Afrikaanse gemeenskap ‘moet nuut dink’ oor werkende ma’s

werkende-mamma-baba

Foto: TheLittleShopper/Colouritbright.com/

Die Solidariteit Navorsinginstituut (SNI) het Woensdag met die bekendstelling van ʼn demografieverslag oor die getalle van Afrikaanssprekendes en Afrikaners in Suid-Afrika gesê dit is kommerwekkend dat dié bevolking nie genoeg kinders kry om die plaasvervangingskoers te ewenaar nie.

“Alhoewel daar tekens van herstel is, is ʼn dalende geboortekoers ʼn wêreldwye tendens in welvarende gemeenskappe. Om weer die plaasvervangingskoers van 2,1 kinders per vrou te haal, moet nuut gedink word oor hoe die werkplek en die Afrikanergemeenskap werkende ma’s beter kan tegemoetkom,” het Connie Mulder, hoof van die navorsinginstituut, gesê.

Die SNI se demografieverslag het getoon dat wit Afrikaanssprekende vroue geneig is om hul kinders tussen die ouderdom van 30 en 35 te hê met ʼn gemiddeld van 1,6 kinders per vrou.

Luidens die verslag het ʼn geboortegolf die Afrikaanse gemeenskap getref wat getoon het bruin en wit Afrikaanssprekendes kry deesdae weer meer kinders. Hierdie “babaploffingkinders” moes teen vanjaar (2018) skoolgaande ouderdom bereik het.

Die hoë getal geboortes is egter nie genoeg om die stagnasie in Afrikaners se absolute getalle te keer of die sistematiese afplatting wat daarmee oor die volgende 25 jaar gepaardgaan, te verhoed nie.

Dit strook met die tendense in ander Westerse lande waar die middelklas minder kinders het. Die afname in die getal van kinders kan ook toegeskryf word aan (toenemend) meer vroue wat die arbeidsmark betree, hul hoër opleidingsvlakke en omdat vroue langer wag voordat hulle begin om kinders te kry. Daar is in Europa met verskeie inisiatiewe gepoog om hierdie probleem te probeer oplos, maar dit het tot dusver gemengde welslae gehad.

“Die primêre faktor waaraan aandag gegee moet word, is hoe om die finansiële las van kinders in ʼn middelklashuishouding te verminder en dit makliker vir ʼn vrou te maak om ʼn werkende ma van twee of drie kinders te wees,” het Mulder gesê.

Opsies wat oorweeg kan word om die Afrikanerbevolking aan te moedig om meer kinders te kry, is om werkplekke meer mavriendelik in te rig, ma’s toe te laat om fleksietyd te werk en gesubsidieerde kleuterskole of dagsorg te verskaf.

“Die moderne werkplek het nog nie aangepas by die influks vir werkende vroue se behoeftes nie,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Hy het ook aanbeveel dat kerke dit moet oorweeg om hul geriewe gedurende die werkweek in kleuterskole te omskep.

Verengelsing

Die verslag het ook die toenemende verengelsing onder bruin Afrikaanssprekendes as ʼn besonderse probleem uitgewys wanneer daar na die oorlewing van Afrikaans gekyk word.

“Alhoewel die bruin Engelssprekende bevolking se geboortekoers aansienlik laer is as dié van die bruin Afrikaanssprekende bevolking, het bruin Engelssprekendes tussen 2001 en 2011 proporsioneel tot die totale bruin bevolking toegeneem. Dit dui daarop dat bruin mense hul voorkeurtaal van Afrikaans na Engels verander teen min of meer dieselfde tempo as wat wit Afrikaanssprekendes tans emigreer,” het Mulder gesê.

Hy het gesê meer geleenthede vir mense om in Afrikaans te studeer en te werk behoort dié tendens te kan bylê.

“Dit beteken wel dat die aanslag van die regering teen Afrikaans-onderrigmedium tans teëgewerk moet word, indien die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap se verengelsing gekeer wil word.”

Ouderdomsverspreiding

Nog ʼn kommerwekkende aspek wat in die demografiestudie uitgewys is, is die vinnige veroudering van die Afrikanerbevolking.

Mulder het gesê dit impliseer dat daar in die komende jare meer maatskaplike druk op kinders gaan wees om vir langer na hul ouers om te sien.

“ ʼn Ouer bevolking het ook groter gesondheidsorgbehoeftes en gevolglik gaan gesondheidsorg ʼn groter kwessie vir Afrikaanssprekendes en veral vir Afrikaners raak.”

Mulder meen veroudering kan egter ook positief aangewend word.

“Die groot aantal mense wat reeds uit die arbeidsmark getree het, maar nog gesond genoeg is om aan ekonomiese aktiwiteite deel te neem, skep geleenthede vir die oordrag van kennis. Entrepreneurs kan hierdie mense ook op ʼn kontrakbasis en as konsultante in diens neem.”

Relatief tot Suid-Afrika

Die SNI se demografieverslag het getoon dat, alhoewel die Afrikaanse bevolking in absolute getalle toeneem en die Afrikanerbevolking se absolute getalle stagnant bly, krimp beide bevolkingsgroepe relatief tot die land se totale bevolking.

“Dit is belangrik dat kultuurorganisasies en ander instellings wat op die Afrikaanse en Afrikanermark gemik is, hulle nie te veel steur aan watter persentasie van die bevolking hierdie twee groepe uitmaak nie. Alhoewel die persentasie Afrikaanssprekendes en Afrikaners proporsioneel tot die Suid-Afrikaanse bevolking krimp, groei die onderliggende bevolkingsgroep inderwaarheid of dit bly dieselfde,” het Mulder benadruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Se maar net ·

Askuus om in die land en in tye van nou kinders te he is soos om jou keel af te sny. Daar is nie werk in eerste plek nie. Tweedens die opvoeding is pateties. Derdens misdaad vat oor. My raad bly dan maar sonder hulle

Corne ·

Die wereld is boos. Ek sou nie vandag een kind in dié wereld ingebring het nie. Dan sterf ons maar uit…

Linda ·

Die werkwoord hier ter sprake is “gesinsbeplanning”. Meeste middelklas paartjies wat ek van weet neem deesdae die bewustelike besluit om nie kinders te he weens ‘n verskeie reeks faktore – waarvan finansies waarskynlik die grootste is. Vrae word gevra soos: sal ons genoeg geld he om ons kind/ers skool toe te stuur, vir buitemuurs, dalk nog universitieit toe ens… die kostes is astronomies as jy gaan sit en bymekaartel.
Daarteenoor vind jy ook diegene uit ander rasgoepe weer meer geneig is om NIE sulke faktore in ag te neem, wat gewoonlik tot ‘n string kinder lei wat gevolglik deur die STAAT (dus MY/JOU belasting geld) met toelaas onderhou moet word.

Ria ·

Al my vriendinne wie besluit het om nie minders te he nie is nou baie spyt in ons 60s en 70s want die sosiale kringe raak kleiner met die jare, en honde is oulik maar nie regte familie wat jou op hoe vlak kan ondersteun op hoe ouderdom nie. Jonger vroue moet uit ons ervaring leer.

Stuiwer ·

Ongelukkig is niemand daarvan verseker dat hul kind(ers) op hul oudag daar vir hulle gaan wees nie, so dis nie ‘n geldige argument nie. Baie kinders gaan oorsee en baie kinders stop hul bejaarde ouer(s) in ouetehuise en dan sien jy hulle nooit weer nie.

Albaster ·

Dit is ‘n geldige argument. Hoe meer kinders jy het hoe kleiner is die kans dat dit gaan gebeur.

Geld is die faktor ·

Geld is die faktor en nie soos baie mense dink om die kinders ‘n toekoms te bied en deur skool en universiteit te kry nie, maar wel hoe die mensdom dink oor geld. Geld het alles geword in die lewe. Jou kinders het nie al daardie buitemuurse aktiwiteite nodig nie. Jou kinders kan heel goed opgevoede werkende volwassenes in die samelewing word sonder al daardie dinge wat jou so baie geld gaan kos. En ten spyte van baie mense se opinies, kan jou kind in ‘n gewone staatsskool dit reg kry om eendag ‘n toekoms vir hom of haar te maak. Dit gaan oor opvoeding. Die samelweing se uitkyk op die lewe moet verander – dit moet nie alles oor geld gaan nie. Nerens in die geskiedenis het mense ooit opgehou kinders kry omdat hulle nie genoeg geld gehad het nie, depressie tye, oorlog tye – almal het nog steeds kinders gekry. Nou is hierdie samelewing so besorg oor geld dat ons nasie uitsterf! Prioriteite is verkeerd…..

Stuiwer ·

Geld is die faktor, ek stem nie met alles wat jy sê, saam nie. Ek het slegs een kind (besluit weens mediese redes geneem) en ek kan jou verseker dat ek nie naastenby dieselfde vir hom kon gee as ek meer kinders gehad het nie. Ja, baie mense sê dat ‘n enkelkind bederf word, maar ek steur my nie aan wat ander mense sê nie, want hulle is oningelig en onsensitief. Elkeen het die reg om self te besluit. As jy baie kinders wil hê, staan niemand in jou pad nie. Moet egter nie diegene wat min of geen kinders het, oordeel nie. Geld is nie alles nie, maar ons kan nie vir ons kinders ordentlik daarsonder sorg nie.

Jane ·

Janee jy sal mal wees om klomp kinders in ‘n land in te bring waar jy nie weet wat hulle toekoms gaan wees nie. Die Skole gaan agteruit, die Universiteite word gestoomroller, die hospitale gaan met rasse skrede agteruit, mense sit werkloos by die huis agv van BEE, ek sal NOOIT ‘n kind in hierdie wereld inbring as ek nie weet ek het ‘n kans om SA te verlaat nie .. ONGELUKKIG kan ons nooit genoeg KINDERS MAAK vir die BOERE en gesinne wat doodgemartel word nie .. dalk moet ons DIT eerder keer as nuwe kinders maak. Met stygende kostes in skoolfooie, universiteitsfooie en brandstof en kospryse kan ek nie dink hoe die gemiddelde persoon vir meer as 1 kind kan sorg nie . Op die ou einde sit mense met klomp kleintjies in die plakkerkampe.

Leuen ·

Jane, dis nie die geval van almal nie. Daar is baie baie vooruitstrewende Afrikaners wat se kinders in privaatskole is, wat gebruik maak van uitstekende privaat mediese sorg en wat positief is oor hul toekoms. Ja, ons het baie baie probleme in ons land, maar kyk maar bietjie die nuus – daar is oral probleme. En daar waar dit voorkom asof alles “hemel op aarde” is kyk weer. Dwelms, drank en swak morele waardes seevier dikwels daar. Nee wat, ek is dolgelukkig in my groot huis, met my werk wat ek baie geniet en met my klomp kinders. Ek kan emigreer, maar wil nie. As my kinders eendag wil sal ek hul ondersteun, hul kan self besluit. Ek weet wel dat Afrikaners baie baie meer bevoorreg is as meeste van ons landsgenote – kyk na die statistieke en nie net na jou verkrampte omgewing nie. NIEMAND het my gehelp om te kom waar ek is nie – dit is net genade, maar ek sal NOOIT gaan le nie. Hou op kla en doen iets. En meer as enige iets, raak bietjie positief!

Nika ·

Ek is n 28 jarige getroude vrou en ek en my man het saam besluit hier is skaars n toekoms vir ons wat nog as jonk verklaar word, hoe gaan daar n toekoms wees vir ons wit kinders? Met grondhervorming, werkloosheid, wittes wat vermoor word, ons land se swak onderwys en alles wat duurder word is dit nie n wyse besluit om enigsins kinders te kry nie. Dit is n wêreldwye probleem. Wittes word reg oor die wêreld uitgewis en mense wat morele en geestelikke waardes ook het. Ek wil nie kinders groot maak in die wêreld waarin ons lewe nie wat staan nog ons land.

Rolien ·

Stem 100% saam jou Nika. Hierdie is als faktore wat mens deesdae in ag moet neem. Ek is 35 en reeds 12 jaar getroud. Ek en my man verdien skaars genoeg om na onsself te kyk, wat nog van ‘n kind of twee. Ons moes al aanhoor hoe selfsugtig ons is deur kinderloos te wees(!!) deur ouers/skoonouers en selfs vriende met kinders, maar so graag as wat ons met ‘n familie wil begin, kan ons eenvoudig nie op die stadium nie. Boonop sit mens met erge misdaad ook nog wat ‘n bekommernis is. Dis maklik vir ander om te se “he kinders”, maar om blindelings ouerskap te betree sonder die nodige finansies of gunstige omstandighede is glad nie wys nie, want dan ly die ouers SOWEL as die kind daaronder. Geen persoon hoort ‘n kind in hierdie wereld te bring wetende dat hy/sy nie behoorlik na die kan omsien of dat hul veilig sal wees.
Sterkte aan julle. Ek glo jul (ons) neem op die lange duur die regte besluit.

Stuiwer ·

Nika, dis jou persoonlike besluit om nie kinders te wil hê nie.. Ek stem egter nie met jou saam oor die feit dat wit mense regoor die wêreld uitgewis word nie. Ek sal graag wl weet waar jy aan hierdie feit kom. Wit mense verlaat juis SA, omdat daar ‘n beter toekoms op ander plekke in die wêreld is.

Ria ·

Vrouens kan baat by aanlynbesighede. Dan kan sy van die huis af werk en kliente regoor die wereld kry.

Casper Labuschagne ·

Daar gaan ‘n dag kom in ons nabye toekoms waar onderrig in Afirkaans grootliks sal plaasvind deur tuisonderrig. Ek kan sien dat daar in ons voorstede mikroskole gevorm sal word waar ‘n vrou by haar huis vir klein groepies kinders vanuit haar omgewing sal skoolhou. Nie net sal dit werk bied aan duisende vroue wat eerder tuis wil bly en mikroskole bedryf nie maar daar sal ook leerplanne ontwerp moet word en bykomende onderrig aangebied word dmv die Internet, asook die assessering van leerders. Dit kan alles gedoen word deur vroue wat van die huis af werk.

Casper Labuschagne ·

Ek is al lankal ‘n voorstaander hiervan. Maar ek wonder tog wat die feministe sal sê van die idee dat ek ‘n nie-werkende vrou tuis sal aanhou vir die hoofsaaklike doeleinde van volksvermeerdering.

Stuiwer ·

As jy praat van ‘n nie-werkende vrou, hoop ek jy praat van ‘n vrou wat buite die huis gaan werk. ALLE vroue werk, hetsy by die huis self of buite die huis.

BESKEIE MENING ·

Ek is ook ‘n voorstaander van tuis onderrig. My dogter is ‘n werkende ma met 2 kinders op skool (graad 2 en graad 5) en ‘n baba van 18 maande. Dit is nie maklik nie want sy kom van die werk af en dan moet sy nog die kinders se huiswerk nagaan, help met leer werk in eksamen tyd. En die kleintjie verg ook nog baie aandag. Sy betaal ten duurste vir die naeskool mens sou dink dat die onderwysers bietjie sal help met die leer werk maar lyk my hul hou net toesig. Hiermee val ek nie die onderwysers aan nie, ek lig maar net my beskeie opinie.

Stuiwer ·

Om tuisonderrig te gee, is nie so maklik nie. Nie enigeen kan dit doen nie. Jy het tog opleiding nodig. Om drie kinders te hê en aandag aan hulle almal te moet gee, terwyl jy ook nog tuisonderrig moet doen, is ook nie so maklik nie.

Conrad ·

Maak seker dat jy beter Engels kan praat as ‘n Engelssprekende.

Het ‘n blanke kind ‘n beroepstoekoms in Suid-Afrika? Selfs gegradueerdes kry nie werk nie.

Nuut dink oor werkende ma’s? Dink nuut oor werklose jeug!

John ·

… en die woord geld en geldelike hulp kom nerens voor nie. Niemand gaan iets vir niks doen nie en die geagte raadgewers het almal goed betalende loopbane en nou moet Afrikaners nie net na voorgestelde gebiede verhuis nie, hulle moet Kleurlinge onderhou wat hul base gaan wees as demokrasie aangehang word en diesulkes gaan soos die ANC aandring dat hulle eerste keuse vir poste het en nou moet verarmde witmense baie kinders he om die plan van Solidariteit te vervolmaak. Dream, dream….

Kinderloosbykeuse ·

Ek is 35 met geen kinders en geen plan om hulle voort te bring nie. Vir geen ander rede as ek en my man van 10 jaar wil hulle nie he nie. Die artikel fokus erg op hoe werksplekke “mavriendelik” moet wees. Maak dalk maar pavriendelike werksplekke ook? Hulle het gehelp maak aan die kinders, dit is nie net die plig van die vrou (werkend of nie) om hulle te versorg en groot te maak nie.

Stuiwer ·

Sjoe, kinderloosbykeuse, jy praat van kinders asof hulle goed is. Hulle is egter ook mense (glo dit of nie). Ek sou voorstel jy verander jou woorde “geen plan om hulle voort te bring nie” na ek het nie die begeerte om kinders te hê nie. Dit wys ‘n bietjie meer respek. Ek bespeur so bietjie woede van jou teenoor mans, want jy vra vir “pavriendelike werksplekke” en die feit dat “hulle gehelp het om die kinders te maak”. Dis miskien maar ‘n goeie ding dat jy besluit het om nie kinders te hê nie, want kinders soek ‘n sagte en liefdevolle ma, wat opofferings vir hulle sal maak en nie net vir haarself sal lewe nie.

Kinderloosbykeuse ·

Ek sou voorstel jy bepaal jou by jou eie opinie. En ek het geen woede teenoor mans nie. Ek hoop jy voed jou kinders beter op as wat jy opgevoed is.

Stuiwer ·

Die lewe is duur. Mense moet eers seker maak dat hulle kinders kan bekostig voor hulle besluit om hulle te hê, anders sit ons weer met ander sosiale probleme. Ek sal nie kinders hê net om die getal Afrikaanssprekendes in die land te laat styg of in belang van die Afrikaner se “voortbestaan” nie.

Leonard van der Dussen ·

Die baie kommentare wat nie geloof weerspiëel nie, maar ‘n vaskyk net teen die hede en dit wat onmoontlik lyk, is hartseer om te sien. Hier is nie ruimte om die hele saak te bespreek nie, maar feit is dat ons op God moet vertrou. Wel nie verstandloos nie, maar die uitgangspunt moet wees dat God Sy kinders versorg, en die geslagte uitgebou moet word, want dis die mens se roeping om die aarde te bewoon en dit te bewerk en te bewaak.

Stuiwer ·

God het aan elke persoon die keuse gegee om sy eie besluite te neem. Daarom hoef ons nie skuldig te voel as ons besluit om nie kinders te hê nie. Dit help nie om jou geloof in God te plaas om te voorsien en jy weet voor jou siel jy gaan nie vir daai kinders kan sorg nie. God vereis verantwoordelikheid van ons kant af. Daar is niks fout met gebed en geloof nie, maar dan moet ons ons deel ook doen. Dis so goed jy loop aspris voor ‘n kar in terwyl jy vir God vra om jou te beskerm. Wat dink jy gaan die uiteinde wees? God het vir ons verstand gegee. Ons moet dit net gebruik..

Lisa ·

Ja nee, werknemers stel in die algemeen nie belang of jy klein kinders het wat siek is en of jy twee weke laas geslaap het nie ens. Jy moet sonder verskonings dieselfde werk as die ander werknemers kan lewer. Daar is nie ‘n ding soos fleksietyd of van die huis af werk as die kinders siek is nie. Meeste van die tyd lewe jy in ‘n toestand van algehele uitputting. Jy kan ook nie alles vir hulle gee met jou salaris wat jy wil nie, want die lewe het net te duur geword. Jy kyk rond vir meer bekostigbare kleuterskole, maar sien dan die ander is maar net so duur. Dit is net nie prakties om meer as twee of selfs een kind te hê as jy ‘n voltyds werkende ma is nie.

Nienie ·

Ek stem saam. As daar n versoek is vir meer kinders, moet gunstiger toestande gekweek word. Een mens ( vrou) kan ook net soveel doen. Praktiese hulp op baie meer terreine is nodig. Ek het ook net een kind en het gevoel of ek heeltyd onder d bus ingegooi is. Werkgewers voel n veer. Dis net produksie en geld wat tel. Dit was altyd n groot dilemma as jou kind siek word en tuis moet bly. n Siek kind se ma moet by hom/ haar wees. Nie n huishulp nie.

ZAR ·

Ek is hartseer oor al hierdie kinders wat nooit gebore gaan word nie, want die ma en pa glo hulle kan in die toekoms in sien. Dis werklik betreurenswaardig. As almal so gedink het, was ons al lankal uitgewis. Dankie aan al daai mense wat kinders ‘n kans tot lewe gee! Dankie vir die onbaatsugtigheid van ma’s en pa’s wat die besluit geneem het om ‘n positiewe uitkyk op die lewe te hê. Aan elke ouer wat hom/haarself tweede stel, dankie.

ZAR ·

Aan alle jongmens wat hierdie lees, gaan kyk gerus die begin van die fliek Idiocracy. Dis die wêreld se voorland as al die opgevoede mense besluit hulle wil nie kinders hê nie. Dis alreeds so in Suid-Afrika.

Katerina ·

Ja nee kyk, Idiocracy is nie n fliek nie – dis n documentary.

Adam ·

Ek is verstom deur die meeste van die kommentators se opinies. Hoe kan ons elke dag lees van vertrou op God, saamstaan ens en dan kry ‘n mens sulke negatiewe reaksies. Wanneer begin ons daaraan dink om self iets aan ons eie situasie te doen. Ek kan net praat uit eie ondervinding en my eie kinders het met hulle eerste onderhoude werk gekry na hulle graad gevang het. Daarna het hulle voortgegaan met hulle studies en een het reeds sy Meestergraad voltooi en verdien ‘n sewesyfer bedrag per jaar. SA bied nog steeds enorme geleenthede vir die wat wil werk en ja, die werkloosheidskoers is hoog, korrupsie is ‘n nasionale sport, misdaad is skrikwekkend hoog en die regering is hopeloos, maar dit kan mos nie ‘n mens dwing om in sak en as te sit nie. Die Afrikaner-geskiedenis het gewys hoe ons voorouers hulle aan hulle skoenveters opgetrek het na ‘n beter toekoms, weliswaar met die hulp van ‘n diskriminerende stelsel, maar hulle moes nog steeds hard werk. Ons kan dit nog steeds doen, binne of buite SA, maar ons sal moet leer om op te hou om onsself te bejammer. So, kry maar die kinders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.