Afrikaanse skole onderteken manifes om gesonde sportmanskap te bevorder

Fanie de Villiers, voormalige Protea-bouler, praat by die SOS se sportseminaar. (Foto: Verskaf)

Meer as 200 onderwysers van 51 Afrikaanse skole het Maandag onderneem om kinders se fisieke en emosionele welstand altyd eerste te stel in skolesport.

Dit het onderwysers gedoen deur ʼn manifes te onderteken tydens die SOS se eerste sportseminaar wat Maandag by die Leriba Hotel in Centurion plaasgevind het. Ander kwessies waaraan die manifes aandag gee, is om gesonde deelname altyd bó prestasie te plaas en kinders se belange bó die skool of span se prestasies te stel. Onderwysers moet ook fokus op die kweek van gesonde karaktereienskappe by kinders, hulle help om sagte vaardighede aan te leer en self deur hul voorbeeld lei.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, sê te veel skole maak hulle skuldig aan die afskeep van waardes wat gesonde skolesport kan ontwikkel. “In ander gevalle is die klem te veel daarop om te wen. Dit kan tot groot skade vir skoolgemeenskappe en individue lei. Dan is skolesport eerder soos gif,” verduidelik Vermeulen.

Volgens die manifes moet sport op ’n gebalanseerde wyse deel vorm van kinders se holistiese opvoeding. Meriete moet ook altyd eerste gestel word in die saamstel van spanne. Leerlinge moet ook nie met onopvoedkundige aanbiedinge na ’n spesifieke skool of sportspan gelok word nie.

Sportslui gesels oor sport in skole tydens die SOS se sportseminaar. (Foto: Verskaf)

Bekende sportlui het tydens die kongres gesels oor hoe om sportmanskap terug te bring na die sportveld in skole.

“Ouers moet ʼn aktiewe rol speel in hulle kinders se lewens. Dit is net eenvoudig nie moontlik vir ʼn onderwyser of ʼn afrigter om die hele span se spelers tegniek te leer nie,” het Fanie de Villiers, voormalige bouler van die Protea-krieketspan, gesê. Jy moet self ʼn hand hê in die afrigting en saam met jou kind oefen en as jy sien hy of sy sukkel, kry ʼn private afrigter. Uitmuntende spelers is nie die resultaat van geluk nie, maar van oefening en harde werk.”

Fourie du Preez, voormalige skrumskakel van die Springbokke, het gesê sport speel ʼn belangrike rol in ʼn jong mens se ontwikkeling en menswees en elke ouer wil graag hê dat hulle kinders presteer. “Maar vir my is dit belangrik dat elke speler self ʼn behoefte het om te presteer. Jy kan nie sukses behaal omdat jou ouers of jou afrigter dryf het nie, maar omdat jy jou beste doen en dit geniet. Dan maak dit nie saak of jy professioneel vir die Springbokke speel of in die vyfde span nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

aj ·

Wat ‘n verfrissende nuusberig!

Wonderlike inisiatief van die sportmanne en onnies!

Therese van Schalkwyk ·

‘n Puik onderneming!
“Gesonde karaktereienskappe” sluit ook in om nooit na ‘n wedstryd oor die skeidsregter te kla en kerm nie. Die persoon met die fluitjie is ‘n feilbare méns, net soos almal, wat sy bes doen. Leer kinders dit weer, soos dit in die ‘goeie ou dae’ gedoen is.
Dit het wêreldwyd mode geword om die skeidsregter die skuld te gee vir ‘n verloor.
Die wenspan word ook daardeur van enige oorwinningsvreugde ontneem.
Verstommend hoe selfs Wêreldrugby hul eie skeidsregters vir die wolwe gooi. Swak!

Stefan ·

Snert man. Hoe gaan die kinders dan leer om te wen of verloor. As jy die beste wil wees moet jy oefen en die verloor vat soos dit kom en dan werk jy harder tot jy wen. Die op piepery van kinders maak my naar. Ek is geleer as jy verloor werk jy harder en meer om jouself te verbeter. Ons maak deesdae sissies groot.

sweis ·

Ek stem as jy n gelyke kans het maar as jou regering diskriminerende wette teen jou instel net oor jy wit gebore is na 25 van demokrasieë of in hulle geval vernietiging,wat dan?

TDW ·

Die probleem Stefan, is dat laerskool kinders gedruk word om te presteer. Dis nie meer van rugby speel pouses en ‘n uur oefen na skool nie. Rugby/netbal/hokkie/ens-klinieke word ingeroep op laerskool vlak. Dis nie meer ‘n wintersport nie, maar word reg deur die jaar geoefen. Die kinders word deur skool en veral ouers gedruk om te presteer totdat die liefde vir die sport verdwyn. Laerskool kinders kom by fisioterapeute aan met beserings wat in vroeër jare eers in st9/10 gesien is. Dis die probleem op die oomblik. Hierdie probleem het ontstaan omdat ons velkleur ons kinders druk om 1ste te kom, want 2de plek en 3de plek word gegee aan kinders met ‘n ander velkleur ongeag of hulle die wenstreep gehaal het.
Dit bly wel belangrik om die liefde van die sport by die kinders te kweek, en te behou.

Gemaskerde Sopbeen ·

Stephan, jy mag miskien reg wees….maar gaan kyk by hoeveel “wit” skole word daar met “wit” ouers se skoolfonds spelers van kleur “gekoop” (beurse toegeken) sodat die speler van kleur kamtig die skool se “rugby prestasies” kan laat verbeter….TEN KOSTE van die “wit” kind wie se “wit” ouers die geld voorsien waarmee die speler van kleur se “skoolfonds” betaal word. Wat leer jou kind nou? Jy kan so hard werk en oefen as jy wil……..maar jy sal nie span kry nie, want ‘n speler van kleur moet ingesluit word…en jou ouers betaal sy skoolfonds ook nog. Verduidelik nou gou weer jou “wen of verloor” opinie….

Leon ·

Jy sal nie Hoërskool Waterkloof, Menlo Park en Grey College oortuig nie. Hulle sal altyd sportlui koop want wen is alles. Prestasie is alles. Maak nie saak of die kind ‘n wrak anderkant uitkom nie. Prestige is die norm. Die wenner is die god wat hulle aanbid.

Avokado ·

Die koop van spelers is ou nuus en sal nooit ophou nie want wen is die belangrikste. Wat wel die laaste paar seisoene kop uitsteek is die swak sportmangees van die spelers op alle vlakke. Vuil spel, “sledging”, arrogansie en intimidasie deur spelers neem hand oor hand toe. Om van toeskouers en afrigters wat langs die veld staan en skeidsregters en opposisie spelers beledig nie eers te praat nie. Dankie, my kind is klaar met skolesport.

Thersia ·

@Leon, ek neem aan jou kinders is in Garsfontein, en glad nie sportief aangelê nie… Klink bietjie soos suur druiwe… In fact, jy klink bietjie kinderagtig… Sterkte vorentoe Mnr.

Corrien ·

Brood en spelen. Sportgode verering op sy ergste. Leer jou kinders werk in en rond die huis of plaas. Dit voorkom ook dat hulle vet word en dit leer ekstra vaardighede.

CG @ Tersia. ·

My kinders presteer in sport. Een het al nasionale kleure verwerf, een was al ‘n Victrix Ledorum in haar skool en een het in twee jaar se netbalwedstryde nog elke wedstryd gewen. Ek steun Leon se sentiment- daar word in sommige skole heeltemal te veel van wen in skolesport gemaak.

Thersia ·

@CG, en as hulle vir jou kind ‘n beurs aangebied het omdat sy so ‘n uitblinker is sou jy nee gesê het??… I rest my case…..

CG ·

Die onderliggende probleem is dat Afrikaanse skole met mekaar meeding oor leerdergetalle. Skole glo dat indien hulle top sportkinders sal trek, dié se maats ook sal saamkom en indien hulle sportspanne wen hulle nog meer sportpresteerders sal
trek. Sport word dus misbruik ten einde die finansiële posisie van die skool te verbeter (hoe meer leerders, hoe meer skoolgelde word geïn). Die gevolg is dat min moeite gedoen word om deelname te bevorder (bv. in E-, F- of G-spanne) en die A-en B spanne word oormatig gedruk om te wen. ‘n Skoolhoof van een van die bekendste Afrikaanse skole in Pretoria en vroeër die jaar aan die leerders dit gestel dat om jou beste op die soortveld te doen is nie goed genoeg nie- jy moet wen! Sedertdien is daar “sportdirekteure” by die skool aangestel- ooglopend met die oogmerk om die A-spanne wenspanne te maak – oënskynlik ten alle koste (insl. ten koste van die leerders). Ek wonder darem of hierdie skool “geteken” het?

CG @ Tersia. ·

My kinders presteer in sport. Een het al nasionale kleure verwerf, een was al ‘n Victrix Ledorum in haar skool en een het in twee jaar se netbalwedstryde nog elke wedstryd gewen. Ek steun Leon se sentiment- daar word in sommige skole heeltemal te veel van wen in skolesport gemaak.

CG ·

Ek het ‘n tyd gelede die voorreg gehad om na ‘n vadersdagpraatjie deur Dr. Danie Brink te luister. Hy vertel toe hoe hy gesien hoe mislik ‘n pa met sy kind was wat in sport verloor het. Sy siening (in my woorde) is dat jy jou kind moet aanmoedig om hard te oefen en alles te gee. Tydens ‘n sportkompetisie is jou kind se vasberadenheid en durf en beste doen alles; en die uitslag (wen of verloor) is irrelevant.
Klink vir my na die regte benadering!

Sê maar net ·

Onthou net dat professionele sport, het baie kinders se kaartjie uit Suid-Afrika geword. Ja, hy het ‘n kleiner kans om vir ‘n Nasionale span te speel oor kwota, maar as die regte klub hom raak sien, is sy toekoms oop in ‘n ander land. Vir baie IS sport hulle toekoms want hulle is dalk nie akademies sterk nie.

Willie ·

Hierdie hoe-ha oor skoolsport is voorwaar interessant, eintlik amusant. Ja ja, dit leer die kinders van spanwerk (ook net sommige sporte) en wen/verloor. Maar aan lewenslange fiksheid doen dit niks. Kyk maar hoe lekker dik is baie mense in hul twintigs, selfs die wat eerstespan gespeel het. Wat help dit jy doen iets net vir n paar jaar en los dit dan vir die res van jou lewe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.