Afrikaanse universiteit: Skerp kritiek oor Nzimande-‘dreigement’

Dr. Blade Nzimande. Foto: GCIS

Dr. Blade Nzimande. Foto: GCIS

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, se ideologies bevooroordeelde onderrok hang ver uit na sy dreigement die naweek om Akademia se registrasie te onttrek as dit eksklusief Afrikaans bly.

Só sê akademici aan Maroela Media in skerp reaksie op Nzimande se uitlatings. Hulle het bygevoeg dit is belaglik dat hy Afrikaans aan rassisme wil gelykstel.

Dr. Dionè Prinsloo, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het gesê die akademie het met kommer en verbystering van Nzimande se voorneme kennis geneem.

Sy het gesê dit sal uiters ondeurdag wees as Nzimande Akademia se registrasie onttrek omdat dit in Afrikaans onderrig aanbied. “Die land het reeds ’n ernstige tekort aan instellings wat goeie gehalte-onderrig vir studente bied. Dit sal jammer wees as die minister instansies wat dit wel doen, nie bestaansreg gun nie.”

Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, meen Nzimande se uitlatings getuig van ’n totale miskenning van die plurale aard van demokrasie. “Die minister wil ’n soort van eenvormigheid op hoër onderwys afdwing wat tipies is van sy kommunistiese agtergrond en mentaliteit.”

Goosen meen die minister se houding is totalitêr en hy verstaan duidelik niks van ’n veelheid van kultuurgemeenskappe nie. “Sy sogenaamde vriendelikheid oor Afrikaans is ook ’n wanvoorstelling en dekmantel waaronder hy sy anti-Afrikaanse agenda wil deurvoer.”

Dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die Noordwes-universiteit, meen Nzimande verstaan klaarblyklik nie die grondwet nie. “Sy ideologies bevooroordeelde onderrok hang ver uit deur Afrikaans as rassisties uit te beeld.”

Volgens Eloff ontken Nzimande ook sy eie departement se taalbeleid wat volledig voorsiening maak vir Afrikaans as hoëronderwys-taal en vir universiteite om studente in Afrikaans te onderrig. “Afrikaans ken geen kleur nie en die minister se argument is grondliggend verkeerd.”

Eloff het gesê as die minister voortgaan om rassetransformasie te dryf, gaan Afrikaans as universiteitstaal vernietig word.

Hy het gesê Nzimande se benadering is ook inkonsekwent en hy moet verduidelik hoekom hy nie ook wil optree teen openbare universiteite wat eksklusief in Engels onderrig bied en Afrikaanssprekende studente uitsluit nie. Nzimande moet ook sê wat van die talle bruin studente in die Noord-Kaap en Wes-Kaap moet word wat nie Engels kan praat nie en ook toegang tot hoër onderwys wil hê.

Dr. Danny Titus, uitvoerende hoof van die ATKV, het gesê Afrikaans is ’n inklusiewe taal en ’n saak van integriteit.

Hy meen ’n openhartige gesprek moet met Nzimande gevoer word waar na mekaar se standpunte rondom Afrikaans geluister kan word.

Volgens Titus is daar nog te veel wanbegrippe oor die taal wat dit nodig maak dat mense met mekaar moet praat.

Volgens prof. Hans du Plessis, skrywer en akademikus, beweer Nzimande Afrikaans moet leer om saam met Engels te lewe. “Maar Afrikaans lewe al 200 jaar lank saam met Engels!” Du Plessis het ook gesê dit is “nonsens” dat Afrikaans gelykgestel word aan rassisme. “Die argument dat iets wat Afrikaans is bloot nie mag bestaan nie net omdat dit Afrikaans is, is teen die Grondwet en teen die hele gevoel van die betekenis van die Grondwet. Ons Grondwet laat ruimte vir diversiteit en daarom mag ons diverse universiteite soos ʼn Xhosa- of Zulu-universiteit hê,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis meen ook Nzimande wil nou met Engels doen wat die Nasionale Party in 1976 met Afrikaans wou doen. Hy vergelyk die Soweto-opstande in 1976 teen Afrikaans as onderrigtaal in skole met dit wat vandag byvoorbeeld by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus gebeur. “Die sagste teiken wat jy kan aanval is taal,” het hy gesê. “Hoekom is Ikeys of UJ dan nie oop vir Afrikaans nie? Dan moet dieselfde argument mos teen Engels ook geld. Eintlik sê die minister daar mag net Engelse universiteite wees, en dan doen hy presies dit waarvan hy Akademia beskuldig.”

Prof. Marinus Wiechers, voormalige rektor van Unisa, lid van Akademia se adviesraad, en grondwetkenner, het op sy beurt gesê taal is deel van ʼn kultuur en het ʼn kultuurgrondslag, maar rassisme gaan oor onderskeid op grond van herkoms en afkoms. Die twee is dus nie vergelykbaar nie. “Indien ʼn persoon as wit of bruin gebore word, en iemand diskrimineer teen só ʼn persoon, dan is dit rassisme, dit is diskriminasie teen die persoon se herkoms,” het Wiechers verduidelik. “Maar taal is gelykstaande aan kultuurbesit. Dit is nie aangebore nie, dit is ʼn verworwe eienskap net soos kultuur.”

Wiechers sê mens word met jou velkleur gebore, maar jy word groot in ʼn huis waar ʼn spesifieke taal gepraat word. Jy kan ook enige taal aanleer indien jy uit ʼn taalgemeenskap uitgesluit voel. “Wanneer iemand ras aan taal wil koppel, dan meng jy iets wat glad nie saamhoort nie.”

Wiechers het dit ook benadruk dat die Grondwet dit uitdruklik stel dat alle amptelike tale gerespekteer moet word, maar om rassisme met kultuur te vermeng, teen die grondwet indruis.

Volgens prof. Jacques van der Elst, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, is dit duidelik dat die minister hoegenaamd nie landsbelang en demokratiese beginsels in ag neem nie. “[Nzimande] kan nie nalaat om Afrikaans met apartheid te assosieer nie, terwyl Engels as taal nes Afrikaans gebruik is om apartheid te propageer,” het Van der Elst gesê. “Die minister se taak is om hom in nasionale belang te beywer vir die bevordering en instandhouding van uitnemende universiteite met hoë akademiese standaarde. Die formulering van taalbeleide kan hy aan universiteite se bestuursliggame oorlaat. Dit lyk egter eerder of die minister hom nou met ʼn afdreigtegniek oor taal besig hou met ʼn heksejag op Afrikaans.”

Van der Elst sê die minister “vergeet” blykbaar dat elkeen die grondwetlike reg het om op eie koste ʼn onafhanklike onderwysinstelling tot stand te bring mits so ʼn instelling nie op grond van ras diskrimineer nie, mits dit by die Staat geregistreer is en mits dit standaarde handhaaf wat nie minderwaardig is nie, vergeleke by vergelykbare openbare onderwisinstellings nie. “Dis nie uitgeslote dat sulke onafhanklike onderwysinstellings selfs staatsubsidie kan kry nie. As ʼn mens kyk na wantoestande by sommige openbare instellings is dit nie moeilik om vergelykings tot voordeel van Akademia te tref nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Derick ·

Dis altyd so lagwekkend dat die hooggeplaastes nie kan onderhandel oor ‘n ding nie. Daar moet mos altyd gedreig word. Die mantalliteit is die agteruitgaan van SA.

willem ·

Ek wens die minister wil sy dreigement uitvoer om Akademia toe te maak sodat die wereld eens en altyd kan sien hoe rassisties die ANC regeering werklik is.Het die kommunistiese minister nou rerig gedink die Afrikaner gaan net le en doodspeel as al sy intellings afgetakel word?

PJ ·

Nzimande is n rassis en ek stem saam met du Plesses…Hoekom is Ikeys of UJ dan nie oop vir Afrikaans nie. Alles wat die die Afrikaner met sukses toepas is volgends die anc rassisties. ons raak g#tvol hiervoor.

Makriel ·

Grondwet= Moedertaal onderrig. Hoe moeilik is dit vir die sogenaamde Minister om te verstaan. Dis nie onderhandelbaar nie. As U die wet ‘verstaan’ sal U dit korrek kan toepas. Afrikaans is een van die 11 landstale. Ek het baie lanklaas ‘n regering gesien wat sy landgenote so haat deur hulle onbeskermd te laat teen misdaad, kulture afbreek, boewery voorstaan, en dit wat opgebou is, run to fail. Die geagte minister moet onthou, agv van ons landgenote is u in daardie ‘seat’, ons sal jul ook daaruit lig. Niemand is onaantasbaar nie. Wees volwasse en gaan dink daaroor.

Lien ·

Is hierdie nie maar ‘n geval van jaloesie omdat Akademia suksesvol is nie? Hulle gun mos nie die son op iemand anders se kop skyn nie. Dalk is dit maar minderwaardigheid wat hier sy kop uit steek.

Leon Fourie ·

Sou ek uitstap om rommel op die sypaadjie voor my huis op te tel, doen ek meer as wat die regering (insluitend stadsrade) doen. Dis die oorwegende rede waarom Nzimande ( en die ANC-regering) nie wil toelaat dat Akademia slegs in Afrikaans kan voortgaan nie- want, dit sal werk! Iets waarop die ANC-regering nie kan aanspraak maak in die meeste van sy akademiese instellings nie, hetsy skool of universiteit, nie. Afrikaans sal aanhou voortbestaan. Daarvoor sal die Afrikaner, die Bruinmense, die swartmens wat dit praat, – die ganse Afrikaanse wereld wat passievol daaroor is- sorg! Nzimande en sy trawante sal wel bloedneus hiervan wegstap. Dalk nie huidiglik nie, maar geskiedenis vertel gewoonlik sy eie storie, en, die waarheid.

Adriaan ·

Om Afrikaans weg te neem, is om al die amptelike tale weg te neem en net een amtelike taal in Suid- Afrika te he, wat mag gepraat worrd skryf en lees. As enige ander taal dan gebruik word is dit soos trokstraf. Ek ondersteun my taal met elke deel van my mens wees.

Paul Van Der Vyver ·

Dis is regtig hartseer dat alles Afrikaans as rassisties afgemaak word. Orals word die Afrikaner aangevat en moet ons veg vir die bevordering en behoud van ons taal en kultuur. As die ANC en die regering maak net soos hulle wil en goed dink, dan is ons grondwet nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Die ANC en regering vee hulle klaarblyklik net af daaraan. Wie gaan kla daaroor of dit as rassisties afmaak as enige beweging ‘n Zulu, Xhosa of Sotho universiteit op die been wil bring. As blanke Afrikaner sal ek geen probleem daarmee he nie.

PIETER LOUW ·

HOE TRAGIES ! TIPIES KOMMUNISME,WANT DIE STAAT WIL ALLES NASIONALISEER EN BEHEER.DIT IS DIE UITERSTE VORM VAN DISKRIMINASIE ! EK HOOP DIE AGBARE MINISTER KOM TOT SY SINNE.`VAN WANNEER AF IS VOORUITGANG `N TABO !

Tony Benade ·

Dit is eenvoudig. Die ANC regering asook die Minister sal doen wat hul wil solank die handelingsvryheid wat hul toegelaat word, nie ingeperk word nie. Sodra die Minister enige aksie neem en die registrasie onttrek – gaan hof toe en vat hom aan!! Ek is seker dat wanneer Afrikaansorganisasies, soos Solidariteit aksie neem, die Minister in die hof uitdaag, daar sukses bereik en dit wyd verkondig, sal lede getalle van hierdie organisasies verdriedubbel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.