Afrikaans-Vriendelik wil Afrikaanse sakewêreld bevorder

Waldimar Pelser. Foto: Rozier van Tonder

Waldimar Pelser. Foto: Rozier van Tonder

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het Donderdag tydens ʼn konferensie met sprekers soos Waldimar Pelser en Dawie Roodt die Afrikaans-Vriendelik projek van stapel gestuur wat Afrikaans wil bevorder deur erkenning en gratis bemarking aan Afrikaanse ondernemings en diensverskaffers te gee.

Dié projek behels die voortdurende uitbou van ʼn databasis van ondernemings wat in Afrikaans diens lewer. Lede van die publiek kan deur middel van ʼn webwerf toegang verkry tot die databasis wanneer hulle na Afrikaanse dienste of produkte op soek is, of ondernemings wat Afrikaans bevorder, vir insluiting wil nomineer.

Die webwerf gradeer die besighede op grond van al die wyses waarop hulle Afrikaans gebruik en uitbou.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die konferensie geopen deur te sê Afrikaans is meer as ʼn taal. “Dis ʼn identiteit. As daar nie plek vir die Afrikaanse taal in ons land is nie, is daar ook nie plek vir die mense wat dit praat nie.”

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport en aanbieder van die nuus-aktualiteitsprogram Insig op kykNET, het gesê dis normaal om te verlang na die prominensie wat Afrikaans in die 70’s en 80’s geniet het. “Televisieskedules was vol Afrikaanse stories en selfs die verpakking van kosprodukte het met Afrikaanse slagspreuke gespog. Afrikaans was die taal van die elite wat politieke mag gehad het.”

Pelser het vertel dis elkeen se verantwoordelikheid om die taal te beskerm. “Afrikaans is selde ʼn genoegsame kwalifikasie om te hê. Ons moet ook ander tale magtig wees sodat ons mag kan bekom om Afrikaans te bevorder. Afrikaans moet selfs as saketaal bevorder word – in direksievergaderings, in die verpakking van produkte en in korrespondensie.”

Dawie Roodt, direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en aanbieder van Ontbytsake, het gesê Afrikaners kan juis meer vermag omdat hulle ʼn minderheidsgroep is. “Kleiner groepe organiseer beter. Met beter organisering is dit makliker om sukses te behaal as groepe wat te groot is. Die Afrikaans-Vriendelike inisiatief kan baie positief vir Afrikaans wees.”

Henk Schalekamp, voorsitter en direkteur van verskeie maatskappye in die Solidariteit Beweging, het gesê Afrikaners is lojale mense en sal inisiatiewe om Afrikaans te bevorder ondersteun.

“Solank jou produk geloofwaardig en mededingend is, sal dit ondersteun word. Verskeie studies het getoon meer as 70% Afrikaanssprekendes is lojaal teenoor hulle handelsmerke en wil hulle kultuur behou,” het hy gesê.

Schalekamp meen die Afrikaans-Vriendelik projek is só ’n inisiatief wat ondersteun sal word.

Die Afrikaans-Vriendelik projek is gekoördineer deur Sanderien van der Walt, koördineerder van AfriForum se Afrikaans-Vriendelik-projek.

“Afrikaans-Vriendelik is nie net vir 100% Afrikaanse ondernemings nie, maar vir almal wat hulle dienste of produkte in Afrikaans aanbied. Dié platform is nie net tot voordeel van verbruikers en ondernemings oor die hele Suid-Afrika nie, maar tot voordeel van Afrikaans,” het Van der Walt gesê.

Besoek die Afrikaans-Vriendelik webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Sarie ·

Baie positiewe inisiatief. Ek sal defnitief hierdie besighede ondersteun. Kan nie wag om die webtuiste te besoek nie.

GRIET ·

Ek is trots op julle twee manne wat opstaan vir ons!! Ek skaar my by julle!!

Stormrider ·

Ongelooflik! Die inisiatief kan nie as rassisties of wit bemagtiging bestempel word nie. Die aksent is nou verskuif na die bevordering van Afrikaans- maar die doelwitte is een en dieselfde! Die regering en die massas wat so betoog teen ons taal het hulle oopgemaak hiervoor – wed jou hulle het nie hierdie angle gesien nie! Well done – ek ondersteun voortaan Afrikaanse besighede!

Alwyn ·

Ek vereenselwig my 100% met hierdie inisiatief. Verder, wat vir my werk is ek vra die persoon oorkant die toonbank of ek maar in Afrikaans kan praat. Indien die persoon my nie kan help nie gaan ek maar gemoedelik oor in Engels. Dit dien geen doel om aan te dring nie.

alida ·

Mooi so !!!! Die ander spul sal gou-gou agterkom dat hulle beter diens gaan kry by ons besighede. Jy kan by geeneen ander winkel instap en dink daar is een wat jou in afrikaans sal help nie dit is mos nou net Engels !!! Meeste van die tyd kan hul self skaars engels praat !!!

Louis Prinsloo ·

Dis baie waar, tog kan ek erken daar is nie-blankes wat my met respek help wanneer ek vrae aangaande produkte in Afrikaans vra. Seker omrede hulle my sagmoedige maar ook ferm stemtoon hoor. Plekke soos by die Thabazimbi Mall (West Pack Lifestyle), SuperSpar/Shoprite/CNA ens

Michael ·

Saam sal ons met inisiatiewe soos hierdie die aanslag op ons taal oorleef ek ondersteun waar moontlik net Afrikaanse besighede

Louis Prinsloo ·

Ek voel ook trots en baie bevoorreg om alle Afrikanse besighede te ondersteun, van lidmaatskap aan Afri Forum tot versekering in trotse Afrikaans

Andre ·

Uitstekende, sal selfs n paar ekstra kilos ry om die manne te ondersteun.

De Villiers Hauptfleisch ·

Praat te alle tye Afrikaans as jy `n winkel of enige ander besigheid besoek sonder om agressief of onbeskof te wees, want dit kan die taal net benadeel. Jy sal verbaas wees hoeveel mense agter toonbanke wel Afrikaans kan praat, al gee hulle voor hulle verstaan jou nie, veral hier in die Weskaap waar ek bly. Jy bly die kliënt en daar sal meeste tye wel iemand wees wat die taal kan praat en wat jou maar te graag in Afrikaans sal wil help. Alles sal natuurlik makliker wees as jy vooraf weet dat die instansie met wie jy wil besigheid doen wel wel `n Afrikaanse onderneming is. Ons Afrikaners is hier om te bly en ons gaan nêrens heen nie!

FW ·

Ons moet hierdie inisiatief voluit ondersteun dis ‘n wen wen vir almal

Louis Prinsloo ·

Wen wen inderdaad, dat almal sien en weet dat Afrikaans ‘n taal is vol sagmoedigheid en ferm op aksies wat nodig is.

chris ·

ek wag al lank vir so ‘n inisiatief.
glad nie verbaas dat dit afriforum is wat uiteindelik werk daarvan gemaak het nie.
sien uit daarna om die databasis van afrikaanstalige besighede te kan raadpleeg vir my verbruikersbehoeftes.
bravo!

Reinhardt ·

Dit is fantasties!! Ek beplan selfs om n afrikaanse onderneming te begin. Dit is baie goed om te hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.