Afrikaanse musiek: ‘Maak goed wat gewild is, gewild wat goed is’

Hemelbesem (Foto: Facebook/Hemelbesem)

Hemelbesem (Foto: Facebook/Hemelbesem)

Doen kunstefeeste in Suid-Afrika genoeg om Afrikaanse musiek te ondersteun?

Dít was Woensdag een van die sleutelvrae wat tydens ʼn Fiësta-paneelgesprek in Kaapstad bespreek is. Die toekoms van kunstefeeste in die land het ook ter sprake gekom.

Die verloop van die gesprek was prontuit en eerlik: Suid-Afrikaners het één betekenis vir Afrikaanse musiek – die pop-genre.

Die gewilde kletsrymer Hemelbesem, oftewel Simon Witbooi, het tydens dié gesprek gesê die grootste sondebok in die geringe verskeidenheid in Afrikaanse musiek by feeste is die keurstelsels waarvolgens kunstenaars en musiek vir die verhoog gekies word.

“Dit is nie noodwendig die kreatiewe mense of die kunstenaars wat besluit watter musiek gespeel kan word nie. Dié wat wel hiervoor verantwoordelik is, gebruik ʼn konserwatiewe keuringsproses om die ‘kuns’ ten toon te stel. Dit sluit onder meer vrae in soos waarvan die gehore sal hou en wat die sitplekke sal vol kry,” het hy gesê.

“Afrikaans word as ʼn genre gesien, en dit is nié. Vir die laaste vyf jaar het rymklets groot sukses by ʼn fees soos die KKNK behaal omdat ons dit ʼn kans gegee het. Die oplossing hiervoor is eenvoudig: Diegene wat die reëlings maak, moet spoorsnyers stuur om nuwe musiek ʼn platform gee. Dit gebeur wel die laaste tyd, en dalk is dit politieke druk, maar dit gebeur nog nie teen ʼn goeie pas nie.”

Die sanger het gesê hoe meer Suid-Afrikaners blootgestel word aan die verskillende soorte Afrikaanse musiek wat beskikbaar is, hoe meer sal stereotipes afgebreek word.

“ʼn Vrou het eenmaal vir my gesê: ‘Jy klink soos my dominee, maar met ritme. Ek sal nie weer die kanaal oorskakel wanneer kletsrym op die televisie is nie.’ En dít is wat ons wil hê.”

Hy het verder gesê dit is ʼn algemene en internasionale neiging dat oorspronklike musiek swaarkry. “Die unieke uitdaging wat ons het, is dat die gehoor oortuig moet word dat Afrikaans nie net ʼn sekere manier klink nie. Daar is hope musiek in die soul, R&B en reggae-genre. Afrikaans is nie net pop nie. Ons kan mense se ingesteldheid nie uit die pad vee nie – ons moet hulle wys,” het hy gesê.

Shihaam Domingo, ʼn bekende in musiekkringe, het gesê musiek behoort gebruik te word om grense te verskuif en nie om mure te bou nie. “Ons moet deur musiek mense trots maak op iets soos die verskillende dialekte en rasse in Suid-Afrika. Om outentieke musiek op die verhoog te kry, is ʼn moeilike taak, maar dit is iets wat gedoen moet word. In dié stadium sien ons baie van die kommersiële musiek, maar daar is nie veel oorspronklik op die verhoog nie.”

Die bekende musikant, vervaardiger en regisseur Schalk Joubert het aangevoer die feeste in Suid-Afrika is nie verteenwoordigend van die taal se sprekers nie. “In Suid-Afrika is daar meer bruin as wit mense wat Afrikaans praat. Daar is dus ʼn soort valse eienaarskap oor die taal. Ons behoort baie meer as net die popmusiek te sien wat ons tot dusver sien. Waar is die musiek wat die meerderheid Afrikaanssprekendes maak? En wanneer sien ons dit?”

Domingo het verder gesê die gehoor ook moet leer om vir ander genres, waaronder kletsrym, te betaal op dieselfde wyse wat hulle betaal om na Afrikaanse popmusiek te luister. “Kletsrym is tot dusver baie suksesvol want toegang is dikwels verniet. Die gehoor moet leer om daarvoor te betaal. Eers dán sal dié platform suksesvoller wees en eers dán sal Afrikaanse musiek regtig verteenwoordigend word.”

Die uiteinde is eenvoudig, het Hemelbesem bygevoeg. “Ons moet stadig maar seker vir mense vertel watter musiek daar oor die land heen is sodat Suid-Afrikaners opgevoed kan word. In elkeen van daardie genres wat nóg nie op verhoë te sien is nie, is daar kunstenaars wat uitstekende musiek maak, maar niemand weet van hulle nie. Kom ons verander dit.”

Heidi Edeling, hoof van die Ghoema-toekennings, het só afgesluit: “Ons moet dit was gewild is goed maak, en dit wat goed is gewild maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Django ·

Dis baie sad dat kreatiewiteit en grensverskuiwing nie hoog geag word in die Afrikaanse samelewing nie. Daar is so baie waarlike kreatiewe musikante wat nie die erkenning (en geld) kry wat hulle toekom nie. Ouens soos Bacchus Nel, Churchill Naude, Thys Nywerheid, Riku Latti, Hemelbesem, Bittereinder doen regtig unieke dinge maar te min mense kom dit agter of gee actually om. Solank daar n beat is, eenvoudige vlak lirieke en mooi poppies in die musiek video is, dan is meeste mense happy.

Reinhardt ·

Stem 100% saam. Dit is die rede hoekom ouens soos Foto Na Dans dit nooit behoorlik suksesvol kon maak nie, hulle was by vere die mees progresiefste band in SA, musikaal ver beter as FPK. Selfs ek, wat hou van alternatief, ken nie eers vir Naude, Nywerheid en Latti nie, ek sal dit sommer NOU gaan aflaai op Apple Music.

Bittereinder, Bacchus Nel en Hemelbesem is uitstekend. Spoegwolf kry ook, volgens my, hopeloos te min krediet.

BOKGENERAAL ? ·

Ek sal sê ja en nee !! Ons verkrag ons taal daagliks met goedkoop musiek wat duidelik ñ Amerikaanse invloed het !! Afrikaans is Afrikaans !! Maklik om te sing , moeilik om te meester !! Maar die mense moet ook hulle standaard lig en regte goeie sangers kans gee om gehoor te word !! Maar nou ja !! Musiek gaan oor wat verkoop en wat nie , of hoe ?

John ·

Afrikaner-musiekfeeste is nou ook in die gedrang. Waarom wil die Kleurlinge, ‘n ander bevolkingsgroep, nou dmv hul dialek van Afrikaans die feestoneel dikteer. Gegriefdes… beswaardes… kermpotte… en so gaan die een na die ander fees in die stof byt. Waar moet die Afrikaner se kultuur gedy?

Reinhardt ·

Met so n houding gaan jy nerens kom nie. Kleurlinge en Afrikaners is dieselfde mense, dieselfde kultuur, hoe vinniger almal dit besef, hoe beter.

Francois le Cochon ·

Afrikaanse musiek het stagneer. Gaan op Youtube en luister na die Finse groep Nightwish ( Everdream, Wishmaster, Walking in the air, She’s my sin, Sleeping sun) Ons in SA is ver agter as dit by musikale kreatiwiteit en grensverskuiwings kom. (met apologie aan Django)

Reinhardt ·

So 12 jaar gelede toe ek 15 was het ek vir my beste pel daai tyd gese: Kom ons maak n Suid-Afrikaanse fantasy metal band soos Nightwish… nooit gerealiseer nie, en nou is ek spyt en niemand het meer krag vir dit nie.

Jacobus ·

Afrikaanse sangers is power. Liedjies vervelig en voorspelbaar. Min goeie stemme. Mans sing met skreeustemmetjies in falsetto note en dames nog erger. Ag nee wat, gehalte maar gemiddeld. Te maklik om CD ‘ s te maak!

Werner ·

Luister na Joshua na die reën se cd. Goeie Afrikaans. Ek het al na almal se vertonings gaan kyk… en dit het my asem weggeslaan. Jul sal nooit maar nooit spyt wees nie..

Rupert Ashford ·

As jy mense wil laat betaal vir iets, moet jy vir die ouens wat die geld het om mee te betaal, gee wat hulle na wil luister. Moet nie politiek en sosiale ingenieurswese in die proses inbring nie, die mense is vuisvoos daarvan (keelvol, buikvol….). Moet nie vir die ouens wat die geld het die hele tyd vertel hoe sleg en ongewens hulle is en dan wil he hulle moet hulle geld vir jou gee nie. Die oorgrote meerderheid van die Afrikaanse mense wat die geld het om mee te betaal probeer kliphard om te ontvlug van ‘n wereld waar hulle die hele tyd vertel word hoe sleg hulle is en daarom gryp hulle dalk die ligsinnige popmusiek wat niks beteken nie aan – dit is ‘n oorreaksie maar dit is ‘n realiteit wat al oor ‘n paar generasies (2-3) ingebore is so dit sal harde werk kos om dit te ontsetel.

Reinhardt ·

Hemelbesem slaan die spyker op die kop. Afrikaans kan net eenvoudig nie n genre wees nie. Is Rammstein Duiste musiek? Nee, natuurlik nie. Dit is heavy metal wat toevallig in Duits gesing word. Is FPK Afrikaanse musiek? Nee, natuurlik nie. Dit is rock musiek wat toevallig in Afrikaans gesing word. Noem “Afrikaanse musiek” vir wat dit werklik is: pop, country of sokkie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.