Afrikaanse regslui vra vergadering oor taalbesluit

Foto: pixabay

 

Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) eis ʼn vergadering met die nuutgestigte Regspraktisynsraad (RPR) oor sy eensydige besluit om Afrikaans in prokureurstoelating-, boekhouding-, notariële en akte-eksamens af te skaf.

Die VRA-gilde vra dat dié besluit herroep word.

“Afrikaans en Engels geniet ʼn trotse, parallelle en langdurige bestaan in die Suid-Afrikaanse regstelsel. Die fokus van die RPR moet eerder wees op die behoud van Afrikaans en Engels in die regsberoep, sowel as die uitbreiding van ander inheemse tale,” het Werner Human, woordvoerder van die VRA-gilde, in ʼn verklaring gesê.

“Hierdie besluit ondermyn die veeltalige mandaat wat uit die Grondwet spruit en stel in sy plek ʼn eenvormige en gesentraliseerde bestel wat indruis teen die aard van die regsberoep, ʼn beroep wat divers in sy samestelling en beoefening is.”

Die gilde het aangebied om ʼn voorlegging aan die RPR te doen wat die kwessie van veeltaligheid in die regsberoep regstreeks hanteer en wat ingaan op maniere om dié ideaal te verwesenlik. Hy het gesê die besluit hou sekere grondwetlike en administratief-regtelike gevolge in. Dit is om dié rede belangrik om direk met die RPR te praat.

Die gilde het gesê hy behou die reg voor om verdere stappe te doen, sou die raad nie reageer op sy versoek om ʼn gesprek oor die kwessie te voer nie.

Cerneels Lourens, ʼn prokureur en taalaktivis, het die raad se besluit as ongrondwetlik bestempel. “Hulle het versuim om te konsulteer en dit maak hulle besluit onmiddellik ter syde stelbaar.

“Ek ondersteun die VRA-gilde se versoek om ʼn gesprek, maar ek het groot twyfel in enige positiewe uitkoms deur ʼn gesprek. Die Black Lawyers Association benoem die regsraad en hulle is anti-Afrikaans.”

Lourens het gesê die raad moes Afrikaans behou het en eerder die ander amptelike tale óók begin bevorder het. Volgens hom sou hulle eerder selfs van die kandidate kon aanmoedig om in byvoorbeeld ʼn inheemse taal eksamen te skryf.

“Die ontwikkeling van die ander nege amptelike tale is ʼn langtermynprojek, maar met hulle benadering om sommer Afrikaans af te gradeer tot op die vlak van nie-gebruik, soos ander Afrika-tale, dui daarop dat die regsraad geen geloof in die elfsnaar-kitaar van amptelike tale het nie. Hulle speel op hulle ramkietjie met net een Engelse snaar.

“Hierdie is ʼn ingrypende besluit ter ondermyning van Afrikaans se hoë funksie as regstaal en drink uit put van hoofregter Mogoeng Mogoeng se droë fontein om Engels as enigste amptelike hoftaal te verklaar, sonder dat hy enige grondwetlike magtiging daartoe gehad het,” het Lourens gesê.

Hy het gesê die besluit is net tot nadeel van Afrikaans.

“Wat my die meeste kwel, is die ruggraatloosheid van senior Afrikaanse regslui, waaronder regters en advokate, om nie op te staan vir hulle eie taal nie. Dit is die rede hoekom die regsraad die moed het om op Afrikaans te trap – omdat dié mense nie opstaan vir die taal nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Iets waaroor ek nogal wonder is waarom daar ‘n regsvereniging nét vir Swartmense is, so ook ander eksklusiewe verenigings vir bv Swart besigheidslui. As Blankes ‘n eksklusiewe vereniging sou instel, sal dit onmiddelik gebrandmerk word as rassisties.

Piet ·

Ek stem saam met die besluit, hoekom moet Afrikaans in die eksamen wees en geen van die ander tale nie. Dit is nie reg nie. As ek zulu kan praat kan ander afrikaners ook leer.

Andreas ·

Dit sal nou almal tevrede stel as hulle sommer Engels ook afskaf, dan is ons nou presies waar ons met Eskom is, “in the gutters”.

Philippus Janse van Rensburg ·

As ek in die hof sou verskyn, en daar is nie ‘n tolk nie, of daar word gebrekkig getolk sodat my saak nie behoorlik aangehoor word nie, kan ek dan aandring dat ek vrygeskeld word? Immers, die Grondwet laat my nog altyd toe om Afrikaans te gebruik!

Johan ·

Onthou, ons is in hierdie wereld en nie van hierdie wereld nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.