Afrikaanse gr.1’s by Danville-skole weggewys

Laerskool Generaal Beyers in Pretoria-Wes. (Foto: Universiteit van Pretoria)

Ouers van voornemende gr.1-leerdes in Danville in Pretoria-Wes is raadop, omdat daar nie plek is vir hul kinders in ʼn Afrikaanse skool in dié area nie. Dit nadat Laerskool Generaal Beyers, wat vroeër jare onderrig in beide Engels én Afrikaans gebied het, nou net Engelse gr1’s inneem. Daar is ook nie meer plek vir leerders in Laerskool Westerlig nie, die enigste ander skool in Danville wat nog skoolgee in Afrikaans.

Baie van die ouers met wie Maroela Media gesels het, wil nou volgende jaar hul kinders by die huis hou, omdat hulle nie oor die geld beskik om hul kinders se vervoer na skole verder weg te bekostig nie.

Volgens ontstoke ouers is hulle eers in November ingelig dat Laerskool Generaal Beyers glad nie meer volgende jaar gr.1-klasse in Afrikaans gaan aanbied nie. Dié skool sê egter hulle het vanjaar reeds nie meer ʼn Afrikaanse gr.1’-klas gehad nie. “Verlede jaar het ons reeds te min aansoeke van Afrikaanse ouers gehad om ʼn klas vol te maak. Ons het toe met Westerlig ooreengekom om die paar Afrikaanse leerders in te neem wat aanvanklik by ons aansoek gedoen het,” sê ʼn lid van dié laerskool se bestuur. “Ons het vanjaar net 14 aansoeke vanaf Afrikaanse ouers gekry. Dit is net nie vir ons die moeite werd om ʼn hele klas en onderwyser af te staan vir sóveel kinders nie,” sê die onderwyser.

Onderwys__4

Argieffoto.

ʼn Personeellid van Laerskool Westerlig sê egter hulle moes vanjaar sowat 50 voornemende gr1’s wat volgende jaar in Afrikaans wil skoolgaan, by dié skool wegwys. “Soos dinge nou staan is daar reeds 43 gr.1’s in elke klas. Dis reeds hopeloos te veel. Dis hartverskeurend, maar ons kan nie al hierdie kinders akkommodeer nie.” Sy sê Afrikaanse leerders wat vanjaar in Engelse klasse geplaas is omdat ouers desperaat was vir plek, sukkel nou om gr.1 in Engels deur te kom.

Antoinette Marincowitz, ʼn ouma van twee Danville-leerders wat volgende jaar gr.1 toe moet gaan, is raadop. “Ek gaan maar my kinders volgende jaar self leer, want ons het nie die geld om elke dag by die skool in Tuine uit te kom nie. Een van die kinders het klaar hierdie jaar tuisgebly want ons het nie plek in ʼn Afrikaanse skool hier gekry nie. Dis baie hartseer, want my kleinkinders is só slim,” sê Marincowitz.

Elmarie Buys, wie se dogter ook plek soek in ʼn Afrikaanse skool vir volgende jaar, sê baie ouers sukkel en kan nie die sowat R500 ʼn maand bekostig wat dit sal kos om leerders na ʼn skool verder weg aan te ry nie. “Dis ʼn groot slag vir ons want Generaal Beyers is baie naby aan ons huis en my kind het só uitgesien om skool toe te gaan,” sê Buys. Volgens Buys is daar baie kinders van ander areas wat plek kry in skole in Danville, ten koste van kinders in die omgewing.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die Skoleondersteuningsentrum, sê dié is deel van ʼn groter-wordende probleem weens tekort aan plek vir Afrikaanse leerders in die provinsie. “Al meer Afrikaanse skole word deur die departement van onderwys gedwing om Engelse leerders in te neem. Dié skole moet op die lange duur oorslaan na Engels-enkelmedium, omdat die parallelmedium-model baie duurder is om te onderhou.”

Die Gautengse Departement van Onderwys het nie op herhaaldelike navrae om kommentaar gereageer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

80 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ai

En Lesufi se tone krul om en hy lag ut sy maag uit van lekkerkry

Jakkie

Ek weet en besef kinders is veronderstel om moedertaal onderrig te kry, maar vir die kinders se onthalwe is dit dalk met die oog op die toekoms, beter om dan maar in Engels skool te gaan. Engels gaan in elk geval in die toekoms die absolute voorkeurtaal word. Gaan die kinders in die toekoms universiteit of technikon toe, is hulle daaraan gewoond om in Engels onderrig te word. Meeste werkgewers se voertaal is deesdae ook Engels en die kinders gaan so goed in Engels onderleg wees, dit gaan nie ‘n probleem wees nie. Baie kinders sal ook in die toekoms… Lees meer »

sdp

Engels!! goed en wel, ek wil net weet vir wat moet ons aanhou buig vir die piesang republiek. Ons is deel van die land en het regte!!

LHS

Die kind leer miskien bietjie engels aan maar akademies verloor hy ten volle vir ewig. Dit is die harde werklikheid.

potlood

En so word daar elke dag teen afrikaans sprekende mense gediskrimineer want ons laat dit toe.