Dokters het die Afrikaanse sanger Adam Barnard met ʼn kombinasie van twee siektetoestande gediagnoseer nadat hy al ʼn geruime tyd hemodialise-behandelings ontvang omdat sy niere nie behoorlik werk nie.
Barnard is in die eerste week van Maart in die hospitaal opgeneem waar hy aanvanklik steeds hemodialise-behandelings en fisioterapie gekry het. Woensdag het hy op sy amptelike Facebook-blad bekendgemaak dat dokters meen sy toestand kan toegeskryf word aan ʼn mengsel van neuropatie-sindroom en Guillain-Barré-sindroom.
Neuropatie-sindroom word gekenmerk deur die verlies van gevoel in ledemate, soos die hande. Guillain-Barré-sindroom is ʼn outo-immuunsiekte wat ʼn persoon se senuweestelsel aantas en verlamming veroorsaak.
Henri Scott, Barnard se woordvoerder, het vroeër aan Maroela Media gesê Barnard het mettertyd gevoel in onder meer sy hande, bene en voete verloor, wat veroorsaak het dat hy kruppel begin loop het. Hy het ook gesê die sanger hoop om vanjaar ʼn nieroorplanting te kry.
Tans ontvang Barnard nie meer behandeling nie, maar slegs rehabilitasie. “Adam kry nie meer behandeling nie, want dokters sê die behandeling sal nie meer vir hom inhou as wat reeds die geval is nie en hy sal ook nie verder verswak nie. So, die rehabilitasie is om hom nou sterk te maak en sy liggaam weer te leer wat hy nie meer kan doen nie. En hopelik is dit nou die pad vorentoe,” het die inskrywing op sy Facebook-blad gelui.
Daar is ook ʼn beroep op sy aanhangers gedoen om vir genesing te bid. “Onthou asseblief daar is mag in die tong. Wat ons sê, het ʼn invloed in die geestelike wêreld [en] op dit wat op aarde gebeur. Baie, baie dankie vir almal se boodskappe, SMS’e, skenkings en omgee-kuiers. Ons het ʼn wonderlike gemeenskap wat agter ons staan en nog meer, ʼn land se omgee. Dit is ongelooflik.”
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
20 Kommentare
Adam ons sal jou beslis opdra aan ons groot geneesheer wat jou styf teen sy bors sal vashou. Soos jy weet is niks vir hom onmoondlik nie. Sterkte en ek spreek die Here se seën oor jou en jou familie uit.
Sterkte. Ons Vader doen Wonderwerke. In Jesus Naam. Amen.
Adam, man van God, Hy hou jou stewig in Sy hande en sal jou nie verlaat nie. Sterkte en gou gesond word, sodat jy jou dogtertjie kan drukkies gee.
Sterkte vir jou en jou geliefdes. My gebede is met julle. Onthou Jesus Christus se wonderwerke op aarde deur die krag van God die Vader en die Heilige Gees is met jou en almal na aan jou.
Ons bid vir jou, ou grote.