Afrikaanse tersiêre onderrig in die kollig

Argieffoto

Argieffoto

In die lig van die omstrede debat oor die gebruik van Afrikaans as ʼn amptelike of primêre onderrigtaal op tersiêre vlak, sal die vakbond Solidariteit en burgerregte-organisasie AfriForum eersdaags ʼn verslag oor die reg tot moedertaalonderrig op tersiêre vlak vrystel.

Daar sal ʼn spesiale fokus op Afrikaans by die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit wees.

Die verslag, wat sterk op internasionale menseregtebeginsels steun, is in opdrag van Solidariteit en AfriForum deur die internasionale taalregtekenner, dr. Fernand de Varennes, saamgestel.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wil die Afrikaanse gemeenskap Afrikaanse onderrig op tersiêre vlak ontvang, maar die vraag is of hulle mag. “Die verslag gaan die vraag uit ‘n internasionale en Suid-Afrikaanse grondwetlike perspektief beantwoord,” het Hermann Sondag gesê.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die reg van Afrikaanssprekendes om toegang tot onderrig in Afrikaans te kry, word toenemend deur die betrokke owerhede ontken.  “Met hierdie verslag word die kwessie hopelik vanuit die nasionale en internasionale regskonteks opgeklaar,” het sy gesê.

Die organisasies hou Maandag ʼn konferensie in Pretoria waar dr. De Varennes die bespreking sal lei, waarna die bekende kenner van Grondwetreg, prof. Francois Venter, repliek sal lewer. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, sal ook tydens die geleentheid ʼn bespreking oor die grondwetlike versus politieke ruimtes vir Afrikaans lei. Afrikaanse leiers en lede van die burgerlike samelewing sal die geleentheid bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

chris diedericks ·

Afrikaanssprekendes wat omgee vir godsdiens, taal en kultuur moet noodgedwonge kragte kragte bymekaar snoer. Die tyd van alewig mekaar kritiseer is verby en is ‘n luukse wat ons nie kan bekostig nie. ten spyte van onderlinge verskille moet ons mekaar verdra en ondersteun. weerhou jouself om negatiewe dinge van mede afrikaners te sê, behalwe in ekstreme gevalle waar ons gemeenskaplike beeld na buite geskaad word. Onthou ook geweld veroorsaak altyd teen reaksie en is onproduktief. “EENDRAG MAAK MAG.”

Grassie ·

Ek het groot waardering vir Afriforum en Solidariteit se poging maar ek dink nie hulle gaan veel sukses behaal nie. Hul argumente is gebaseer op reg en regverdigheid, iets wat in die RSA al in vergetelheid verdwyn het. Die minister van tersiêre opleiding is ‘n deurtrapte kommunis en voorsitter van die SAKP. Reg en regverdigheid is baie, baie laag op hul prioriteitslys, by hulle tel net ideologiese doelwitte en dit maak nie saak hoe hulle by hul doelwitte uitkom nie. Die onderdrukking van die Afrikaanse taal is beslis een van hul hoof doelwitte en hulle geniet die steun van die hele ANC. Ek dink ook hul stryd gaan teen meer as net die Afrikaanse taal op kampusse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.