Afrikaanse gemeenskap moet nou nee sê vir Engelse NWU

Hoofgebou-potchefstroomkampus

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas/NWU.

Die Solidariteit Beweging sal volgende week ʼn reuseveldtog van stapel stuur waarin die organisasie die Afrikaanse gemeenskap gaan vra om saam te staan om te verhoed dat Engels die voorkeurtaal op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus word.

Maroela Media het vroeër vandeesweek ʼn dokument onder oë gehad wat aanvoer Engels moet binnekort die primêre onderrigtaal vir alle voorgraadse, nagraadse en voortgesetteleer-klasse by al die universiteit se kampusse word. Engels moet ook die taal word waarin al die administrasie by die NWU gehanteer word. Die omskakeling moet reeds in 2019 plaasvind.

Die dokument maak wel voorsiening vir lesings wat studente in ander tale kan aflaai, asook tutoriale vergaderings in ander tale, mits die dosente genoegsame kapasiteit het. Engelse klasse kan ook wel darem in kombinasie met Afrikaans aangebied word by regte, opvoedkunde en joernalistiek omdat dit nog professionele vereistes vir die program is.

Parallelmedium-onderrig sal egter in geen klasse vir eerstejaarstudente aangebied word nie om sosiale integrasie te verseker.

Die dokument wat prof. Robert Balfour, die adjunkvisekanselier vir onderrig en leer by die NWU, op 7 Februarie opgestel het, voer in die eerste helfte ʼn sterk argument vir veeltaligheid aan.

Dit neem egter daarna ʼn skielike wending waarin die kernkenmerke van die voorgestelde taalbeleidskonsep bespreek word deur ʼn aanbeveling vir Engels as primêre onderrigmedium te maak. Dit is lynreg in stryd met elke motivering wat vroeër in die dokument vir veeltaligheid aangebied is.

Kort nadat die dokument as besprekingspunt op die agenda van die konvokasie se vergadering vir Vrydag geplaas is, het die NWU ʼn mediaverklaring uitgestuur waarin hy weereens bevestig het dat die universiteit tans ʼn nuwe taalbeleid ontwikkel, soos elke vyf jaar, en aangekondig dat ʼn konsultasieproses oor die nuwe beleid sal volg.

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU. Foto: Nico Strydom/Maroela Media.

In die verklaring gee prof. Dan Kgwadi, die visekanselier van die NWU, die versekering dat die universiteit nie uiteindelik ʼn taalbeleid- of -plan sal hê met ʼn eentalige taalvoorsiening nie.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, wat self ʼn oudstudenteraadvoorsitter, raadslid en die uittredende visepresident van die konvokasie van die NWU is, het aan Maroela Media gesê die Afrikaanse gemeenskap is moeg vir herhaaldelike beloftes oor Afrikaans wat net verbreek word.

“Daar word altyd sousies van akkommodering van Afrikaans en mooi prosesse oor ʼn aggressiewe Engelse taalbeleid gegooi. Tukkies, Maties en Kovsies het die Afrikaanse gemeenskap van enige naïwiteit gestroop. By die NWU moet ons net eenvoudig nou sê: nee.

“Niks is blykbaar nog finaal nie, maar ons het ook toegang tot die Balfour-dokument gehad. Volgens hierdie dokument moet die universiteit se onderrigtaal, ook op die Potchefstroom-kampus, Engels wees.

“Ons moet nou in ons duisende nee sê. Ons moet die universiteit se konsultasieproses voor ʼn groot toets plaas: as tienduisende nee sê, gaan die universiteit steeds vir Engelse onderrig ja sê?

“Indien dit gebeur, kan die hele proses as irrasioneel bewys word. Dit kan die grootste veldtog nog wees,” het Hermann gesê.

Volgens hom moet die Afrikaanse gemeenskap ook besef dat dit in ʼn baie sterk posisie is om druk op dié universiteit te plaas. ʼn Groot deel van die universiteit se inkomste, wat studentegeld, skenkings en bemarkings insluit, kom uit die Afrikaanse gemeenskap.

“Die sprekers van Afrikaans moet die nodige selfvertroue kry om die laaste openbare plek waar Afrikaans nog primêr op tersiêre vlak onderrig word, te verdedig.”

Hermann het gesê mense besef dit dikwels nie, maar as ʼn universiteit eers verengels, verloor dit ook sy karakter en kultuur. “Volgende sal eise kom vir die dekolonialisering van die kurrikulum, en terwyl niemand nog weet wat dit presies behels nie, word dit gewoonlik deur anargisme vereis. Die studentelewe gaan verdwyn, koshuise se name gaan verander terwyl tradisies sal sneuwel en meer sentralisering sal volg. Die resep is al by ander universiteite getoets.”

Hy meen die taalbeleid by die NWU is veel groter as net die universiteit. “Dit gaan nou oor ʼn taal wat veg vir die oorlewing van sy akademiese funksie van ʼn hoë orde wat oor ʼn honderd jaar ontwikkel is. Dit is te duur om net te laat gaan en niemand by die NWU het die reg om dit te vat nie.”

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema.

Hermann het gesê die Solidariteit Beweging sal ʼn reuseveldtog van stapel stuur om die oudstudente, studente en Afrikaanssprekendes te mobiliseer om nee vir enige besluit ten koste van Afrikaans by die NWU te stem.

“Die uitkoms van die veldtog sal ʼn inset vir die universiteit se konsultasieproses wees. Kom ons gaan dus groot sodat die konsultasieproses met ʼn vloed ten gunste van Afrikaans geskik kan word,” het Hermann bygevoeg.

Louis Jacobs, woordvoerder vir die NWU, het gesê mense moet daarop let dat die Balfour-dokument slegs ʼn gespreksdokument is wat ter tafel gelê is as deel van ʼn dinkskrum oor die saak.

“Hierdie inset van die universiteitsbestuurskomitee wat in Maroela Media se besit is, is maar net een van talle insette van alle belangegroepe wat deur die taaltaakspan in ag geneem sal word.

“Ons kan nie kommentaar op die dokument self lewer nie omdat dit bloot ʼn gespreksdokument is en daarom nie ʼn standpunt van die universiteitsbestuurskomitee verteenwoordig nie,” het Jacobs gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

61 Kommentare

Albie ·

Ai dit sal so hartseer wees as dit moet gebeur baie van ons Afrikaans sprekende ouers was so opgewonde om ons kinders NWU toe te neem omdat dit die enigste Univ is wat omgee vir Afrikaans maar lyk my ons is verkeerd. Ek hoop regtig uit my hart uit ons kan NWU behou as Afrikaans Univ. Dit was die beste ervaring wat ons beleef het toe ons my dogter Potch toe neem Jan 2018 as 1ste jaar student en ons kom by winkels aan en die swartmense praat die mooiste Afrikaans en die vriendelikste mense op Aarde dit was so wow wow wow 1000 keer wow. So ons moet saam bid en saam staan asb vir Afrikaans

Adri ·

Hoe jammer dit ookal mag wees, glo ek dat hierdie optrede te min, te laat is. Die bestuur van die PUK het lankal handdoek ingegooi en ons almal mater is vir altyd verlore. Die liberaliste is aan bewind en steur hulle nie aan ons gespartel nie.

Selfbeskikking ·

Die liberales kan gaan swot op enige u iversiteit in die land, nou vat hulle puk ook, fokus alle aandag aan selfbeskikkingsonderhandelings, daar is regtig geen ander keuse meer oor nie, ons verloor tot ons heel laaste universiteit nou. Nee, kom ons regeer onsself, ons sal baie meer suksesvol wees as die gesukkel in hierdie af land.

Willem ·

Wie is die soganaamde “liberales” of “liberaliste” waarna mense so graag in die kommentaar gedeeltes verwys? Is dit kode vir mense wat ‘n groter langtermyn prentjie verby slegs nou Afrikaner groepsbelange kan insien?

Selfbeskikking ·

Die groter pre tjie is dat Afrikaners nou doelbewus doodgedruk word. Vir wie se ‘groter’ doel is dit Willem? Wie wen daarby? Beslis nie ons nie, en dis natuurlike reaksie vir enige groep wat uitgedruk word om te reageer.

zoom zoom ·

Verander van afrikaans ns engels gaan gebeur. Kyk maar wat het by die ander universiteite gebeur.

Adam ·

Ek stem saam. Laat die studente maar in Engels studeer sodat hulle “markgereed” vir die internasionale mark is. Ons universiteite se standaarde is besig om in die grond in geploeg te word. Ons as Afrikaners sal ons taal lewendig hou en ons het waaragtig nie ‘n klomp slap akademici nodig om ons daarmeee te help nie.

Knoffel ·

As daar geen Afrikaanse universiteite meer is nie, is daar geen regverdiging vir Afrikaanse skole nie.

Gerhard ·

Dit sal net die begin wees van die einde van Afrikaans. Moenie die bog glo dat Afrikaans lewend gehou kan word in die kombuis nie.

Haan ·

Engels het reeds meeste van die inheemse tale van Afrika verswelg. Dit is uit jaloesie wat hulle Afrikaans nou ook wil kelder. Ons moet sterk staan, en n daadwerklike poging aanwend om suiwer Afrikaans in die volksmond te hou. Dit is immers die mooiste taal in die wêreld.

Nic Grobler ·

Maroela, sal julle ons op hoogte hou van die proses – voorleggings vir ondertekeng ens.?

Susan Lombaard ·

Nic – ons sal beslis so maak. Groetnis, Susan Lombaard (nms Maroela Media)

Soet is die stryd ·

I.D. du Plessis
“Julle sê die stryd is verlore
Ons nasie te arm en klein
Ons taal uit ‘n drang gebore
Wat een van die dae sal verdwyn?

My broer dit mag heeltemal waar wees.
Wie weet wat die toekoms gaan baar
Miskien moet ons oormôre klaar wees
Om weer hierdie droom te laat vaar.

Maar as ons net altyd moet strewe
Na wat tot oorwinning gaan lei,
Wat baat dan die stryd van die lewe
Waarin ons onseker moet bly?

Solank jou bedoelings maar goed is,
gaan jy jou oor neerlae kwel?
Solank jy volhard en vol moed is –
is tog die probeerslag wat tel!

Nee, soet is die stryd vir die stryer,
want hy het ‘n roepstem gehoor;
Maar die man wat sy deelname weier
Is die man wat sy nasie vermoor.”

Oud PUK ·

Ek het al seker 12 maande? terug op hierdie forum geskryf dat intere dok op Potch gesirkuleer word dat alles in Engels moet geskied, beginnende met interne eposse tussen (Afrikaanse) personeel ens.
Ja Louis, dink jy ons is stoopid, ‘n gespreksdok is die begin van ‘n besluitnemingsproses.
Dankie tog Totius is geskuif, dink julle moet maar ‘n standbeeld van CJR langs Lenin s’n oprig.
Persoonlik het ek gedurende die loop van 2017 my bande met my ou Alma Mater verbreek, die laaste strooi was die nuusbrief se inhoud van so paar maande terug.
Ek dink energie moet nie hierop verspil word, Dan G se aanstelling begin nou vrugte dra. Tyd om alle bronne in Afrikaans-vriendelike instansies te stort.

OopOë ·

Daar is bewegings gewees om Totius se standbeeld te behou by NWU, Desember toe daar geen studente op kampus is nie word Totius geskuif na n onbekende staanplek. Daar is vir ons gevra om te stem oor die NWU se kleure en Desember toe daar geen studente op kampus is nie verander die kleure na pers ten spyte van die oorgrote meerderheid wat daarteen gestem het. As die taalkwessie naby Desember maand bespreek word, vrees ek vir Afrikaans… Interessant hoe slinks NWU bestuur is dat hulle net veranderings aanbring wanneer niemand daar is om hulle tee te staan nie….

Oud Puk ·

Potchefstroom is die laaste kampus wat nog Afrikaans gebruik vir tersiêre onderrig. As ons hier faal is die stryd verlore. Asb mense neem deel, sê nee vir Engels op die Potchefstroom kampus. Ons het ‘n plig om ons taal te beskerm.

jaco ·

dis net wit afrikaanssprekende mense wat kla oor alles verengels. ek sien nooit afrikaanssprekende kleurlinge kla oor alles verengels nie. Wit mense wat so oor alles kla, moet oppas. uiteindelik word alle wit mense, ook die wat stilbly en oor niks kla nie, gestraf met die beskuldiging dat ons “reaksionêr” en “anti-transformasie” is.
Dis wat in Zimbabwe gebeur het: vir 20 het wit mense daar stilgebly oor amper alles en Mugabe se ooreenkoms met hulle was dan ook: julle bly uit die politiek en dan sorg ek vir julle. hulle het lekker gelewe, totdat n minderheid onder hulle begin geld gee het vir die MDC. Mugabe het hom vererg en al die wit boere weggejaag. In SA gaan dit BAIE meer wees as net wegjaag.
Al hierdie gekla oor alles verengels is in elk geval baie vreemd vir my: verstaan wit afrikaanssprekendes dan nie Engels nie? Ek was in die ou SA in ‘n Afrikaanse hoërskool met ‘n groot Broederbonder as skoolhoof. MAAR engels was ‘n VERPLIGTE vak tot op matriekvlak. So die skielike gekla oor Engels is baie vreemd.
Wees eerder bly die algemene spreek, onderrig en besigheidstaal word darem met ‘n “wit” Europese taal vervang (Engeland waar Engels ontstaan het is tog in Europa) en wees ook bly alles het nie na Zulu of Tswana verander nie.
Terloops, ek sien nerens dat sprekers van swart Suid-Afrikaanse tale kla oor alles verengels nie.

Cj ·

Ai Jaco jy mis die punt, Afrikaans kom al n lang pad en as jy nie weet dis baie meer as net n taal dan is dit dalk beter dat jy hou by engels praat.jy is reg ander Suid-Afrikaners anvaar engels want dalk het hulle geen trots in hulle taal nie.Niemand stop hulle om n Zulu of Tswana skool of universiteit te bou nie.Ek sal graag wil weet waarvoor moet WIT mense oppas? Of bedoel jy dalk wit afrikaanse mense want jy kry ander rasse wat ook wit is…

Haan ·

Hoekom skryf jy dan jou kommentaar in Afrikaans? Kan mos net sowel nou al begin gewoond raak aan die rooitaal of hoé? Verstaan jy die konsep van n “vlooi oorlog”
Klein happies hier en daar, verower op die ou end die slagoffer totaal. Besef jy die voorreg van n ryke taalerfenis? Besef jy die noemenswaardigheid van n jong taal soos ons s’n, wat sy man kan staan op akademiese en wetenskaplike vlak? Besef jy die PUK is die laaste ware Afrikaanse universiteit? En hier praat jy van kruip… Basta met dit. Ons is moeg gekruip

RM ·

Niemand het die reg om ‘n ander se Kultuur net weg te stroop.

Ontnugter ·

Lekota is die enigste wyse man uit die CODESA-era wat baklei vir die behoud van die grondwetlike beginsels waaroor onderhandel en saamgestem is, en wat nie nou net oorboord gegooi kan word nie. Ek kry by die dag meer respek vir daardie leier se integriteit. Dalk moet die minderheid met hom in gesprek tree oor die moontlikheid van selfbeskikking, of hoe hy sou voorstel dat die fundamentele regte wat verskans moes wees, nog beskerm kan word, in die mate wat dit nog nie heeltemal gestroop is nie.

Ina ·

Is hierdie maar net weer ‘n kamma-konsultasieproses soos met die universiteit se kleure? Want ons weet dat die meerderheid betrokkenes in daardie konsultasieproses vir die swart met die kleure van die onderskeie kampusse gestem het en tog het ek in die afgelope week in ‘n gradeplegtigheid gesit waartydens die verhoog met identiteitloosheid (en met verskillende skakerings van pers en turkoois) geskitter het. Maar ek kon dit sluk want daar is darem nog Bybel gelees en gebid, en daar is nog Afrikaans gepraat (afgewissel met Engels). Maar wat gaan gebeur as die konsultasieproses hierdie slag maar weer net deel is van ‘n blufspel?

Fiefaai ·

Konsultering is ‘n mooi woord, maar dit beteken niks nie. Waarop ons nou moet aandring, is inspraak – en ‘n referendum. Die NWU word deur ‘n sestal mans met ‘n baie duidelik agende regeer. Wat in die regering gebeur, is presies wat by die uni gebeur. Dis tyd dat die Afrikaners wat die voedingsaar van die NWU is, begin saamstaan. Engels is nie ‘n probleem nie, solank dit nie ten koste van Afrikaans en ander tale alle vlakke van die NWU oorneem nie.

Ouer van 'n PUK ·

Ek was ook by my dogter se grade plegtigheid die week en dis nogal werklik hartseer hoe min waardigheid daar in die pers steek. Dit is beslis nie die kleur van ‘n akademiese instelling nie. In werklikheid lyk dit net stupid. Iets om mens naar te laat voel.
Dalk maar die graad in swart en wit fotostateer en ophang…

Wag maar vir Desember om aan te breek dat die agterbakse agenda tot uitvoer kan kom.

Was dit CP Hoogenhout wat gesê het Engels! Engels! Alles Engels
Engels wat jy sien en hoor;
In ons skole, in ons kerke,
Word ons moedertaal vermoor.

Johan Genis ·

Ek lees die kommentare oor die kwessie van moedertaal onderrig. Ook oor die reuse aksie wat daarom beplan word. Dit lê my ook na aan die hart, maar ek vra myself die vraag: Hoekom? Ek sit sowat ‘n week gelede in ‘n koffiewinkel in ons inkopiesentrum p Potchefstroom. Ek kon nie help om te hoor wat die vier student gesels by die tafel langs myne nie. Die gesprek het min of meer so verloop. “Die verkeer is ‘hectic’ vandag, kon amper nie ‘parking’ kry nie. Ek moes ink vir my ‘printer’ kry en toe die meisie by die ‘till’ my kaart ‘swipe’ wou dit nie deurgaan nie. Jy moes die ‘attitude’ sien wat sy my gooi en die ‘lip’wat sy my gee. My pa het vergeet om my geld in te betaal.” “Sjoe! dis ‘gross’ ou. “Ja ek was so embarressed’ ” “Het jy die nuwe ‘print’ op die ‘t-shirts’ in Woolies gesien? Dis ‘awesome'”. “Ek vat Sonja vannaand op ons eerste ‘date'”. “Wow dis ‘great’, ou”
Nou wonder ek as die student wat nou die kern van hierdie emosionele, patriotiese saak is, sy moedertaal so onder sy/haar voete vertrap, waarom al die moeite? Ek vra maar net.

Frikkie Geld en huis ·

Sal dit nie tot voordeel van Akademia wees nie ?? Die een se dood is die ander se brood.

Oud Puk ·

Frikkie, dit mag wel wees, maar Akademia het ‘n baie beperkte aantal studierigtings. Verder verleen die model hom nie tot ‘n volle studente ervaring nie. Om op n kampus soos die PUK te studeer vorm denkwyses wat andersins ontbreek.

Jacques Venter ·

Ek is harstogtelik lief vir my taal. Sou dit verdwyn sal die nageslag nie na behore N P van Wyk Louw of Breyten verstaan nie.

Die waarheid is egter dat Afrikaans as onderrig taal gaan verdwyn al hou ons nie daarvan nie. Eers op universiteite en dan op hoërskole.

Wat staan ons te doen?

Sorg dat jou kind goed Engels magtig is voor hy/sy universiteit toe gaan. Anders gaan die berg te steil wees

Callie ·

RM, hulle het totaal die reg om afrikaans uit alle onderrig te verwyder. Hulle het die reg verdien met plaasmoorde, moorde, afbrand van alles waarvan hulle nie hou nie en om alles te vernietig. Hulle het die reg verdien oor die wit, afrikaans sprekendes te ruggraatloos is om op te staan. Hulle verdien dit want die wit afrikaner sal op die rusbank sit en kommentaar lewer maar hy sal nie sy agterent lig om daarteen te veg nie. Kry vir julle wittes. Julle het geen trots oor nie

hendrik ·

Maar Callie, Waar was jy dan toe daar geveg moes word? Jy kon mos inisiatief geneem het nie waar nie. Maar nee, jy verkies om hier te skel soos n dronk mens!

Willem ·

Geen rektor en geen woordvoerder van enige van die voormalige Afrikaanse universiteite het meer enige geloofwaardigheid oor wanneer uitsprake gemaak word oor taalbeleid en die toekoms van Afrikaans daarin nie. Kommerwekkend is die bedenklike rol (aktief of passief) wat sommige Afrikaanssprekende Raadsvoorsitters, raadslede , rektore, bestuurslede, senaatslede en lede van die dosentekorps in die verengelsing van hierdie universiteite gespeel het. Die alumni het weerstand gebied maar is net eenvoudig uit die pad gevee.
Die beproefde resep wat by die ander universiteite suksesvol was word nou ook hier in werking gestel. In werklikheid is hierdie proses al lankal teen ‘n laer intensiteit aan die gang, maar kry dit nou net meer momentum. Die modewoorde is inklusiwiteit, sosiale integrasie, transformasie, dekolonisasie en uiteindelik weerspieëling van die demografie van die nasionale bevolking.
Die veldtog wat Solidariteit in die vooruitsig stel is waarskynlik die laaste loopgraaf en verdien die daadwerklike ondersteuning van alle Afrikaanssprekendes wat nog enigsins omgee vir hul taal. Ek wil graag glo dat daar nog genoeg sulke mense oor is om van hierdie aksie ‘n sukses te maak. Skuif ‘n slag politieke, ideologiese, kleur en ander vooroordele opsy en staan saam ter behoud van ons gemeenskaplike moedertaal.

Jan Kruger ·

Dit sal werklik tragies wees indien die PUK ook verengels. Maar tog het daar nog onder Theuns Eloff iets erger gebeur toe die PUK sonder enige teenstand sy Christelike vaandel onder druk gestryk het.

Enige weerstand moet uit ons christelike beginsel basis gevoer word want as die HERE die stad nie bewaar nie tevergeefs waak die wagter.

Is Solidariteit te vertrou as hulle slegs bekommerd is oor Afrikaans terwyl hulle geskitter het in hulle afwesigheid toe ons vir Christus moes opstaan toe Theuns en kie oor gegee het sonder enige weerstand.

Hulle het vir Theuns so hoog geag dat hy die gedenkplaat by Soltech in Pretoria-Wes onthul het.
Vreemd.

Leonard van der Dussen ·

Jan Kruger stel ‘n belangrike saak, of ons net besig is met menslike politiek en sentiment, en of ons besig is om die God wat hemel en aarde gemaak het en aan wie alles behoort, in alles wat ons doen te eer en Sy Woord te verkondig.

Die geskiedenis van Afrikaans en die Afrikaner se verbondenheid en die verweefdheid van sy volksgeskiedenis met kerkgeskiedenis wys dat Afrikaans sonder Christus betekenisloos is. Dit beteken nie die protes vir Afrikaans moet nie gebeur nie; dit beteken wel dit moet saamgaan met ‘n kragtige aandrang en verkondiging dat die christelike karakteter moetr ook herstel moet word. Daarsonder sal ons met blote mensewerk besig wees wat geen krag of nut het nie.

Oom Kalahari ·

Afrikaanse taal, kultuur, geskiedenis, Godsdiens, standbeelde het tot ‘n val gekom. Hoekom??? Omdat ons as minderheids groep geklassifiseer word en met insypeling van massas uit Noord Afrika wat burger regte in miljoene bekom sal die handjie vol blankes nie vir lank bestaan met al die misdaad, jagtog, verkleinering, ontneming van lewens regte en vertrapping. Ons leef volgens God se woord met een man en vrou, andere eien hul die reg toe tot meerderheids vroue en magdom kinders. Daar sal later net gepraat word van “Daar was ‘n Afrikaanse Nasie wat uitgesterf het” ons bid jul sterkte toe NWU.

cindy ·

As ek nie engels op skool as tweede vak gehad het nie, het ek nêrens gevorder in my beroep nie. Kom by. Kom oor dit. Ons was die taal geleer deur die regering. Ons moes die taal gebruik in die werk. So beweeg voorentoe. Hou kultuur maar in jou hart, want hier gaan jy nie wen nie. Al is Afrikaans ‘n taal wat ander haat, hul haat net hulself. Help jouself om ten minste vooruit te kan beweeg as jy wil besigheid doen met ander lande, terwyl jy dalk kans kry, want robots praat AL die tale.

Gerhard ·

Glo jy regtig dit gaan stop by Afrikaans afstel by alle instellings, want ek is bevrees as jy is sit jy die pot ver mis. Dit is maar net die begin

ontnugter ·

Hoera. Dis goeie nuus. Afrikaners verdien nie hulle eie taal nie. Ons moet aanhou doen dit waarmee ons briljant is. Afstig, skinder, ander aftrek wat uitstyg ens. Los eie tale aan nasies wat dit verdien.

Johanna Botha ·

Wat bly nog oor …net n gebreekte sa vol misdaad en onsekerheid ! Wigte en teen wigte werk baie mooi ne

landi ·

Ons middel klas ouers betaal harde kontant elke maand van ons lewe. Nog nog een sent verniet gekry. My dogter is 3de jaar. Wie gaan oor haar of al die gelde wat ons betaal het worry as sy nou in engels moet klas draf en eksamens skryf. Maak my siek dat ons kinders al die kostes moet dra en hulle kry alles verniet en met al hulle voorkere.

Callie ·

Presies wat ek bo genoem het. Kop in die sand. Praat los praatjies. Nie een wat vra nou kom ons staan saam nie. Ons wittes is nie net ruggraatloos nie, ons is openlik in ontkenning daaroor. Liewe hemel, niks behalwe totale uitwissing is julle voorland

Pottie ·

Dit is baie hartseer hoe ons goeie opvoeding en waardes wat ons verhoed om rommel te strooi en bande te brand ons uit n posisie hou waar ons gehoor kan word oor kwessies wat ons as afrikaansprekendes na aan die hart le.

N universiteit moet tog n gemeenskap dien en afrikaans is steeds n gemeenskap en met slegs een universiteit oor wat na ons belange omsien n baie groot gemeenskap wat graag van so n wonderlik instelling sal gebruik maak.

Afrikaanse Skot ·

Ek het Afr ma en Skotse pa gehad so tenvolle tweetalig grootgeword. So het niks teen Engels nie. Ek kon egter kies in watter taal ek wou gaan studeer en het Afr gekies, want dit was en is vir my die taal waarin ek myself die gemaklikste kon uitdruk en dink. My man en kinders is Afr en my kinders wil in Afr studeer. So Potch ons keuse vir volgende jaar. Wat ek nie verstaan nie, is dat NWU reeds 2 Eng kampusse het, Mafikeng en Vaaldriehoek. Hoekom nou Potch kampus ook Eng maak? As iemand by NWU in Eng wil studeer kan hulle mos na daai kampusse gaan!

Waarom ·

Ek ht ook my seun in Jan 18 afgelaai by NWU. Toe ek hoor di naam, kleur is al verander en tydens di opening is baie Engels gepraat was my woorde, een vd dae is dit nt Engels. En hier gebeur dit. Ai toggie

Frankie ·

My ‘stoere Boer’ onderwyser ouers het hulle horende doof gehou vir al die kritiek van familie en vriende, en my en my sibs in die ’70, na Engels medium skole gestuur.

Ons is my ouers ewig dankbaar want ons almal het nou sterk loopbane in die buiteland – iets wat nie sou gebeur het met gebroke Engels of selfs net ‘n swaar Afrikaanse aksent nie.

Alles in my huis is Afrikaans – net soos wat dit in my ouerhuis was.

My kinders is omring deur Afrikaans. Musiek, boeke,tydskrifte, my tafeldoeke het Afrikaanse woorde op! Hulle praat, lees en skryf Afrikaans by die huis.

Een keer ‘n maand kom 5 Afrikaanse gesinne in my vriendekring bymekaar vir ‘n braai en ‘n Afrikaanse film kyk. Ons het almal geld bymekaar gesit en ‘n mini projektor en skerm gekoop. Meeste aande sit ons buite op die gras en Afrikaanse films kyk.

My kinders is in ‘n plaaslike, internasionale Engels medium skool met Mandarin as tweede taal.

My 16 jarige dogter is ‘n gemiddelde student maar kan ( nes die meerderheid, meestal swart, 16 en 17 jarige kinders in haar skool) vlot Mandarin praat en met gemak Mandarin lees en skryf.

Sedert Januarie is my dogter alreeds twee keer genader vir onderhoude deur twee bekende Autraliese myn comp – vir ten volle betaalde, 4 jaar universiteits beurse in Australië of China – spesifiek omdat sy Mandarin magtig is.

Laat my net weereens besef hoe tale, deure vir jou oop – of toe kan maak.

Anton ·

Ditsem Frankie! Pragtig om te hoor van julle daar in die buiteland. Julle is n goeie voorbeeld van hoe n taal lewendig gehou word. Die ouens hier in ZA moet nog leer Afrikaans was en is nog altyd self-doen en nie n staatmaak op die regering taal nie!

Arno Venter ·

Ons nodig opleiding sodat ons jeug weet hoe om optogte te hou, ons jonges weet bleik my nie hoe om ons standpunt te wys nie. Ons laat bloot sake vir ons besluit word. Dis tyd dat ons in getalle ons mening wys, sonder dat vir ons gesê word ons mag net by sekere mates hou, want die media keur dit nie goed wanneer wittes banniere dra en slagspreuke gebruik nie. Dis twak! Vanaf die Europeers kan ons leer, en uit geskiesenis kan ons leer, wanneer optog gehou word doen jy als tot jou vermoe om gehoor te word. Dit is tyd, en ons nodig n opsweep vir die jeug, AfriForum, VF+, AWB, Suidlands, wie gaan ons help??

Karen ·

Is dit so belangrik om jou eie kultuur te behou teen die progressie van jou kind? Genade, die wereld van werk is nie Afrikaans, Tswana of Zulu nie. Dit is Engels. Die handboeke wat julle kinders gebruik is ENGELS, en die aandrang op Afrikaanse klasse veroorsaak dat konsepte en begrippe oor en oor verduidelik moet word. Kinders leer in Engels en skryf eksamens in Afrikaans want dis vir die ouers belangrik om hulle kultuur te behou…….As ons maar so kultuur vas was oor alle dinge van belang in die land.

Anton ·

Dit gaan wees dat NWU engels word. Wel wat staan die Afrikaanse student te doen? Vorm Afrikaanse studiegroepe. Loop die klas in engels en skryf die eksamens in engels maar staan saam as Afrikaanse studente in studiegroepe ensovoorts. Alma mater moet opstaan en help by studiegroepe ensovoorts deur ondersteuning en n ondersteunings struktuur te bou wat dit aan Afrikaanse kinders bied. Afrikaanse alma mater ensovoorts moet hul geld onttrek van die universiteit en eerder dit bele in bogenoemde ondersteunings strukture. Dit als totdat privaat Afrikaanse univ op die been is. Ongelukkig is die bestaande univ staatsinstellings en kan ons niks se nie want hulle wil nie hoor nie. Die enigste is om ons eie univ privaat te bou.

Gerhard ·

Dit gaan nie gestop word nie mense. Begin aan Orania werk, voor dit ook te laat is.

Antoon ·

Reeds in 1999, toe dit nog die PU vir CHO was, is ons Hons-graad se klasse net in Engels aangebied om 2 persone, wat voorgraads hul klasse in Afrikaans ontvang het, te gemoed te kom….
Verlede jaar het ek my Meesters gedoen. Geen van my klasse of notas of korrespondensie was in Afrikaans nie – als was Engels.

Gerhard ·

In Afrika beteken aanbeweeg eintlik assimlasie in n Afrika kultuur,. Dit is nie vooruitgang nie, maar agteruitgang.

Johann Odendaal ·

Engels as voertaal?

Ek het vir 10 jaar lank Suid-Sotho gegee vir moedertaal sprekers.
Vista universiteit – en Suid-Sotho en Zoeloe na-uurs by UOVS.

Ek het formele opleiding in Afikaans, Engels, Duits, Frans; en Suid-Sotho en Zoeloe was my hoofvakke.

Callie ·

Hendrik, ek is een van die ouer geslag. Ek was daar. As jy weet wat dit beteken. Ek is trots blank en Suid Afrikaans. Ek is trots op wat ons daardie jare in die SAW bereik het. Ons weet hoe voel die bitter droe smaak van die dood in jou mond. Ons geslag wil nie oorlog maak nie. Ons weet net ons moet nou opstaan en wys daar gaan nie net oor ons geloop word nie. Dit moet in elke ou dorpie gebeur en groei. Ophou om alles en almal te verwyt. Ruggraat kry en vasstaan. Glo my. Ons kan nie

Casper Labuschagne ·

Ons moet probeer, maar ons moet nog net harder werk aan plan B, plan C, plan D, plan E, plan F ens. Eerste probleem is dat ons nie die universiteit besit nie, die meerderheid besit die universiteit. Op ‘n tyd was die Pu vir CHO ‘n meerderheid Afrikaanse universiteit, maar is saamgevoeg met verskeie ander kampusse en nou word na die belange van die meerderheid omgesien. Ons kan vandag veg en wen, volgende week veg en wen, die daaropvolgende week veg en weereens wen, maar ons hoef net een keer te verloor teen die meerderheid, en dan is Afrikaans vir goed weg. En daardie meerderheid word deur ‘n beplande populistiese opstokery gedryf teen Afrikaans en as hulle in die hof verloor vat hulle die geveg eenvoudig straat toe.

Akademia is ‘n goeie begin, maar ons het nog werkbare planne nodig.

Selfbeskikking ·

Die beste manierom ons eie universiteit te he is om ons eie land te he, en noudat hulle ons grond wil gryp moet ons uitruilonderhandelinge begin om ons eie land te kry. In ons eie land sal ons ons reg van onderrig in eie taal uit te oefen sonder inmenging.

Paul Krüger ·

Vanoggend (Maandag) het die NWU oor die radio skadebeheer probeer toepas. Moenie julle laat flous nie. Soos met die nuwe statuut en nuwe korporatiewe identiteit (PERS), is dit ‘n oëverblindery. Die nuwe bestuur van die NWU stel nie werklik in konsultasie belang nie, maar het reeds alternatiewe planne op tafel oor die taal, waarby die konvokasie en alumni nie insette kon lewer nie. Die proses is al ver heen. Die implementering van die “wye” plan sien ons al op die kampus, waar alle vorms en korrespondensie in Engels is en ons vergaderings in Engels moet hou (sonder tolking). Daar is gepoog om Saterdag se Konvokasievergadering eensydig in Engels te laat plaasvind. Die registrateur se verskoning was dat dit is soos dit in die land gaan. Baie teleurgesteld in die opmerking. Ek was daar.

Paul Krüger ·

Vanoggend (Maandag) het die NWU oor die radio skadebeheer probeer toepas. Moenie julle laat flous nie. Soos met die nuwe statuut en nuwe korporatiewe identiteit (PERS), is dit ‘n oëverblindery. Die nuwe bestuur van die NWU stel nie werklik in konsultasie belang nie, maar het reeds alternatiewe planne op tafel oor die taal, waarby die konvokasie en alumni nie insette kon lewer nie. Die proses is al ver heen. Die implementering van die “wye” plan sien ons al op die kampus, waar alle vorms en korrespondensie in Engels is en ons vergaderings in Engels moet hou (sonder tolking). Daar is gepoog om Saterdag se Konvokasievergadering eensydig in Engels te laat plaasvind. Die registrateur se verskoning was dat dit is soos dit in die land gaan. Baie teleurgesteld in die opmerking. Ek was daar.

DD ·

Jaloesie is ‘n vieslike ding…..né ANC!!!!!!
Moet sê julle het baie slim te werk gegaan. Vat net so ‘n bietjie op ‘n slag van onse Afrikanergeskiedenis. Te min dat te veel van ons gaan kla. En voor ons ons oë uitgevee het, het julle alles oorgeneem/verander!!!! Baie slim!!!!

Patriot ·

Nou dan moet ons studente maar ook toi toi en tyres brand en alles ontwrig. Dit werk vir swart studente.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.