Afrikaanse sakelui opgewonde oor kriptogeld

dawie-roodt-blokkettingtegnologie-afrisake-2017-11-22

Dawie Roodt sê hy dink nie regerings en politici is heeltemal gereed vir die soort verandering wat kriptogeldeenhede gaan meebring nie. Foto: Reint Dykema.

Kriptogeldeenhede is hier om te bly, dit gaan die wêreld van finansies onherroeplik verander en Afrikaanse sakelui is opgewonde hieroor.

Sakelui wil weet hoe dié jongste tegnologiese revolusie hul ondernemings kan help om uit te brei. Die sakeregtewaghond AfriSake het Woensdag ʼn konferensie oor blokkettingtegnologie, die tegnologie waarop kriptogeldeenhede soos bitcoin en ethereum gebou is, in die Atterbury-teater in Pretoria aangebied.

Die teater was tydens die geleentheid stampvol konferensiegangers. Volgens die organiseerders was daar selfs ʼn waglys om die konferensie by te woon en sommiges moes weggewys word omdat die belangstelling in die onderwerp só groot was.

“Hierdie is ʼn konferensie wat handel oor radikale ekonomiese tegnologie. Daar is nuwe tegnologiese veranderinge wat aan die gebeur is, ʼn nuwe manier van kommunikasie, ʼn nuwe manier van hoe geld verhandel en uitgeruil kan word en datastrukture vasgemaak word. Dit het ʼn implikasie vir sakelui en natuurlik wil die entrepreneurs wat hier is vandag aan die voorpunt van dié tegnologie wees,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, gesê.

Le Roux sê politici se deurlopende uitlatings oor radikale ekonomiese transformasie en wat dit vir sakelui en hulle ondernemings in Suid-Afrika inhou laat hulle dikwels radeloos.

philip-loots-blokkettingtegnologie-afrisake-2017-11-22

Philip Loots verduidelik konferensiegangers hoe blokkettingtegnologie werk. Foto: Reint Dykema.

“Soos voorheen in die geskiedenis is dit tegnologie wat help om ekonomiese en maatskaplike veranderinge in te lui. Die industriële revolusie en verskeie ander omwentelinge het ʼn ander manier van sake doen teweeggebring en ʼn ander manier van maatskaplike organisering van hoe state byvoorbeeld funksioneer, van hoe politiek werk en van hoe mag versprei word veroorsaak.

“Die blokkettingtegnologie is so ʼn meganisme wat ʼn ander manier van koördinasie moontlik maak. Dit is internasionaal onmiddellik en meer en meer afhanklik van selfregulering. Dit is beslis iets om van kennis te neem en ek sal mense aanmoedig om te kyk hoe hulle dit kan gebruik in hulle sakeondernemings, want dit is op die ou einde waaroor entrepreneurskap gaan: om vandag besluite te neem oor hoe die situasie môre sal lyk.”

Dawie Roodt, ekonoom van die Efficient-groep en een van die sprekers by die konferensie, het gesê hy dink nie regerings en politici is heeltemal gereed vir die soort verandering wat kriptogeldeenhede gaan meebring nie.

“Politici sal beslis probeer om kriptogelde, of private geld te reguleer, maar ek dink nie hulle besef wat hulle gaan tref nie,” het Roodt gesê. Hy reken een van die voordele van iets soos bitcoin is dat die oomblik wat jy dit koop jou geld geïnternasionaliseerd is, wat buitelandse valutabeheer ongedaan sal maak.

Roodt het egter gewaarsku dat kriptogeldeenhede tans nie as ʼn belegging beskou moet word nie, maar eerder ʼn geleentheid om te spekuleer. “Ek dink mense moet dit sien as ʼn geleentheid om deel te wees van ʼn nuwe gemeenskap en ʼn nuwe beweging.” Roodt was dit met ander sprekers eens dat dié soort tegnologie beslis hier is om te bly en nog verder ontwikkel sal word.

“My beste raad hieroor is, soos met enige ander beleggings, maak maar net altyd seker met wie jy sake doen,” het Roodt gesê.

Chris Becker, ʼn ekonoom van Investec, het gesê hy is veral opgewonde oor die moontlikhede wat kriptogeldeenhede vir die jeug en toekoms kan bied.

“Iets soos die hiperinflasie in Zimbabwe en die ekonomiese chaos van Venezuela sal nooit weer met die gebruik van blokkettingtegnologie gebeur nie. Kriptogeldeenhede en blokkettingtegnologie sal nie deur politieke onrus en kredietafgraderings geraak word nie.

“Hierdie is ʼn oopbron, toestemminglose oordrag van waarde. Dit is ʼn globale gemeenskap wat saamwerk om ʼn nuwe soort geldstelsel te bou vir ʼn beter toekoms en dit is hoekom die jeug so opgewonde daaroor is. Jy hoef nie iemand se toestemming te vra om deel te hê hieraan nie en regerings kan dit nie stopsit nie,” het Becker bygevoeg.

Hy reken die tegnologie staan nog in sy beginskoene maar dit is ʼn natuurlike progressie van sake en deel van ʼn nuwe soort kulturele revolusie wat die finansiële en sakewêreld soos ʼn vloedgolf gaan tref.

abraham-cambridge-blokkettingtegnologie-afrisake-2017-11-22

Abraham Cambridge sê blokkettingtegnologie verskaf ook goeie beleggingsgeleenthede.Foto: Reint Dykema.

Nog ʼn spreker, Abraham Cambridge, het verduidelik hoe The Sun Exchange private elektrisiteit, wat deur sonpanele opgewek word in Afrika, net nie deur blokkettingtegnologie en skarebefondsing finansier nie, maar ook ʼn beleggingswaarde vir die investeerders bied.

“Banke bied die millennium-generasie soos myself nie eintlik beleggingsgeleenthede wat ons regtig opgewonde maak in hierdie ekonomiese klimaat nie. Hier is ʼn geleentheid waar mense kan belê in skoon energie wat gedesentraliseer is en demokraties versprei word,” het Cambridge verduidelik.

Volgens Le Roux sal al die voorleggings van die blokkettingrevolusie-konferensie binnekort op AfriSake se webwerf en Facebook-blad beskikbaar wees.

Roodt het bygevoeg dat die Efficient-groep tans besig is om ʼn produk te ontwikkel om mense wat nog effens versigtig vir dié nuwe tegnologie is te bemagtig.

  • Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, het tydens die konferensie met Esté Meyer Jansen van Maroela gesels. Le Roux verduidelik hoekom blokkettingtegnologie iets is om van kennis te neem en waar ʼn mens meer inligting hieroor kan bekom. Luister gerus na die gesprek bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Fran ·

“……. sal nie deur politieke onrus geraak word nie” :/
Wanneer iets te goed is om waar te wees, is dit nie waar nie.
My vriendin het pas R100 000 met bitcoin verloor. Dink wat julle doen en doen wat julle dink.

Naam ·

Hoe kry sy dit reg as bitcoin so gestyg het en nou op rekordvlak verhandel?

Rubbish ·

Jou vriendin het duidelik die verkeerde mense vetrou en haar geld verloor aan mense wat haar ingedoen het, moenie Bitcoin die skuld gee nie asb. Dis mense soos julle wat Bitcoin n slegte naam gee.

RB ·

Dit vat talent om te verloor op iets wat in die laast jaar alleen amper 1000% gestyg het…Bedoel sy dalk dat sy nie geld ingesit het nie en dus uitgemis het op R 100 000?

Naam ·

Kon dit nie beter stel nie. Los die scams. Jy kan btc in zar koop op Luno.

Gert ·

Een wereld geldeenheid. Een regeerder. Wereld orde. Alles pas mooi in luminati se planne.

RB ·

Daar is baie kriptogeld eenhede…en hulle werk doelbewus so dat geen entiteit dit beheer nie…Dit is dus presies die teenoorgestelde van ‘n luminati se enkele geldeenheid…Wanneer mense die kriptogeld eenhede probeer onderdruk, dan moet jy bekommerd raak.

Stephen Namibia ·

Die mense wat geld verloor doen besigheid met obskure “exchanges” maak seker dat die Agent verwysings met bestaande kliente het.
Ek het Bitcoin gekoop in Julie teen 3227USD elk. Ek kry maandeliks my rente op n kaart wat ek kan gebruik plaaslik en oorsee.
Nee wat dis n veilige manier om geld te verdien maar deelnemers word gereeld gewaarsku om met die regte mense besigheid te doen. Kry n lys van mense by die Agent en doen navraag. Dis jou eie skuld as jy geld met n slenter verloor.
Bitcoin is die geld van die toekoms.

Gerhard ·

Daar is n verskil tussen Bitcoin en dit wat hierbo bespreek/beplan word. Ek stel voor julle lees die artikel op Orania blog

Boerseun ·

Kriptogeld het geen waarborge nie. Bitcoin is tans in ‘n geweldige borrel en mense gaan als verloor.

RB ·

Geen geld het enige waarborge nie…dit is lankal nie meer aan iets soos goud gekoppel nie…Verskil is mense soos Mugabe kan nie Kriptogeld direk beinvloed nie.

A Mac ·

Laat die sakelui maar opgewonde raak, maar ek laat my swaar gespaarde geldjies maar eerder hulle 5- of 6% rente in die bank trek en ek weet ek kan dit dadelik kry as ek dit nodig mag hê. Eerder bang belegger as verloor belegger!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.