‘Afrikaans moet groter rol speel in hoër onderwys’

nwu-potch-puk

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die aanslag teen Afrikaans deur die regering en sy meelopers soos die vise-rektore by sommige universiteite is kortsigtig en ongrondwetlik en is duidelik ʼn poging om die taal op instellings van hoër onderwys dood te wurg, het die VF Plus Donderdag gesê.

Die Jakes Gerwel-verslag van 2002 oor taalbeleid by instellings van hoër onderwys het dit duidelik uitgespel dat daar in Suid-Afrika twee Afrikaanse, of oorwegend Afrikaanse universiteite, moet wees. Een in die noorde, en een in die suide van die land.

Suid-Afrika het tans 26 universiteite met 38 kampusse, en ten spyte daarvan dat die land se Grondwet dit in artikel 29 duidelik stel dat Afrikaanssprekendes die reg het om onderwys in hul moedertaal te ontvang, is daar tans ʼn groot aanslag teen die taal, het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, tydens die begrotingsposdebat in die parlement oor hoër onderwys en opleiding, gesê.

“By die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus is die vyande van Afrikaans nie eens tevrede met vertaaldienste vir studente wat nie Afrikaans magtig is nie. Die ander twee kampusse van die universiteit is totaal Engels.

“Enkele weke gelede tydens ʼn opedag het die rektor van die Potchefstroom-kampus, prof. Fika Janse van Rensburg, aan ouers gesê die universiteit sal veeltaligheid bevorder. By die regsfakulteit vertel die dekaan egter ʼn ander storie deur te sê in 2020 sal alle klasse slegs in Engels wees,” het Groenewald bygevoeg.

“Dit mislei die ouers en dien as bewys hoe Afrikaans stadig doodgewurg word op instellings van hoër onderwys. Studente moet ʼn keuse gegun word om te kies in watter taal hulle wil studeer. Daar is wel baie Afrikaanssprekendes wat in hul moedertaal wil studeer.”

Die VF Plus doen ʼn beroep op minister Naledi Pandor om te oorweeg of sekere universiteite nie kampusse kan hê wat wel oorwegend Afrikaans kan wees nie. Die felheid en vyandigheid teen Afrikaans by universiteite is ongrondwetlik, en die minister kan ʼn verskil maak.

“Minister Pandor het op ʼn vraag van die VF Plus oor voorwaardes vir hulp uit die nasionale studentehulpprogram aangedui dat studiehulp opgeskort gaan word aan studente wat nie hul eerste akademiese jaar op universiteit jaar slaag nie. Die VF Plus verwelkom dit, aangesien dit onregverdig sou wees dat belastingbetalersgeld vermors word op studente wat nie erns het met hul studies nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Attie

Dis ‘n mooi foto van die Ou Hoofgebou, die kandelaar-water daarvoor, maar Totius staan nie meer daar nie. Transformasie is besig om alles wat kosbaar is, te verswelg.

jaco

die Gerwel-verslag is deur ‘n sogenaamde Kleurling opgestel. hy is ook al oorlede. Soos wat regstellende aksie deesdae toegepas word, waar Kleurlinge en Indiers gereeld moet hoor “sorry no job for you because you are not black enough”, is dit net logies dat die Gerwel-verslag se aanbevelings NIE gevolg sal word nie.

Gemaskerde Sopbeen

Dis so ‘n mooi foto………en my kinders wou almal hulle foto’s daar laat neem langs Totius op gradedag……….en nou kan hulle nie, want ‘n deel van die populasie was “offended”? En toe buig die blanke Afrikaner maar weer net voor sy meester……….en gee toe, en gee in, en voel skuldig, en paai, en verduidelik, en vernietig sy eie geskiedenis…..Shame…

John

Waar val die VFzzzz nou uit… Om nou mosterd na die maal so bietjie te kla na Afrikaans-reeds-by-die-agterdeur-uit is. Is dit om darem ‘n paar stemme en rande te kry vir die paar half-dooies in die parlement na 2019. Ons kort ‘n jong party en wakker leiers. Van die leiers wat ook vir die ANC gewerk het maar nou glo navorsing doen om iets oor die probleme van die Afrikaners te leer, na aftrede (seker weer teen betaling) is gruwelik. Waar is ons jongmanne?

Be DIFFERENT

DIT IS TE LAAT om Afrikaans by die Universiteite te red . die Rektore en professore is meestal links en daarom gee hulle nie ‘n duit om vir Afrikaans nie en natuurlik moet die pensioene ook dopgehou word . baie dosente, rektore en professore is nie meer vandag se kinders nie, so hulle gaan eerder saam met die HOOFSTROOM en skreeu Afrikaans must fall want hulle weet hulle tree binnekort af, en hulle kinders het klaar studeer. Daarna gaan hulle almal in elk geval met die nuwe ‘demografiese verteenwoordigde nasie’ vervang word wat beteken die laaste bietjie Afrikaans gaan beslis… Lees meer »