Afrikaanse Taalraad, VF Plus verwelkom Unisa-uitspraak

Unisa (Foto: Gauteng-toerisme)

Die Afrikaanse Taalraad en VF Plus is tevrede oor die appèlhof in Bloemfontein se beslissing wat die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se taalbeleid, wat Afrikaans in wese afgeskaf het, as ongrondwetlik verklaar het.

Die uitspraak kom nadat die Noord-Gautengse hooggeregshof verlede jaar uitspraak gelewer het ten gunste van die beleid wat bepaal dat Engels die primêre onderrigtaal aan dié instelling is. Die burgerregtegroep AfriForum het Unisa oor die beleid gepak.

Soos vroeër berig het regters die nuwe taalbeleid wat Unisa in 2016 aanvaar het, as ongrondwetlik en onregmatig verklaar en gesê dit is ter syde gestel in soverre Afrikaans as taal van onderrig en leer afgeskaf is.

Volgens die regters moet Unisa nou ʼn kennisgewing uitstuur met ʼn lys van al die modules wat teen 28 April 2016 – toe die beleid aangepas is – in Afrikaans beskikbaar was en moet dié modules tydens die volgende akademiese jaar op eerstejaarvlak aangepas word. Bestaande studente wat ingeskryf was vir enige van die kursusse of wat in die volgende jaar die kursus in Afrikaans wou volg, moet nou toegelaat word om dit te doen. Die regters het beslis dat die modules volledig aangebied moet word totdat die taalbeleid regmatig, indien enigsins, aangepas word.

Die Afrikaanse Taalraad het in ʼn verklaring gesê hy hoop die universiteit sal onverwyld gehoor gee aan die regstellende stappe soos deur die hof bepaal.

“Van al die universiteite in die land is Unisa waarlik die beste geposisioneer om al die amptelike tale van die land by wyse van uiteenlopende meertalige praktyke te akkommodeer. Uiteindelik moet alle studente hulle huis- of moedertale vir akademiese prestasie kan gebruik,” lui die verklaring van die Taalraad.

Die Taalraad sê in die verklaring hy hoop die universiteit aanvaar die uitspraak en dat geen verdere regstappe oorweeg word nie.

“Ons hoop ook dat ʼn mens in gesprek kan tree oor die gesindhede teenoor Afrikaanssprekendes en persepsies oor hul taal. Afrikaans, wat deur ʼn groot verskeidenheid mense gepraat word, moet net soos die ander inheemse tale van die land ʼn plek binne ʼn meertalige bestel gegun word,” lui die verklaring.

Wynand Boshoff, die VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van basiese en hoër onderwys, wetenskap en innovasie, sê die appèlhofbeslissing is ʼn duidelike teregwysing vir die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande. Nzimande het herhaaldelik op parlementêre vrae van die VF Plus verklaar dat Afrikaanse onderrig ʼn metode van uitsluiting aan universiteite is.

Boshoff sê Nzimande het telkens na hofuitsprake oor die taalbeleid van die Universiteite van Stellenbosch en die Vrystaat verwys as aanduiding dat sy departement se eentaalbeleid grondwetlik is. “Hierdie uitsprake het antwoorde oor hoe die vermindering van tale groter insluiting bewerkstellig. Dit lyk ook of die aksie teen Afrikaans gebruik word om die versuim te verberg om ander Afrika-tale te ontwikkel,” sê Boshoff.

Boshoff sê aangesien hierdie uitspraak uiters belangrik is, gaan die VF Plus dit vergelyk met die uitsprake oor Stellenbosch en die Vrystaat se taalbeleid, met meer in-diepte reaksie wat kan verwag word.

“AfriForum, wat die saak hof toe geneem het, verdien gelukwense met hierdie oorwinning,” sê Boshoff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Scalla ·

CR het mos gesê die grond Wet moet gerespekteer word, is moorde nie ook daarin vervat nie

Martie Smartie ·

Grondwet is net handig vir Cyril as hy daar agter kan wegkruip en dit kan misbruik, so ook sy hele sisteem van diskrimineer teen blankes. Veral Afrikaner blankes. Hy gebruik die grondwet soos ‘n vuurwapen – wanneer dit hom pas, verdedig hy homself daarmee, wanneer dit hom pas vermoor hy mense daarmee en dan voer hy aan dis die vuurwapen wat dit doen, nie hy nie

Michael 1 ·

Oorwinning oor diskriminasie, nou die diskriminerende wette soos bee en kwotas gebaseer op velkleur aanvat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.