Afrikaanse Taalraad: ‘Afrikaanses moet uitreik’

dr-conrad-steenkamp-afrikaanse-taalraad

Dr. Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad. (Foto: Twitter)

Die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR), dr. Conrad Steenkamp, sê Afrikaanssprekendes sal toenemend na ander groepe moet uitreik om gesamentlike oplossings vir probleme wat almal raak, te vind.

Steenkamp het gereageer op ʼn navraag van Maroela Media oor die heraanstelling van Panyaza Lesufi as LUR vir onderwys in Gauteng.

Lesufi word uit verskeie oorde as vyandiggesind teenoor Afrikaans beskou. Hy word onder meer gekritiseer omdat hy na bewering Afrikaanse skole intimideer en na Engels probeer transformeer.

Steenkamp sê planne om byvoorbeeld sélf skole te bou waar Afrikaans as voertaal gebruik word, is geldig en dat Afrikaans op dié manier beslis sal bly voortbestaan.

“As ons egter wil hê Afrikaans moet floréér, moet ons dit binne die breër samelewing doen.”

Hy sê wanneer iemand probeer om politieke mag te bou deur ʼn kwesbare minderheid te teiken of te demoniseer, is dit nie net sleg vir die minderheid nie, maar vir die bevolking in die geheel.

“As ʼn mens die regering, of iemand in die regering, toelaat om te besluit watter mense se regte gerespekteer moet word of nie, is álmal se regte in gevaar.”

Steenkamp sê die kwessie gaan oor meer as skole en dat dit nodig is om op ʼn slim manier weerstand te bied.

“Ons (Afrikaanssprekendes) moet gesien word as oop, dat ons ontvanklik is vir ander mense en dat ons mense met ope arms ontvang. Ek weet dit is makliker gesê as gedaan, want daar is dikwels praktiese kwessies betrokke, maar ons moet verby dit kom,” sê hy.

Steenkamp sê daar moet verhoudinge gebou word en dat kommer oor kwessies soos gehalte‑onderrig, nie tot ʼn spesifieke groep beperk is nie. “Die ander belangrike ding is om te besef daar is nie bloot irrasionele vooroordeel nie. Daar is geldige griewe. Ouers wil ordentlike onderrig en goeie skole vir hulle kinders hê en daar moet maniere gevind word om daardie geldige griewe aan te spreek.”

Hy sê daar moet op gemeenskapsvlak tussen mense uitgereik word sodat die groot gapings tussen hulle kan verdwyn. Die persepsie dat ekonomiese status noodwendig aan ras gekoppel word, moet ook uit die weg geruim word.

“ʼn Mens kan nie toelaat dat jy op ʼn klein eilandjie teruggedruk word nie, want klein eilandjies word teikens.”

Lees ook Merlyn van der Rheede, die ATR se noordelike projekbestuurder, se meningstuk oor die belang van meertaligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

12 Kommentare

Droomland ·

Ek lag my ‘n papie….ha-ha-ha!
Droom voort Dr Steenkamp. Soos Blue Butterfly se: Daai dae’s verby.

Andreas ·

Ek reik al by die 25 jaar uit, nou vra ek hoeveel geslagte lank moet die uitreik van een kant af kom? Ons het uit die geskiedenis gesien hulle het ‘n ideologie waarvan hulle nie sal afwyk nie. Nou vra ek, wat maak ons dan?

Ek stem saam met Solidariteit wat hierdie massiewe plan van stapel gaan stuur en dan sê hulle terselfdertyd dat hulle gaan nog steeds uitreik, soos ook die taalraad hier bo, dis reg so, 100% ons moet net nie ophou om met diegene wat Afrikaans misken gesprek te voer nie, al lei dit tot niks, maar intussen moet ons nie ophou om kragdadig te bou vir Afrikaans en dié se nageslag nie.

Andreas ·

Dankie Solidariteit, ek sal graag by die wegspring wil wees as julle die dag daai V12 se enjin aanskakel.

Dirk ·

Dit is goed om toevanklik te wees teenoor andere mits hulle jou regte respekteer, indien nie, dan sal jy net jou tyd mors, tyd wat jy beter kon benut het om toevanklik teenoor jou eie gesin, familie en mense te wees.

Hans ·

My vriend, jy leef in n droomwereld. Lesufi is die vyand van Afrikaans, hy probeer sy bes om aan alle borge van Afrikaanse vermaak en media te kaap. Hy sal eers tevrede en gelukkig wees as daar nie n enkel Afrikaanse skool oor is nie.

Grassie ·

Die doktor moet maar uitreik na wie hy wil, dit is sy goeie reg. Ek is nie ‘n Afrikaanse nie, ek is ‘n Afrikaner en trots op my volk. Na 25 jaar se onderdrukking het ek geen behoefte om na enigiemand behalwe my volksgenote wat swaarkry uit te reik nie.

Pro-grassie ·

Stem volkome saam, Grassie. Ek is ook beslis nie ‘n Afrikaanse nie maar ‘n Afrikaner; ‘n Boer!
Waarom moet net ons uitreik en agteroor buig? Is dit nie dalk tyd om soos “hulle” te maak nie, en te se: ” I don’t speak English!”

Francois ·

Ek wil net verklaar dat my arms en hande twee maal langer is ,as die gewone mens as gevolg van 25 jaar se uitreik en hulp. DIT STOP NOU NET HIER.

Johann ·

Die negatiewe kommentaar help allermins. Dit gaan om verandering van gesindhede, ondanks al die omgekeerde diskriminasie van die nuwe bestel. Ons taal kan daarvoor ‘n uitstekende middel wees.

Johann ·

En baie Afrikaanssprekendes onder die vorige bestel, het daardie tyd ook deurgeloop onder diskriminasie. Dankbaar vir die behoud van goeie gesindhede, desondanks. Kom ons bou voort daarop.

John ·

Die Afrikaners het nie genoeg base nie. Hulle wil onder die duim gehou word.. hoor tog. Die grappie, eers mog ons nie, toe kan ons en binnekort moet ons, is van toepassing. Die minderhede wat so swaar kry na wie ons so moet uitreik, is reeds meer as ons en sit in meer topposte as Afrikaners. Dink ons regtig as ons die helfte van die koekbeslag in ‘n ander bakkie uitskep, gaan daardie deel nou weer onder ‘n paar Afrikaner ooms wil dien net omdat ons en hulle Afrikaans praat amper soos om Woollies se tamatiesous ook eerder te gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.