
Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Evert Kleynhans (RooistoelTV) via UV Facebook
AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit het ʼn aansoek ingedien om die senaats- en raadsbesluit oor die taalbeleid van die universiteit ter syde te laat stel. As dié besluit gehandhaaf sou word, sou Afrikaans in 2017 nie meer as onderrigmedium aan die universiteit gebruik word nie, buiten in enkele opvoedkunde- en teologiekursusse.
Ná die hofuitspraak behou Afrikaans dus nou sy huidige posisie as onderrigmedium aan dié universiteit.
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het die hofuitspraak verwelkom en dit as ʼn “oorwinning vir Afrikaans, sy sprekers en die taalregte van Suid-Afrikaners oor die algemeen” beskryf.
“In die saak, wat op 20 Junie 2016 aangehoor is, het dit duidelik geword dat die universiteitsbestuur geen oorweging geskenk het aan die bepalings van die Suid-Afrikaanse Grondwet betreffende die reg op keuse van taal van onderrig nie, maar eerder die knie voor anargie gebuig het en in die proses ’n politieke spel as ’n taalkwessie vermom het,” het Bailey gesê.
“Die uitfasering van Afrikaans as onderrigmedium sou die regte van lede van AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit – wat Afrikaanssprekende studente, voornemende studente, hulle ouers en werknemers van die universiteit insluit – ingrypend raak. Dit word verwelkom dat hulle reg op moedertaalonderrig deur die hof beskerm is.
“Die toenemende verengelsing van tersiêre onderwys is nie alleen uit pas met internasionale tendense nie, maar maak groot inbreuk op die regte van meer as 90% van die land se inheemse moedertaalsprekers. Die argument dat Engelse onderrig groter toeganklikheid bied, is ’n mite – dit bevoordeel slegs Engelse moedertaalsprekers. Deur Afrikaanse onderrig af te skaal, word niks bereik nie, want regte kan nie bevorder word deur enigeen van hulle regte te ontneem nie.”
Bailey het gesê aangesien AfriForum en Solidariteit ook by regsaksies oor soortgelyke besluite teen Afrikaans as onderrigmedium aan die Universiteite van Suid-Afrika, Pretoria en Stellenbosch betrokke is, sal vandag se uitspraak uiteraard dié regsaksies beïnvloed. “AfriForum en Solidariteit se regspanne sal vandag se uitspraak bestudeer en aanbevelings oor verdere aksies aan die hand hiervan maak,” het sy gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
40 Kommentare
Baie geluk Afriforum! Ek is trots op wat julle bereik.
Dit is die beste dag in my lewe! !!!!!!Dankie tog Afrikaanses se grondwetlike regte is gevindikeer deur die Hof; en die opperheerskappy van die Grondwet daardeur bevestig, Yipeee!! Ek sal sommer vanaand ‘n glasie wyn (of twee) drink op ‘n heildronk vir Afrikaans! Lank lewe ons PRAGTIGE TAAL!
VIVA Afrikaans. Dankie AfriForum as dit nie vir julle was nie was ons mooi taal al lankal afgeskaal in hierdie land.
Dankie tog ons land se instansies is nog van n goeie gehalte. Dit is uiteraard n goeie dag vir afrikaans en alle moedertaalsprekers in Suid-Afrika.
Daars vir my by Unisa gesê ek mag nie meer my eposse in Afrikaans stel nie!