‘Afrikaanse onderrig sneuwel voor transformasiegode’

Dr. Theuns Eloff is die oudvisekanselier van die Noordwes-Universiteit, uitvoerende direkteur van die FW de Klerkstigting en voorsitter van onder meer die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Foto: www.ethlife.ethz.ch

Suid-Afrika staan tans nie net by ʼn politieke en ekonomiese kruispad nie, maar ook ʼn kruispad vir minderheidsregte.

Dit is die mening van dr. Theuns Eloff, wat die gasspreker by Akademia se 2018-gradeplegtigheid was. Die geleentheid het Vrydag in die Atterbury-teater in die ooste van Pretoria plaasgevind.

Eloff het die studente wat grade, diplomas en hoër sertifikate ontvang het, aangemoedig om hul kennis, insig en vaardighede in diens van hul gemeenskap te gebruik sodat hulle nie net kan oorleef nie, maar ook in welvaart kan oorleef.

Eloff, die oudvisekanselier van die Noordwes-Universiteit, uitvoerende direkteur van die FW de Klerkstigting en voorsitter van onder meer die Trust vir Afrikaanse Onderwys, het gesê met die taalgevegte wat tans by openbare universiteite woed, is en moet daar ʼn plek vir private onafhanklike universiteite soos Akademia wees.

Hy glo alle openbare universiteite sal binne die volgende drie jaar heeltemal verengels. “Die Universiteit Stellenbosch het gesê hy sal nog Afrikaanse klasse vir studente aanbied mits hulle daarop aandring, maar ons is ongelukkig van grootskaalse intimidasie hieroor bewus. Selfs die bestuurder het dit nou erken.

“Die NWU is nou met ʼn proses besig om die universiteit se taalbeleid te hersien en die bestuur van die universiteit is ook gesentraliseer. Wat verder kommerwekkend is, is dat die NWU nou wil hê die dekane moet self besluit watter taalbeleid hulle fakulteit moet volg.” Hy meen dit sal ʼn doodskoot vir Afrikaanse onderrig wees.

Eloff het verder aangevoer die konsultasieproses wat die NWU nou oor die universiteit se taalbeleid wil volg is maar net oëverblindery en daar is reeds besluit die universiteit moet Engels word.

“Die laaste universiteit wat uitstekende gehalte onderrig en ʼn studentelewe gebied het sal dan voor die transformasiegode van die regering sneuwel. Dit is eintlik ʼn oortreding van die artikel 29(a) van die grondwet en bruin en wit studente is die persone wat hierdeur benadeel word.”

Hy het gesê die Universiteit van Pretoria (UP) en die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) het besluit om te verengels omdat die howe bevind het Afrikaans as onderrigmedium is diskriminerend en rassisties. “Die hof se bevindinge het in werklik ook parallelmediumonderrig ongrondwetlik gemaak terwyl die beslissing rondom die UP se taalbeleid bevind het daar moet eerder gelyk teen alle studente gediskrimineer word as om Afrikaanse onderrig te verskaf,” het hy gesê.

Eloff meen dit is waarom dit so belangrik is dat Akademia nou al meer ʼn simbool van gehalte Afrikaanse hoër onderwys word.

“Ons het ʼn tweeledige strategie as dit by Afrikaanse onderrig kom ons sal openbare onderwys so ver moontlik steeds ondersteun met ʼn Afrikaanse onderwysnetwerk wat sal sorg dat ʼn pyplyn van Afrikaanse leerders van kleuterskool tot op tersiêre onderrigvlak geskep word.

“Verder moet ʼn model vir onafhanklike Afrikaanse skole gekry word, selfs al beteken dit ʼn maatskappy moet gestig word om die soort private skole te bou en die skole te vestig landswyd, nie net in die ooste van Pretoria nie. Afrikaans skole, veral in die noorde van Suid-Afrika, is toenemend onder druk.”

Eloff het gesê Akademia het talle eienskappe wat daartoe meewerk om dié hoëronderwysinstelling spesiaal te maak en vir die toekoms goed te posisioneer.

“Die Christelike karakter van die instelling, asook die dissipline, werksetiek en toewyding van die dosente sowel as die studente maak die instelling uniek. Bowendien bied Akademia studente gehalte bekostigbare onderrig in Afrikaans.”

Eloff het verder gesê Akademia se gebruik van tegnologie en sy reikwydte, met sy 13 studiesentrums, maak die instelling ook besonders. Die feit dat daar beplan word om ʼn residensiële kampus in 2020 te open en dat daar reeds hard gewerk word om internasionale erkenning te kry is nog ʼn pluspunt vir Akademia, het Eloff bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

geregtigheid ·

Dit is die vloek Moegoeng Moegeng. Viva Akademia & Sol Tech!

Burger ·

Waar is FW de Klerk en trawante ………wigte en teen wigte om die behoud van minderhede te beskerm? Nou moet dr. Theuns Eloff dit probeer reg praat

PJ ·

Nou net so slim soos de klerk wat sè die anc het vir hulle gelieg hierdie selfde man was ook baie beindruk met die nuwe S A nou sien hy hy minderheidsregte in gedrang glo hy en de klerk en kie dai wigte en teenwigte in werking stel

ook koos ·

waar gaan al hierdie wit afrikaanse gegradueerdes van Akademia nou werk kry? Weet hulle nie van regstellende aksie en BEE en radikale ekonomiese transformasie nie? Na ‘n lang gesukkel om ordentlike werk te kry, het ek uiteindelik my universiteitskwalifikasies AFGEHAAL vanaf my CV. Dit, saam met my matrieksertifikaat (nogal uit die ou SA ) en ook leuens op my CV oor my werksondervinding, het my darem weer ordentlike werk gegee, maar eks steeds JARE agter van waar ek kon gewees het as daar geen regstellende aksie was nie.

Boerseun ·

By my Koos . Hou op so pessimisties oor volkseie aksies wees

Hendrik van George ·

Ook een van die ANC meelopers van jare gelede…

Paul ·

Wigte, wigte, wigte …… waar is die teenwigte? Wat dit ook al mag beteken. WF, kan jy help wat jou bedoeling daarmee was. Wigte voel vir my al meer soos voetboeie, die teenwig moet seker die sleutel wees, maar FW het dan die sluitel weggegooi, so wat nou?

Joe Hall ·

Ongelooflik!!!
Theuns Eloff is dan die een wat die PUK se huidige vise-kanselier se beuel geblaas het en vertel het watse wonnirlike aanwins hy vir die PUK sou wees.
Volgens berigte is dit juis olv hierdie Eloff-gesalfde dat die transformasie spook tot by die huidige uitwissing van Afrikaans by die PUK ‘gevorder’ het.
Is daar geen einde aan die verraad nie???

Ivan Kortje ·

nee oom jorie die Here wil he ons moet ons self help. Hy het so kwaad geword op n stadium toe hy in sy tempel kom en sien wat alles daar aangaan toe raak hy BOOS.

Pieter ·

Theuns jy het dan agter almal se rug skelm met die anc in dakar gaan onderhandel om ons saam FW uit te verkoop. Uit hoeveel monde wil jy nou praat?

N Lourens Reitz ·

Net so Pieter en nou luister ek moeilik na Theuns.

Lolla ·

Dink ons moet al ons “te Afrikaanse” belasting geldjies terug hou en n privaat Afrikaanse Universiteit bou! Ons is mos die mi derheid, so die minderheid belasting behoort mos geen duik of leemte by SARS te maak nie ne?!

Koos ·

Kan nie glo Akademia gee Eloff ‘n platform nie!!! Ek heroorweeg my lidmaatskap van AfriForum al hoe meer elke dag. Hierdie man het die Puk help verengels en nou is hy by die Pienk Frikkie Stigting. Waarvoor nooi julle hom uit? Ek sou dit verstaan het as die doel was om hom te teernen veer.

Eish ·

Ja née wragtig, ek verstaan ook net kol-kol hiervan en dit is bokkerol.
In n onderhoud met Hannalie Retief op TV was hy dan so buitengewoon optimisties oor die toekoms.
Ek kon my ore nie glo soos hy sy Dakar trippie en ander ekskursies geregverdig het nie.
Die FW de Klerk webblad is ook Engels, so ek weet nie hoekom sing hy saam met ons uit die klaagliedere nie.

Genoeg ·

Dit is tyd vir self beskiking, daar is geen toekoms meer vir ons nie in die nuwe SA nie. Hou op stem vir die stupid DA, etc. hoeveel keer moet almal nog hulle koppe stamp.
Fokus om die boodskap van ‘n eie volkstaat daar buite te kry. # of enige sosiale media of wat ookal.

ANTI-ANC, EFF,DA ·

Stem tog asb NUGTER – stem vd Vryheidsfront. HOU hulle in die regering.
Hou jou oë op Jesus

Casper Labuschagne ·

Dr Eloff is besonder optimisties as hy praat van drie jaar vir Afrikaans, die werklikheid sal wees dat 2018 die laaste jaar van onderrig in Afrikaans sal wees by die tradisionele Afrikaanse universiteite. Tot en met 2019 sal daar ‘n vlaag populistiese aanslae wees op elke instansie wat met Afrikaans verband hou, en die regerende party sal noodgedwonge Afrikaans as taal van onderrig op alle vlakke, minderheidsregte vir Afrikaans en Afrikaners opoffer om die erosie van stemme na links te beperk. Wat anders kan die regerende party offer wat die golf van radikale populiste dalk mag stuit? Voor die einde van hierdie jaar sal die gevolge van die inwerkingstelling van onteiening sonder vergoeding ook so ‘n geweldige impak hê dat die behoud van Afrikaans by universiteite dalk verminder sal word tot ‘n netelige punt.

Jakkalsdraai ·

Liewe hemel, wat makeer Akedemia om die man toe te laat op hul gradeplegtigheid. Wil hulle he hy moet Akedemia ook weer oor ‘n paar jaar transformeer. Lyk vir my mense leer net nie. Kyk asb tog met omsigtigheid met wie julle meng.

Jaco ·

Vraag is gaan die grade wereldwyd aanvaar en geakkrediteer word wat Akademia aanbied? Sal graag al my kinders in Afrikaans wil laat studeer solank hul kwalifikasies daarna aanvaar gaan word. Afrikaans is onder baie druk en Afrikaners onder nog meer met grond en BEE en die klas van goete. Kan dalk vir die kinders beter wees om in engels dan in buiteland te studeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.