Afrikaanse kiesers: Dis Steenhuisen vs. Groenewald

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Die vonke het behoorlik gespat by die Woordfees op Stellenbosch toe die waarnemende DA-leier, John Steenhuisen, en die VF Plus-leier, dr. Pieter Groenewald, in ʼn debat oor die belange van Afrikaanse kiesers teen mekaar te staan gekom het. Die saal was stampvol en soms raserig.

Ter sprake was ʼn meningsverskil oor watter party se politieke model die belange van Afrikaanssprekendes die beste dien.

Die DA-standpunt is dat Afrikaanse taal- en kultuurbelange ten beste gedien word deur ʼn party soos die DA, waar mense van alle rasse en tale Afrikaanse belange bepleit, omdat die party vir alle tale se taal- en kultuurregte opstaan.

As voorbeeld van die mate waartoe die DA dit doen, het Steenhuisen verwys na die DA-LP vir Stellenbosch, dr. Leon Schreiber, wat aan die voorpunt staan van die stryd om die handhawing en uitbou van Afrikaans as onderrig- en leertaal aan die Universiteit Stellenbosch.

Steenhuisen meen boonop die feit dat al die VF Plus se LP’s wit is, voed die persepsie buite die Afrikaanse leefwêreld dat Afrikaanse kwessies net wit kwessies is, terwyl dit nie die geval is nie.

Groenewald het weer aangevoer dit is nie vir ʼn breë kerk (diverse party) soos die DA moontlik om Afrikaanse belange na behore te dien nie, omdat die DA (volgens Groenewald) daarop fokus om die ANC te ontsetel en dus kompromieë in die belangepolitiek sal aangaan ter bevordering van die getallepolitiek.

As voorbeeld hiervan het Groenewald verwys na die DA se hantering van die Elana Barkhuizen-geval op Schweizer-Reneke, en die DA-LPW Khume Ramalifho se redelik ondersteunende ingesteldheid teenoor die Gautengse LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi. Dié maak geen geheim van sy afkeer van Afrikaanse enkelmediumskole nie.

Groenewald het benadruk dat die VF Plus as vegter vir minderheidsregte baie sterker sal opstaan vir die taal- en kultuurregte van Afrikaanse mense. As teken van die party se sukses op hierdie terrein, het hy verwys na ʼn toekenning wat die VF Plus sowat 20 jaar gelede van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) hiervoor ontvang het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Marius ·

Effe te laat Mnr. Steenhuisen, die DA sal nimmer as te nooit my stem kry nie.

Magda ·

So ook nie die VF nie – wat het hulle tot dusver vir ONS gedoen??????

Luister ·

Wat wil jy hê moet hulle doen as hulle hande afgekap is (lees te min ondersteuning by die stembus)?

Anoniem ·

Geen politieke party doen enigiets vir die Blanke nie, dit is alles net lippetaal. Dit is nou maar net ‘n feit.

Johan Venter ·

Dr Leon Schreiber laat wel van hom vir Afrikaans hoor, dit ook net na die Schweizer-Reneke debakel wat vir die DA ‘n nie werklik wekroep was nie, want hulle het nog nooit vir andere se taalregte, spesifiek Afrikaans, opgestaan of die onregte in uitsprake deur ‘n hof teegestaan nie. Hulle het baie stemme in verkiesings sedertdien verloor en nou krabbel die DA terug.

Daar is in die dae ook berig dat die DA daaraan dink om nie meer die ANC met SEB te ondersteun nie, maar dit gaan eerder daaroor dat dit die swart mense benadeel eerder as wat hulle daarmee fout vind dat dit teen die wit mense diskrimineer.

As dit by die opstaan vir Afrikaanse taalregte kom, ook in die praktyk, nié net lippetaal nie, is die DA ‘n ligjaar agter die VF Plus.

Therese ·

By Afrikaans se gebrek aan status aan die Universiteit van Stellenbosch, sal die DA-leier en dr. Leon Schreiber moontlik verstaan dat die bekende gesegde, “met sulke vriende het Afrikaans nie vyande nodig nie” , deur die gedagtes flits.

Michiel ·

Die DA het ‘n punt, maar die VF+ het vierkant my stem. Ons mense.

Magda ·

Wys my duim af – Wys my wanneer hulle vir ONS mense was en is.

Luister ·

Watter party dan is vir ons mense, Magda? Almal meen maar net die VF+ is meer vir ons mense as wat enige ander party huidiglik is.

Louis ·

Die vraag wat elkeen vir homself behoort af te vra: ” Is ek vir kwantiteit of kwaliteit? Ongelukkig is daar gee middeweg nie.

Leeuwyfie ·

Ek staan bankvas agter die VF+
Die DA verander vinniger as ‘n verkleurmannetjie.

msp ·

Om vandag baie eelik te wees met my volksgenote en alle rassegroepe wat Suid Afrika weer op die wenpad wil kry, smelt saam, staan saam en wen saam. Beveg almal wat op enige manier die denke van die anc/eff/blf deel. Stry jul stry na ure en staan 100% saam in die parliament.

Oujongvrou ·

Msp, jys 100%reg, maar jy sal dit nooit in die afrikaner se koppe inkry nie. As almal saamsmelt en saam baklei sal dit dalk n impak he

Judge ·

Die Afrikaner se uitkoms le eerder buite die politiek by groepe soos Solidariteit en Afriforum. Doen meer vir die Afrikaner as enige politieke party.

Rose ·

As beide partye regtig omgee vir die minderhede sal hulle saamspan sodat hulle n werklike verskil teen die ANC kan maak. Die DA moet besluit na wie hulle wil vry, want hulle siening het heeltemal verander na die verkiesing, net omdat hulle stemme verloor het. Nou besef hulle dat hulle steun by die bruin en wit mense le. Hulle strategie het nie gewerk om swart stemme van die ANC af te rokkel nie. Jy kan nie nasies versamel nie, het nog nooit gewerk nie, veral nie in SA nie, want almal se agtergrond verskil. Hier word gestem volgens ras. Ten minste weet almal wat die VF se siening van die begin af is.

Rooijan ·

John jammer ou maat te min te laat. Maar moenie worry nie meeste van die tyd sal die VF+ kandidaat in elk geval seker saam met die DA stem oor kwessies. Maar die VF+ kandidaat sal die persoon wees met my mandaat. Net jammer van die leier se gebrek aan dinamika.

Piet parys ·

Da het gesien sy swart stemme het nie opgedaag nie . Nou probeer hy die wit stem terug te kry deur weereens nikseggende beloftes . Ek hoop van harte dat witmense nou wakker geword het en besef het dat dieDA niks vir hulle kan doen nie en nie weer vir die lee beloftes van die DA sal val nie . VF + leiers doen so voort julle is op die regte pad .

Sarel ·

DA het afgelope pasr jaar duidelik die zAfrikasnsecGemeenskap uitverkoop o.a. met ondersteuning van BEE. Masr in werklikheid is dasr geen Party of Leier wat na my mening hulle werk doen nie. Die mense sit in die Parlement en die Gemeenskap sit met vrae soos die Eskom fiasko maar niemandckom by die ware feite uit nie.

Frieda ·

Dr. Groenewald jy was en bly nog altyd veg vir geregtigheid jy het beslis my stem.

Naas ·

Regtig? Die DA het nog nooit iets vir Afrikaans of Afrikaners gedoen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.