Afrikaanse matrieks ‘seker oor toekoms’ – verslag

skole matrieks matriek matriekeksamen onderwys

Vanjaar se matrieks het Woensdag met matriekeksamen afgeskop (Foto: Maroela Media)

In ʼn verslag wat deur Solidariteit Jeug en die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) bekendgemaak is, is dit duidelik dat die meerderheid van matrikulante na skool wil gaan studeer en hulle is ook seker oor hul studierigting.

Die doel van die verslag was om vas te stel hoe die Covid-19-pandemie leerders beïnvloed het, asook wat hierdie leerders se siening oor die toekoms is en wat hulle beoog om na skool te doen.

Onder 1 533 gr. 12-leerders by verskeie skole in Pretoria wat aan die studie deelgeneem het, het 79% van die leerders aangedui dat hulle verder wil gaan studeer. Meer as 20% het gesê hulle sal nie by tradisionele instellings studeer nie.

Meer as 94% van die leerders wat aan die studie deelgeneem het se moedertaal is Afrikaans.

Volgens die verslag is leerders baie seker oor wat hulle wil studeer en die gewildste studierigtings is finansiële en besigheidstudierigtings, mediese en verwante beroepe, ingenieurswese, onderwys en regte.

Bevindinge dui egter daarop dat meer as 25% van jongmense wat wil gaan studeer, nie befondsing het nie en dat minder as 3% ʼn beurs vir hul studie ontvang het.

Volgens Paul Maritz, bestuurder by Solidariteit Jeug, kan uit die opname gesien word dat die groep jongmense ʼn ambisieuse en positiewe groep leerders is. Hy sê dit is veral opmerklik dat die meerderheid leerders wel die wil het om verder te gaan studeer ten spyte van die impak van die Covid-19-pandemie.

“Hoewel die pandemie onsekerheid en verandering in die manier van skoolgaan en leer gebring het, het baie van die leerders gesê hulle het hierdie tyd konstruktief gebruik om dieper oor hul toekoms te dink en deeglik te beplan wat hulle graag wil doen. Hulle dui aan hulle moes noodgedwonge ook meer gedissiplineerd en selfgedrewe werk,” sê Maritz.

Nicolien Welthagen, senior navorsingsielkundige by die SNI, sê dit is merkwaardig dat talle leerders aangedui het dat die pandemie eerder ʼn positiewe as ʼn negatiewe uitwerking op hulle gehad.
“Hulle voer aan dat hulle hulself beter leer ken het en beter besluite rakende hul toekoms en hul loopbane kon neem. Volgens hulle het hulle ook geleer om meer doelgerig en gedissiplineerd te werk,” sê sy.

Maritz sê dit is ook opvallend dat daar lede van die jeug is wat belangstel in kleiner, onafhanklike instellings en dat hulle wegbeweeg van die tradisionele universiteite en ander instellings. Hy sê hierdie bevindinge is belangrik omdat dit ʼn aanduiding is oor wat die volgende generasie oor hul toekoms dink.

“Ons jeug is veerkragtig. Hulle het nie teruggestaan vir veranderde omstandighede nie; hulle het aangepas in die wêreld waarmee hulle so skielik gekonfronteer is. Ons is besonder trots op hulle en sien daarna uit om saam met hulle geleenthede te skep en om ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms saam met hulle ʼn werklikheid te maak,” sluit Maritz af.

Lees die volle verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Blikke ·

Doen so voort….dis wat julle sal onderskei van die res!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.