Afrikaanse skole minder, maar groter

Leerders aan die Laerskool Rooihuiskraal.  (Foto: Maroela Media)

Die getal Afrikaanse skole in Suid-Afrika het in agt jaar met 15% afgeneem, tog is daar nie ʼn soortgelyke afname in kinders wat in Afrikaans wil skoolgaan nie.

Gevolglik word Afrikaanse skole al groter, met ʼn gemiddeld van amper 1 000 leerders per skool, dubbeld soveel as die nasionale gemiddeld.

Luidens navorsing wat Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum onder enkelmedium Afrikaanse skole gedoen het, was daar verlede jaar 1 303 van dié skole in die land, teenoor die 1 531 Afrikaanse skole in 2012. Dit sluit openbare én privaatskole in.

Die totale getal skole landwyd het óók sedert 2012 met 828 (3,2%) afgeneem en daar is jaarliks omtrent 100 minder skole in die land. Die aantal Afrikaanse skole het egter baie vinniger afgeneem.

Die rede hiervoor, sê die SOS, is die voortdurende druk op Afrikaanse skole om Engelse leerders te akkommodeer. “Navorsing toon dat daar ʼn daadwerklike risiko is dat Afrikaanse skole, wat parallelmedium word, in die toekoms heeltemal kan verengels. Parallelmediumskole is meesal slegs ’n tydelike reëling in die oorgang na Engels.”

Data uit die verslag dui daarop dat die meeste Afrikaanse skole in die Wes-Kaap geleë is, dan in die Noord- en Oos-Kaap (elk amper 350) en dan in Gauteng (300). Die Vrystaat het 200 Afrikaanse skole. Die grootste afname in Afrikaanse skole was in die Oos-Kaap, wat amper dubbel soveel Afrikaanse skole in 2012 as in 2020 gehad het.

Grafiek: SOS

Die getal onafhanklike Afrikaanse skole het wel toegeneem. In 2012 was daar 183 onafhanklike Afrikaanse skole, wat tot 223 onafhanklike skole in 2020 gegroei het. Die grootste toename was in die Wes-Kaap, waar 57% meer onafhanklike Afrikaanse skole geregistreer is. Gauteng toon ʼn groeikoers van 40%, terwyl Mpumalanga en die Vrystaat ʼn klein afname in onafhanklike skole toon.

Die navorsing wys ook daar was nie ʼn soortgelyke afname in Afrikaanse leerders nie, maar dat Afrikaanse skole bloot meer leerders inneem. In 2020 was daar 690 490 leerders in Afrikaanse enkelmediumskole teenoor 756 071  in 2012. Dit verteenwoordig ʼn afname van 8%.

Grafika: SOS

Die grootste Afrikaanse openbare skole is in Gauteng, met ʼn gemiddeld van 970 leerders per skool teenoor die nasionale syfer van 439.

“Volgens die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se Demografieprojek: Deel 1 toon die 2011-sensus ’n wesenlike styging in die getal Afrikaanssprekende kinders (wit en bruin) jonger as vyfjarige ouderdom (StatsSA, 2012),” lui die verslag. “Dié klein ‘baba-ontploffing’ het verreikende implikasies vir instellings en kultuurorganisasies. Weens die groter getal kinders was daar ná 2011 ’n toename in kleuterskole en ’n groter vraag na laerskole in Afrikaanse gebiede.”

Hierdie styging in die Afrikaanse leerdertal sal later ’n groter vraag na Afrikaanse hoërskole en teen 2030 ’n groter vraag na tersiêre onderwys in Afrikaans tot gevolg hê, meen die SOS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swerwer ·

Afrikaans sal seëvier. Die regering kan maar probeer om Afrikaans uit te roei, hul sal dit nie regkry nie.

Jax ·

Ahhh Laerskool Rooihuiskraal is maar my hart se punt en Meneer Ferdie is die aller beste skoolhoof.
Afrikaans Sal bly bestaan solank as wat ons steeds bly veg daarvoor en ons pragtige taal suiwer hou!

Louis ·

Centurion is baie gelukkig met drie van die top laerskole in die land (Hennopspark, Wierdapark en Rooihuiskraal). Moet ook nie van Bakenkop vergeet nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.