Afrikaanse student behaal oorwinning oor RGB

Du Toit Genis (Foto: Verskaf)

Du Toit Genis het met behulp van die burgerregteorganisasie AfriForum sy regsgeding met die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGB) gewen. Dit volg nadat die raad Genis (29), ʼn sielkundestudent, se aansoek om registrasie geweier het omdat sy honneursgraadsertifikaat in Afrikaans is.

Ná afloop van die regsgeding is Genis uiteindelik geregistreer.

“Ek is werklik verlig dat die saak afgehandel is en dat die raad my sertifikaat nou erken,” sê Genis.

“Dit is ’n bevestiging dat ek op die regte koers is. Ek moet nou net my opleiding afhandel sodat ek as sielkundige kan begin praktiseer om sodoende ’n verskil in mense se lewens te maak.”

Genis is tans besig met sy meestersgraadstudie in sielkunde aan die Universiteit van Johannesburg (UJ).

Maroela Media het vroeër berig om sy graad te voltooi moes Genis by die raad as sielkunde-intern registreer. As deel van die vereistes moes hy die sertifikaat, wat bevestig dat hy in 2018 ’n honneursgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal het, indien.

’n Verteenwoordiger van die raad het hom egter ingelig dat die registrasieproses nie kan voortgaan nie aangesien die sertifikaat in Afrikaans is. Sy herhaalde vertoë om heroorweging het op dowe ore geval en hy het AfriForum om hulp genader. ʼn Regsverteenwoordiger van Hurter Spies Ingelyf het Genis verteenwoordig.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, is AfriForum dankbaar dat die saak opgelos kon word, maar is steeds bekommerd dat ’n klimaat bestaan waarbinne ’n amptenaar veilig voel om só ’n onwettige besluit te neem.

“Ons waardeer dit dat Genis nie die maklike weg gevolg het om sy sertifikaat te laat vertaal nie, maar bereid was om op ’n waardige wyse binne die raamwerk van die wet ’n standpunt in te neem vir Afrikaans en vir alle ander studente wat hulle in ’n soortgelyke posisie mag bevind,” sê Bailey.

Willie Spies van Hurter Spies Ingelyf sê die gebeure is opnuut ʼn bewys dat taalgemeenskappe burgerregtewaghonde nodig het om voortdurend in te tree vir hulle taalregte.

“In dié opsig is AfriForum ’n lewensnoodsaaklike rolspeler vir die instandhouding van ’n gesonde samelewingsorde,” sê hy.

Genis het AfriForum en Spies bedank vir die hulp wat hy ontvang het, asook die publiek en media vir hul ondersteuning.

“Dit is lekker om te weet dat daar organisasies en mense is wat bereid is om die pad te stap saam met iemand wat nie die stryd alleen kan aanpak nie. Ek hoop dat die gebeure as motivering en bewusmaking vir ander mense met soortgelyke probleme kan dien sodat hulle ook sal opstaan vir hulle regte,” sê Genis.

Enige ander persoon wat soortgelyke diskriminasie ervaar kan AfriForum kontak by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Genis ·

Ek hoop hellu betaal al die regs onkostes, en sommer vir die leed wat hulle doen… Dis absurd

Reynier ·

Mooi so! Du Toit en Afriforum al baklei ons met ons rue teen die muur, moet ons nie ophou baklei nie. Maak nie saak wat wie sê nie ons taal en ons mense het nog net gebou aan hierdie land en niks afgebreek nie.

JohanR ·

Altyd wit, altyd Afrikaans…..maar vra hondered maal honderd as die RGB nie soe dom en rassisties was nie, sou nie NOG ‘n saak in die hof moes eindig nie.

Jr ·

Afriforum julle is sowaar regte ysters.
Afriforum sake gewen 102001
Govt sake gewen = nultie nul and nikies and zeroty nothing, now listen carefully

Di ·

Trots op Afriforum! Jule het al so baie gedoen vir blankes wat onder rassiste moes deurloop. Hulle dink dis hulle REG maar eintlik is hulle net plein weg te onnosel om te besef hulle kan nie daarmee wegkom nie. DIE ANC KADERS het nie die wette gemaak nie, hulle moet dit VOLG

Misky ·

Altyd eers na ‘n bakleiery waar Afriforum moet intree vir ons. Dankie!!!!!

Bart-Man ·

Wat sê Genis? ( Uit n sielkundige oogpunt natuurlik). Van die wonderlike gelykheid wat ons tans in demokratiese Suid Afrika ondervind. Ek vra namens myself en seker n paar pligsgetrou belastingbetalers ook.

Louwrens ·

Geniet en RGB as die saak in die hof was kan u vir ond.die hofuitspraak gee OF het RGB HANDOEK sonder verhoor ingegooi?

Alana ·

Die saak is teruggetrek want die registrasie is afgehandel voordat die saak aangehoor is.

Cherokee ·

re: “Ons waardeer dit dat Genis nie die maklike weg gevolg het om sy sertifikaat te laat vertaal nie,..”
Ek neig te onthou (praat onder korreksie) dat ‘n vorige berig gesê het dat hy wel die sertifikaat laat vertaal het.

Alana ·

Nee, die RGB het geweier om hom te registreer omdat hy dit nie wou vertaal nie. Dis waaroor die saak gegaan het. Sy puntestate is wel in Engels deur UP uitgereik, maar die RGB het ‘n Engelse sertifikaat vereis.

Cherokee ·

Ja, en nou praat ek nie meer onder korreksie, maar het seker gemaak.

‘RGB weier om Afrikaanse student te registreer – Maroela 16 Februarie 2022’
Genis het aanvullende uitgawes aangegaan om sy sertifikaat te laat vertaal en ook ‘n amptelike brief van die universiteit gekry wat die vertaling erken.

FM ·

ek het baie respek vir hom dat hy als probeer het en uiteindelik gewen het. Dis ‘n GROOT wen.
Baie dankie vir die berig Maroela Media en AfriForum se volgehoue stryd teen als wat so verkeerd is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.