Afrikaanse skole bly baken van hoop

hugo-vermeulen-hh-sos

Hugo Vermeulen, die hoof van Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum. Foto: Verskaf.

Indien die probleme rondom wiskunde-onderrig voortduur, sal net twee gr. 1-leerders uit elke klas van 35 kinders, wat môre hul skoolloopbaan afskop, daarin slaag om meer as 40% in dié vak in matriek te behaal.

Solidariteit Helpende Hand se skole-ondersteuningsentrum het Dinsdag sy verslag bekendgestel waarin die sentrum die uitslae van wiskunde, Afrikaans moedertaal, fisiese wetenskap en rekeningkunde in Afrikaanse skole ontleed het.

Hugo Vermeulen, hoof van die sentrum, het weereens sy kommer oor die stand van nasionale wiskunde-onderrig uitgespreek. “Net 51% van ons matrieks het wiskunde geslaag en dit beteken 49% van die leerders kon nie slaag om eens 30% vir die vak te behaal nie.

“Boonop kon 66,5% van die leerders nie daarin slaag om meer as 40% vir die vak te behaal nie, terwyl dit een van die vakke is wat opwaarts aangepas is. Verder het leerlinge, wie se moedertaal nie Engels of Afrikaans is nie, outomaties ʼn verder 3% gekry omdat hulle die vraestel in hul tweede of derde taal moes aflê. Net 1,3% van alle leerders wat wiskunde in matriek geslaag het, het ʼn onderskeiding behaal.”

Vermeulen het ook die groot fokus op ʼn vak soos wiskunde verklaar. “Wiskunde bly ʼn belangrike vak, want dit is noodsaaklik vir probleemoplossing. Hoe beter jy in wiskunde vaar en hoe meer blootstelling jy aan die vak kry, hoe beter is jou probleemoplossingsvaardighede. Meer kinders moet wiskunde neem en slaag terwille van die toekoms van hierdie land.”

Die gehalte van onderrig by Afrikaanse skole bly egter ʼn baken van hoop. Die 721 Afrikaanse skole het vir nie minder as 31,9% van die onderskeidings in wiskunde gesorg nie. Die groep verteenwoordig slegs 10,6% van al die skole wat verlede jaar se matriekeksamen afgelê het.

“In Afrikaanse skole sal 20 leerders in ʼn klas van 35 in gr. 1 die kans staan om meer as 40% in wiskunde te behaal as hulle die matriekeksamen skryf,” het Vermeulen gesê. Die sentrum beskou ʼn Afrikaanse skool as ʼn skool wat Afrikaans op moedertaalvlak aanbied.

Volgens die verslag het die Hoërskool Menlopark in Pretoria die beste gevaar in wiskunde, rekeningkunde en fisiese wetenskap. In die tweede plek is Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch, gevolg deur Westville Boys High in KwaZulu Natal. Die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Hoër Meisieskool Bloemhof en Afrikaanse Hoër Seunskool was die ander Afrikaanse skole uit die top sewe skole wat die meeste onderskeidings in die vakke behaal het.

Vermeulen meen egter hoewel die meeste van die presterende skole in stedelike gebiede is, beteken dit nie landelike skole kan nie ook in hierdie vakke presteer nie.

“Thengwe Secondary School en Mbilwe Secondary School, beide Venda-skole in Limpopo, slaag nou al verskeie jare daarin om onderskeidelik die 14de en 15de meeste onderskeidings in fisiese wetenskap op te lewer. Hierdie skole is kwintiel 2-skole. Hulle het nie geld nie, maar die skoolhoofde het leierskap geneem en die onderwysers is gedissiplineerd. Die leerders kry elke naweek en vakansie ekstra klasse.”

Vermeulen sê die prestasie van Afrikaanse skole moet die nodige erkenning kry. “Die skole lewer uitstaande prestasies ongeag uitdagings. Hul suksesse moet die bloudruk vir die res van die land wees.

“Hul prestasie is opnuut net weer ʼn bewys dat moedertaalonderrig die antwoord is vir beter matriekuitslae. Sotho- en Zulu-kinders het ook die reg om onderrig in hul moedertaal te ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
John

Die probleem is: Hulle wil net die skoolgebou he. Hulle sal self die leerlinge en onderwysers verskaf. En steeds bly hoop dat ‘n skatkis vol skoolfonds iewers onder die vorige wit skoolhoof se kantoor begrawe le. Hulle bly ook woedend omdat veral die Wiskunde-onderwysers hul towerstaffies vir kits-prestasie saamgevat het (eintlik gesteel het) toe hulle uitgewerk is.
En na 12+ jaar verander die frustrasie in ‘n mite, genaamd wit-rassisme…

Johanna Botha

Nou hoekom wil Lasufi aan dit verander as dit soveel beter werk …hoekom iets regmaak wat nie gebreek is nie ? Is hy dan dom ?

Gerhard

Let op, die beskrywing by die foto het ‘n spelfout.

JC

AFRIKAANS=PRESTASIE: VAN DIE Kaap (LEES: KAAPS/AFRIKAAPS) TOT IN Pietersburg!!

Skim

Hulle brand steeds na 22 jaar NA apartheid hulle EIE skole af waar daar nie afrikaans of iets vreemds of koloniaals op hulle afgedwing word nie. Onderwysers kom eers 09:00 skooltoe . en van die leerlinge glad nie, hulle gooi klip of steek bande aan die brand of rand onderwysers aan, verder is die DEPARTEMENT altyd laat met skoolboeke so teen September het die meeste bloedjies nog nie hulle handboeke nie . . so ja .. jy kan die perd tot by die water bring maar hom nie LAAT drink nie.