Afrikaans op US bly (vir eers)

stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. Argieffoto.

Die uitvoerende komitee van die Universiteit Stellenbosch (US) se raad het Sondag tydens ʼn buitengewone vergadering ʼn mosie aanvaar waarvolgens enige moontlike toekomstige veranderinge aan die taalbeleid volgens statutêre voorskrifte moet geskied.

George Steyn, US-raadsvoorsitter, het in ʼn verklaring gesê ten minste die goedgekeurde minimum-taalaanbod in Afrikaans en in Engels sal in 2016 aan die universiteit geld. “Die Afrikaanse aanbod sal nie afgewater word nie. Indien veranderinge aan die taalbeleid in die vooruitsig gestel word, sal die proses volgens statutêre voorskrifte geskied.”

Volgens Steyn is die mosie eenparig deur die voltallige uitvoerende komitee van die raad aanvaar. “Die doel van die buitengewone vergadering was om die uitgebreide reaksie van verskillende belangegroepe op die verklaring deur die rektor se bestuurspan, asook mediaverklarings, te bespreek. Die uitvoerende komitee van die raad wou ook met die rektor se bestuurspan in gesprek tree oor die verklaring en die pad vorentoe.”

Steyn het gesê die uitvoerende komitee van die raad het groot begrip dat taal ʼn uitsluitingsmeganisme kan wees. “Aangesien die minimum-onderrigaanbod in Afrikaans en Engels slegs ná behoorlike konsultasie deur ʼn raadsbesluit verander kan word, sal die taalspesifikasies soos reeds deur die senaat en die raad goedgekeur (en in die jaarboeke opgeneem) in 2016 geïmplementeer word,” het Steyn gesê.

Steyn het verder gesê die verklaring wat deur die rektor se bestuurspan uitgestuur is, die wyd uiteenlopende reaksie van verskillende belangegroepe en dié mosie van die uitvoerende komitee sal by die geskeduleerde raadsvergadering bespreek word, maar dat daar “nie in 2015 nog veranderinge aan die taalbeleid aangebring sal kan word nie”.

Steyn het gesê die mosie wat eenparig deur die sewe lede van die uitvoerende komitee aanvaar is behels onder meer dat die huidige bestuursdokument die US-bestuur se perspektief verteenwoordig en die sintese is van hulle ondervinding van gebeure asook konsultasies met studentegroepe. “Die dokument is ’n besprekings- of gespreksdokument en nie ’n beleidsdokument nie.”

Daar is ook bevestig dat die US-raad asook die senaat reeds die taalaanbod en die implementering daarvan vir 2016 goedgekeur het. “Hierdie besluite oor die minimum-aanbod in elke taal (Afrikaans en Engels) bly onveranderd. Enige moontlike toekomstige veranderinge aan die taalbeleid moet volgens statutêre voorskrifte geskied. Dit sluit wye konsultasie met alle rolspelers in. Die gekonsolideerde dokument wat hieruit voortvloei, dien by die institusionele forum en die senaat (via onderskeie fakulteitsrade) vir hulle onderskeie insette. Soos per die statuut dien die finale dokument by die universiteitsraad vir bespreking, aanpassing of bekragtiging.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kelkiewyn ·

Dankie tog! Te midde van al die kommer oor Afrikaans as onderrigtaal wat sou moes trustaan vir Engels, het die US Raad met ‘n goed deurdagte besluit weer hoop gebring!

Louisa ·

Dis darem n brokkie goeie nuus te midde van all die ander slegte nuus.

Loeis ·

Daar is ‘n petisie vir die behoud van Afrikaans wat mense op Praag se webwerf kan ‘onderteken’. Laat ons duidsende name daarop kry asseblief!!!

Louis ·

By implikasie word die Rektor oor die vingers getik dat hy bestaande protokolle veronagsaam het!Hy behoort voor stok gekry word hiervoor .

Ronaldo ·

Klink vir my die De Villiers-kêrel het uit sy beurt uit gepraat.

Vincent ·

Uitstekende nuus, daar is hoop vir Afrikaans as ‘n tertiere onderrig taal.

Buitelander ·

Dit is nog lank nie die einde van die storie nie. Daar sal altyd probeer word om Afrikaans in die knie te dwing. Afrikaners moet weerhaftig bly en word.

Reinhardt ·

Ek lees nounet dat Wim de Villiers vir 18 jaar oorsee gebly het… g’n wonder hy’s so teen Afrikaans nie. Ook volgens die 2011 Sensus was daar aangedui dat 50% van Weskapenaars Afrikaans as eerstetaal beskou. Tog mag ons nie eers een Universiteit kry wat Afrikaans is nie.

Loeis ·

Is jy seker dis net 50%?

Wanneer dit by regstellende aksie kom wil die regering die rasse demografie laat geld. Wanneer dit by Afrikaans kom, moet daar net getransformeer word.

Dit is die demokrasie waarvoor hulle geveg het! Uhm.

AP van Schalkwyk ·

Geagte Prof de Villiers. Jy het gepraat. Jou goeie reg. Nou het jy van baie kante jou g** geskop gekry en nou nadat u tyd gehad het om die implikasies van die verandering te oorweeg, is die aankondiging slegs n gespreksdokument? Ons is toe nie heeltemaal so dom as wat gedink is nie, het ook op US studeer. Het die respons u laat dink wat werklik met US sal gebeur as u besluit uitgevoer word en daal tot die vlakke van die voorheen agtergeblewe universiteite. Sterkte en hoop dat u aftrede wat dalk gou en vroegtydig gebeur u baie tyd sal gee om te dink hoe u die saak moes benader

Andre ·

Wees gewaarsku. Alle persone wat Afr praat moet saamstaan. Die aanval op ons taal by US het net begin. Daar is maniere pm Afr te red. 1 Raak ontslae van de Villiers 2 donateurs stop alle donasies 3 pro Afr studente moet opstaan en getel word 4 petisies moet opgestel en alle Afr sprekende persone moet dit ondersteun.

Marinus Schoeman ·

Mense soos Max du Preez, Deon Meyer en Elsabé Zietsman wat so haastig was om hulle steun uit te spreek vir die US rektor se voorstel om US te verengels sit nou met eier op hulle gesigte. As mens nog getwyfel het oor waar jy met hulle staan, dan weet jy nou presies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.