Afrikaanse gemeenskap ‘moet nuut dink’ oor werkende ma’s

werkende-mamma-baba

Foto: TheLittleShopper/Colouritbright.com/

Die Solidariteit Navorsinginstituut (SNI) het Woensdag met die bekendstelling van ʼn demografieverslag oor die getalle van Afrikaanssprekendes en Afrikaners in Suid-Afrika gesê dit is kommerwekkend dat dié bevolking nie genoeg kinders kry om die plaasvervangingskoers te ewenaar nie.

“Alhoewel daar tekens van herstel is, is ʼn dalende geboortekoers ʼn wêreldwye tendens in welvarende gemeenskappe. Om weer die plaasvervangingskoers van 2,1 kinders per vrou te haal, moet nuut gedink word oor hoe die werkplek en die Afrikanergemeenskap werkende ma’s beter kan tegemoetkom,” het Connie Mulder, hoof van die navorsinginstituut, gesê.

Die SNI se demografieverslag het getoon dat wit Afrikaanssprekende vroue geneig is om hul kinders tussen die ouderdom van 30 en 35 te hê met ʼn gemiddeld van 1,6 kinders per vrou.

Luidens die verslag het ʼn geboortegolf die Afrikaanse gemeenskap getref wat getoon het bruin en wit Afrikaanssprekendes kry deesdae weer meer kinders. Hierdie “babaploffingkinders” moes teen vanjaar (2018) skoolgaande ouderdom bereik het.

Die hoë getal geboortes is egter nie genoeg om die stagnasie in Afrikaners se absolute getalle te keer of die sistematiese afplatting wat daarmee oor die volgende 25 jaar gepaardgaan, te verhoed nie.

Dit strook met die tendense in ander Westerse lande waar die middelklas minder kinders het. Die afname in die getal van kinders kan ook toegeskryf word aan (toenemend) meer vroue wat die arbeidsmark betree, hul hoër opleidingsvlakke en omdat vroue langer wag voordat hulle begin om kinders te kry. Daar is in Europa met verskeie inisiatiewe gepoog om hierdie probleem te probeer oplos, maar dit het tot dusver gemengde welslae gehad.

“Die primêre faktor waaraan aandag gegee moet word, is hoe om die finansiële las van kinders in ʼn middelklashuishouding te verminder en dit makliker vir ʼn vrou te maak om ʼn werkende ma van twee of drie kinders te wees,” het Mulder gesê.

Opsies wat oorweeg kan word om die Afrikanerbevolking aan te moedig om meer kinders te kry, is om werkplekke meer mavriendelik in te rig, ma’s toe te laat om fleksietyd te werk en gesubsidieerde kleuterskole of dagsorg te verskaf.

“Die moderne werkplek het nog nie aangepas by die influks vir werkende vroue se behoeftes nie,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Hy het ook aanbeveel dat kerke dit moet oorweeg om hul geriewe gedurende die werkweek in kleuterskole te omskep.

Verengelsing

Die verslag het ook die toenemende verengelsing onder bruin Afrikaanssprekendes as ʼn besonderse probleem uitgewys wanneer daar na die oorlewing van Afrikaans gekyk word.

“Alhoewel die bruin Engelssprekende bevolking se geboortekoers aansienlik laer is as dié van die bruin Afrikaanssprekende bevolking, het bruin Engelssprekendes tussen 2001 en 2011 proporsioneel tot die totale bruin bevolking toegeneem. Dit dui daarop dat bruin mense hul voorkeurtaal van Afrikaans na Engels verander teen min of meer dieselfde tempo as wat wit Afrikaanssprekendes tans emigreer,” het Mulder gesê.

Hy het gesê meer geleenthede vir mense om in Afrikaans te studeer en te werk behoort dié tendens te kan bylê.

“Dit beteken wel dat die aanslag van die regering teen Afrikaans-onderrigmedium tans teëgewerk moet word, indien die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap se verengelsing gekeer wil word.”

Ouderdomsverspreiding

Nog ʼn kommerwekkende aspek wat in die demografiestudie uitgewys is, is die vinnige veroudering van die Afrikanerbevolking.

Mulder het gesê dit impliseer dat daar in die komende jare meer maatskaplike druk op kinders gaan wees om vir langer na hul ouers om te sien.

“ ʼn Ouer bevolking het ook groter gesondheidsorgbehoeftes en gevolglik gaan gesondheidsorg ʼn groter kwessie vir Afrikaanssprekendes en veral vir Afrikaners raak.”

Mulder meen veroudering kan egter ook positief aangewend word.

“Die groot aantal mense wat reeds uit die arbeidsmark getree het, maar nog gesond genoeg is om aan ekonomiese aktiwiteite deel te neem, skep geleenthede vir die oordrag van kennis. Entrepreneurs kan hierdie mense ook op ʼn kontrakbasis en as konsultante in diens neem.”

Relatief tot Suid-Afrika

Die SNI se demografieverslag het getoon dat, alhoewel die Afrikaanse bevolking in absolute getalle toeneem en die Afrikanerbevolking se absolute getalle stagnant bly, krimp beide bevolkingsgroepe relatief tot die land se totale bevolking.

“Dit is belangrik dat kultuurorganisasies en ander instellings wat op die Afrikaanse en Afrikanermark gemik is, hulle nie te veel steur aan watter persentasie van die bevolking hierdie twee groepe uitmaak nie. Alhoewel die persentasie Afrikaanssprekendes en Afrikaners proporsioneel tot die Suid-Afrikaanse bevolking krimp, groei die onderliggende bevolkingsgroep inderwaarheid of dit bly dieselfde,” het Mulder benadruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

38 Kommentare

jongste oudste gewildste
Se maar net

Askuus om in die land en in tye van nou kinders te he is soos om jou keel af te sny. Daar is nie werk in eerste plek nie. Tweedens die opvoeding is pateties. Derdens misdaad vat oor. My raad bly dan maar sonder hulle

Linda

Die werkwoord hier ter sprake is “gesinsbeplanning”. Meeste middelklas paartjies wat ek van weet neem deesdae die bewustelike besluit om nie kinders te he weens ‘n verskeie reeks faktore – waarvan finansies waarskynlik die grootste is. Vrae word gevra soos: sal ons genoeg geld he om ons kind/ers skool toe te stuur, vir buitemuurs, dalk nog universitieit toe ens… die kostes is astronomies as jy gaan sit en bymekaartel. Daarteenoor vind jy ook diegene uit ander rasgoepe weer meer geneig is om NIE sulke faktore in ag te neem, wat gewoonlik tot ‘n string kinder lei wat gevolglik deur die… Lees meer »

Ria

Al my vriendinne wie besluit het om nie minders te he nie is nou baie spyt in ons 60s en 70s want die sosiale kringe raak kleiner met die jare, en honde is oulik maar nie regte familie wat jou op hoe vlak kan ondersteun op hoe ouderdom nie. Jonger vroue moet uit ons ervaring leer.

Geld is die faktor

Geld is die faktor en nie soos baie mense dink om die kinders ‘n toekoms te bied en deur skool en universiteit te kry nie, maar wel hoe die mensdom dink oor geld. Geld het alles geword in die lewe. Jou kinders het nie al daardie buitemuurse aktiwiteite nodig nie. Jou kinders kan heel goed opgevoede werkende volwassenes in die samelewing word sonder al daardie dinge wat jou so baie geld gaan kos. En ten spyte van baie mense se opinies, kan jou kind in ‘n gewone staatsskool dit reg kry om eendag ‘n toekoms vir hom of haar te… Lees meer »

Jane

Janee jy sal mal wees om klomp kinders in ‘n land in te bring waar jy nie weet wat hulle toekoms gaan wees nie. Die Skole gaan agteruit, die Universiteite word gestoomroller, die hospitale gaan met rasse skrede agteruit, mense sit werkloos by die huis agv van BEE, ek sal NOOIT ‘n kind in hierdie wereld inbring as ek nie weet ek het ‘n kans om SA te verlaat nie .. ONGELUKKIG kan ons nooit genoeg KINDERS MAAK vir die BOERE en gesinne wat doodgemartel word nie .. dalk moet ons DIT eerder keer as nuwe kinders maak. Met stygende… Lees meer »