Afrikaanse skole minder maar sterker

skool-21.jpeg

Argieffoto

Solidariteit het vandag sy kommer uitgespreek oor die afname in die getal Afrikaanse skole, maar is nie bekommerd oor Afrikaanse onderrig nie.

“Dit gaan goed met Afrikaanse skole. Hulle is wel minder, maar hulle is groter en Afrikaanse wêreldklasonderrig is steeds moontlik,” het die vakbond gesê.

Dit volg nadat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, in die parlement aangedui het dat die aanvraag na Afrikaanse onderrig afgeneem het en dat daar daarom ʼn afname in Afrikaanse skole is.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het dit wel gebeur dat leerlinge tussen skole gemigreer het as gevolg van die proses om skole na dubbelmedium-skole om te skakel wat later verengelsing tot gevolg gaan hê.

ʼn Groot rede vir die afname in die getal skole lê daarin opgesluit dat daar nie nuwe skole gebou word nie en talle van die bestaande skole verwaarloos en in onbruik verval het. “Die migrasie het egter groter en sterker Afrikaanse skole tot gevolg gehad,” het Buys gesê.

Buys voer aan dat minder skole nie noodwendig minder Afrikaanse leerlinge beteken nie. “Daar bestaan steeds ʼn behoefte omdat Afrikaanse skole van die beste skole in Suid-Afrika is,” het Buys gesê.

Solidariteit is in gesprek met verskeie rolspelers in die Afrikaanse onderwysomgewing om na oplossings vir die toekoms van Afrikaanse onderrig te soek. Sterk klem word op die volgende aspekte geplaas:

1. opleiding van meer Afrikaanse onderwysers – Aros is reeds besig om 1 000 Afrikaanse laerskoolonderwysers op te lei;
2. die Rapport-onderwysfonds;
3. voortgesette ontwikkeling van onderwysers deur Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum – dié sentrum het reeds ook vanjaar honderde onderwysers deur geslaagde konferensies bereik;
4. maatskaplike bystand aan kinders – Helpende Hand se voedingskema bereik 5 000 kleuters per dag;
5. voorsiening van skryfbehoeftes deur Helpende Hand;
6. metodes om outonomie van openbare skole te beskerm;
7. finansiële selfstandigheid van skole;
8. beter samewerking tussen rolspelers in die onderwysomgewing;
9. waar nodig sal ons ook die uitvoerbaarheid van Afrikaanse privaatskole ondersoek; en
10. Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum ondersoek die moontlikheid om tegnologie soortgelyk aan dié van Akademia te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Michael ·

Privaat afrikaanse skole wat bekostigbaar is vir almal wat in afrikaans wil studeer op n kurrikulum wat nie n grap is soos die huidige een nie.

Barbara Nagel ·

Afrikaanse skole word groter, maar die getal leerlinge per klas word te veel vir sinvolle onderrig veral in die kwesbare grondslagfase. Die druk op onderwysers word groter weens groot klasse en gevolglike stresverwante probleme. Die belaglike kurrikulum word beslis bevraagteken, want leerlinge word nie onderrig nie, maar geassesseer en onderwysers werk hulle stokflou. Daar is n groot skroef los in ons onderwysstelsel!

Pie van die Sky ·

Barbara, jy slaan die spyker op sy kop. By vele Afrikaanse laerskole sit tans tussen 35-40 kinders per klas. Dis “okei” met madam motshekga se onderwyser voorsiening… Die verskuilde agenda is tans om “ou” onderwysers uit te put en dan te verjaag (en vervang) asook om Afrikaanses op ‘n knop te druk in toenemend minder skole. Die wat nie sien wat aangaan nie kan net publieke skole bekostig, en die wat meer kan bekostig sit hulle kinders in privaatskole. Ons staan tans midde in die rewolusie teen Afrikaanses en dis waar die skroef los is.

Pie van die Sky ·

Hallo Michael? Wat beskou jy as “bekostigbaar” in terme by privaatskole? En hoe beoordeel JY dan nou die kurrikulum? Weet jy dat privaatonderrig by Europese privaatskole gemiddeld €1400 p/m kos? (sluit GEEN buitemuurs in nie). Waarom is publieke onderrig by SA skole gratis dink jy? En waarom skree Motshega die Matriekuitslae is “so goed” as daar n 97% slaagsyfer is? Dit beteken slegs dat die Graad 12 van tans by publieke skole, nie eens die papier werd is waarop dit gedruk is nie! ALMAL het nou n Matriek, maar IEMAND kry meer werk nie. Dis waar openbare onderwys in SA tans is… So as jy jou kind in privaatskool kan sit, mooiso maar haal uit en wys swaer! En Michael: skryf asseblief Afrikaans met n hoofletter?

thelsa ·

Daar moet in ag geneem word dat elke moontlike beskikbare plek in ‘n skool benut moet word as die spesifieke skool sy unieke Afrikaanse karakter wil behou. Skole poog om maksimale kapasiteit te benut vir leerders met ‘n spesifieke taalvoorkeur. Die rede daarvoor is eenvoudig : indien ‘n skool nie maksimaal alle beskikbare klasse en sitplekke benut nie, kan die onbenutte beskikbare kapasiteit wat dan bestaan, deur ander tale en groepe gebruik word. Dit is wanneer dit die begin van die einde is vir ‘n skool. Die GOD se norm is 40 leerders per klas.

Disselboom ·

Punt 9 (privaatskole) moet dalk so bietjie hoër in die lysie opgeskuif word. Die staat besit die openbare skole, en besit die wetgewende en juridiese (hof) gesag en hierdie staatsake se aard en toepasing word dus deur die regering van die dag bepaal. Hierdie regering het ander doelwitte as akademiese standaarde en gesonde opleiding: die staatskurrikulum verklaar openlik dat dit transformasie ten doel het. En die regering van die dag is vyandig teen Afrikaans en teen enige plek of instelling wat volgens hulle te veel blankes op een kol saamtrek. Hoekom word punt 9 so versigtig en huiwerig gestel asof dit iets is waaroor daar nog eers lank gedink kan word?

MCH ·

Dit sou beslis ideaal gewees het veral dan gesien in die lig van Ogod se aanslag asook die uiters bedenklike kurikulum. Geografiese oorwegings speel verseker n rol en dan ook die middele om so n grootse poging van die grond af te kry. Dis iets waarin jy maar geleidelik moet ingroei. Konsentrasie van leerlinge gaan ook n rol speel. Dit gaan egter op die einde van die dag die beste opsie wees vir ons kinders se toekoms. Tensy jy vrede het daarmee dat jou kind geleer word hoe om weerlig te gebruik om jou vyande te klits. Met samewerking van betrokkenes kan dit baie gouer n werklikheid word. Die grootste probleem deesdae is die onbetrokkenheid en verdeeldheid tussen ons vir wie so n uitkoms n toekoms sal verseker.

Disselboom ·

Wat is Solidariteit/ Helpende Hand se doelwit insake kurrikulum? Daar word geskryf oor die skole, Afrikaans en die “wêreldklas” daarvan, maar dit wil lyk of die staatskurrikulum (NKV/ CAPS) nie onder bespreking is nie? Die kommentare lyk wel bietjie meer bekommerd daaroor.

Ouma ·

Dit is baie jammer dat nie meer Afrikaanse skole gebou word nie! My seun bly in Durban, en hulle ry elke dag 40km soggens en 40km in die middag om hul kinders na en van ‘n Afrikaanse skool aan te ry. Dit is tydrowend en duur om so ver te ry. Al voel hulle sterk oor Moedertaal-onderrig, het hulle nou gevolglik besluit om hul kinders ook in ‘n Engelse skool te sit. Saam met die skoolfonds, kos dit hulle maandeliks ‘n fortuin. Daar is twee Engelse skole baie naby aan hulle huis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.