was wel ʼn paar vrae wat sommige leerders sou laat kopkrap het.

Matrikulante het Woensdag die eerste van drie Afrikaans-vraestelle tydens die matriekeindeksamen geskryf.

“Daar was ʼn paar vangplekke, maar ons onderwysers het ons baie goed voorberei en daar was niks wat ons nie kon beantwoord nie,” het Wouter du Toit, ʼn matrikulant aan ʼn hoërskool in Centurion, aan Maroela Media gesê.

Veral die indeling van die woord “inisiatief” het van die leerders onkant betrap. “Dis eintlik so ʼn eenvoudige vraag, ʼn mens verwag dit nie in die eindeksamen nie, maar tog het dit my laat twyfel. Ek dink darem my antwoord was reg,” sê Du Toit.

ʼn Ander matrikulant van dieselfde skool sê sy was verbaas oor al die insigvrae in die vraestel, maar meen die vraestel was nietemin billik en is positief dat sy ʼn onderskeiding vir die vak sal kry.

Vir dié matrikulante is Afrikaans ʼn kosbare taal en hulle meen dit is belangrik om die taal te behou en uit te bou. “Een van die woorde in die vraestel was ‘liplek-lekker’. In watter ander taal kry jy sulke pragtige woorde?” het een matrikulant gesê.

Marié Gräbe, onderwysspesialis verbonde aan die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), stem saam leerders sou waarskynlik sukkel om al die vrae in die afdeling oor leesbegrip betyds te beantwoord. Sy sê ook terminologie soos “intelligensiekwosiënt”, “emosionele kwosiënt” en “aanpasbaarheidskwosiënt”, wat in dié afdeling gebruik is, mag dalk minder bekend wees vir sommige leerders en bydra tot leerders se ervaring dat dit moeilik was.

Wat die spotprent betref, sê Gräbe leerders sou die hoofteks en spotprent se twee tipes tekste baie fyn moes lees om die korrekte afleidings te maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jaco ·

Is Afrikaans dan nog ‘n vak op skool? Die ANC kraak dit dan gedurig af as “die taal van die onderdrukker”.

Johan ·

Matrikulante sien seker baie uit om klaar te maak, baie sterkte aan julle. Dan kan jul weer begin lewe, uit onder die departement se genadelose voete, verbrand sommer daai maskers ook.

Ebeth ·

Goeie vraestel, sien alles wat gevra is, is dit wat hulle moes leer. Goeie standaard. Geluk aan die opstellers

annie ·

Waarom ‘n vasvrawedstryd hou vir matrikulante? Afrikaners slaan ‘n mens dikwels dronk. ‘n Vraestel vir Afrikaans is nie ‘n IK-toets nie of om te kyk hoe vinnig leerders kan skryf nie. En Afrikaans is reeds by die agterdeur uit wat die regering betref. Hoeveel van die leerders sal Afrikaans nagraads wil gaan studeer?

Christine ·

Pragtige Afrikaans! Mooi so! Tyd dat ons kinders hierdie pragtige woorde leer en korrek gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.