Afrikaanses sê aikôna vir Mthethwa

Afrikaanse Taalmonument (Foto: Maroela Media)

ʼn Groot groep Afrikaanssprekendes het Saterdagoggend in die Paarl in die Wes-Kaap ʼn spreekbeurt gekry voor die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum- en Monument (ATM) oor die voorstel dat die naam van die monument moet verander.

Maroela Media het vroeër berig Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het op 10 Maart 2022 in Pretoria gesê dat die ATM se naam moet verander.

Die openbare vergadering van die ATM het plaasgevind tydens die viering van Internasionale Museumdag. Michael Jonas, direkteur van die ATM, sê dit is belangrik dat enige museum gereeld sy rol moet hersien om relevant te bly tot die behoeftes van die gemeenskap. Volgens hom is die Afrikaanse Taalmuseum nog altyd ʼn inklusiewe ruimte waar erkenning gegee word aan die ontwikkeling van die taal uit die verskeie rigtings. Hy het beklemtoon dat die ATM taaltrots en inklusiwiteit wil bevorder.

Beverley Thomas, direkteur van Amazwi, het die hoofrede gelewer oor die mag van museums. Amazwi (“stemme”) is die nuwe naam van die Suid-Afrikaanse Museum van Letterkunde, geleë in Grahamstad. Amazwi het ʼn mandaat om literêre artefakte van alle linguistiese gemeenskappe in Suid-Afrika te versamel. Sy het op haar beurt benadruk dat die ATM se doel nie is om ʼn linguistiese rol te vervul of om een taal bo ʼn ander te bevorder met uitsluiting van ander tale nie. Volgens haar is die doel van die ATM juis om die oorsprongstorie van Afrikaans te vertel – soos wat dit reeds gedoen word.

Openbare vergadering in die Paarl oor die voorgestelde naamsverandering van die ATM (Foto: Maroela Media)

Die Raad van die ATM het die afgelope week vir die eerste keer in die Paarl vergader ná berigte van die voorgestelde naamsverandering. Die Raad het ook met die nasionale departement van sport, kuns en kultuur ʼn gesprek gevoer oor die kwessie sowel as oor die voorgestelde amalgamasieproses wat deur die Witskrif oor Kuns, Kultuur en Erfenis van 2018 in die vooruitsig gestel word.

Die Raad het gesê die vergadering is in ‘n gees van wedersydse respek en met ‘n positiewe gesindheid gehou. Geen besluite is tot dusver geneem nie, en daar sal verdere skakeling met die departement wees. Dit was daarom ook vir die Raad belangrik om te hoor wat die publiek te sê het oor die voorgestelde naamsverandering.

Dit was duidelik uit die gehoor se reaksie dat daar sterk teenkanting is teen die voorgestelde naamsverandering. ʼn Lid van die gehoor sê hy is dankbaar dat soveel mense vandag die vergadering bygewoon het en hoop dat die Raad van die ATM die boodskap sal kry van “nee, nee, nee”. “Ek dink die beste woord wat julle by mnr. Mthethwa kan gebruik, is ʼn woord wat in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem is weens die insette van die Khoi-San en ander tale soos Sotho en die Nguni-tale. Dit is ‘aikôna’. So ons sê vir hom ‘nee, aikôna, hou jou hande van ons af.”

Willie Aucamp, LP van die Demokratiese Alliansie in die Noord-Kaap, sê dit is vir hom lekker om te kan opstaan vir iets wat eie is aan homself, iets wat hy nie gekies het nie. “Ek het dit geërf. My taal. Die taal waarin ek my kinders grootmaak, die taal waarin ek bid, die taal waarmee ek my kinders langs die sportveld ondersteun. Dit is my taal, ek is trots daarop.” Dit is vir hom baie belangrik om te bly veg vir die behoud van die Afrikaanse Taalmonument se naam.

Mark Johannes van die Awê Musiekgroep skryf al die afgelope 30 jaar liedjies, hoofsaaklik in Afrikaans. Hy sê taal is ʼn integrale deel van die mens, dit is onlosmaaklik deel van jou. “Sodra ons hierdie ding aan die politiek oorgee, is ons verlore.” Hy bekla die feit dat talle (Kaapse) Afrikaanssprekendes bloot leunstoel-ondersteuners geword het van Afrikaans. “Hier moes vanoggend massas mense gewees het. Om die braaivleisvuur raak ons groot stryders vir die taal, maar wanneer ons in die publiek is, is ons bereid om kompromieë aan te gaan. As die Afrikaanse Taalmuseum se naam egter verander, gaan dit ʼn groot sege wees vir wie ook al dié ding inisieer het. As dit suksesvol is, dan moet ons maar Avbob toe gaan en begin beplan vir Afrikaans se begrafnis.”

Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van die DAK-netwerk, sê die organisasie het reeds die Universiteit Stellenbosch aangevat oor hul taalbeleid. “Ons het ook so onlangs as verlede naweek deelgeneem aan ʼn protesoptog in Pretoria teen die minister van hoër onderwys se taalbeleidsraamwerk waarin Afrikaans nie as ʼn inheemse taal erken word nie. Die ATM is ʼn inisiatief van ʼn Afrikaanse regering. Dit was aanvanklik as ʼn baken daargestel waar Afrikaner-nasionalisme gevier was. In dié proses is ander Afrikaanssprekendes uitgesluit. [Bruin mense] was nie deel van die Afrikaanse Taalmonument nie want ons is gesien as ‘minder as’. Ons is nie genooi na die inwyding van die monument nie; ons kon nie die monument besoek het nie. Ons was Afrikaanssprekende mense wat versteek is waar mens ons nie kon sien nie. Die Taalmonument moes meer aanvaarbaar word vir die res van die Afrikaanssprekende gemeenskap – en dit het gebeur! Die Taalmonument is vandag ʼn baken van inklusiwiteit.

“Die Taalmonument verwelkom vandag almal as Afrikaanssprekendes en ander. Die Taalmonument het die kleed van apartheid afgeskud. Afrikaans is nie meer die taal van die verdrukker nie. Dit is ʼn bevrydingstaal, en daarom is dit so belangrik dat ons sal sien dat hierdie monument ná die koms van demokrasie ook ʼn metamorfose ondergaan het. Vir die minister om nou te kom en te sê hy wil voorstel dat die monument se naam verander word, is iets wat ons by die DAK-netwerk nie kan ondersteun nie. Dit was ʼn proses en ʼn stryd om ons taal aanvaarbaar te kry sodat ons ook kon inpas by dit waarvoor die Taalmonument staan. Ons as bruin gemeenskap voel dit is ook ons erfenis, en ons is ernstig oor ons erfenis.”

Corné Mulder, Wes-Kaapse leier van die VF Plus, sê wat hom betref is die Afrikaanse taal nie ter sprake of nie in gedrang nie. Artikel 6 in die Grondwet waarborg Afrikaans as een van die erkende amptelike tale van Suid-Afrika. Hy sê daar is egter tog mense wat Afrikaans te na kom. “Ons moet onsself afvra: Hoe op aarde is dit moontlik dat in ʼn provinsie waar Afrikaans die meerderheidstaal is (ons sit met drie of vier universiteite) en tog kry Afrikaans nie die erkenning wat hom toekom nie? Dit is totaal ondenkbaar en onaanvaarbaar.”

Hy sê hy wil egter vir minister Nathi Mthethwa bedank vir die proses wat hier aan die gang gesit is. “Afrikaanse mense het weer bymekaargekom en gesê ‘kom ons praat oor ons taal, en kom ons beskerm dit wat vir ons kosbaar en dierbaar is’.

“As gevolg van die enorme reaksie het die regering teruggekrabbel en gesê dit gaan nie oor Afrikaans nie, maar oor inklusiwiteit. Enigeen wat egter beweer dat die Afrikaanse Taalmonument en -museum nie inklusief is nie, weet nie waarvan hulle praat nie. Gaan kyk gerus na die museum, gaan kyk gerus na webblad van die museum: 22 tale word op die webblad van die museum en die monument gebruik. Dit is die mees inklusiewe wat mens kan kry.”

Mulder sê die besluite oor die Afrikaanse Taalmonument- en museum val binne die Raad van die ATM. “Die wet bepaal dat die minister dié raad aanstel. Die raad het ʼn mandaat wat hy moet uitvoer en die regering verskaf fondse aan die raad tot voordeel van die betrokke instelling. Die minister kan sê voorstelle is onderhandelbaar, maar dit is sy mening – dit is nie sy besluit nie. Die wet sê die raad moet ʼn aanbeveling maak of nie. Die onus lê by die raad om te besluit of die naam verander moet word of nie.”

Mulder sê die Raad van die ATM het nou die reaksie van die publiek gesien. “As daar ʼn argument is wat sê die monument moet meer inklusief wees, dan moet ons die agbare minister nooi om te kom kyk hoe inklusief die monument wel is. As die minister se eintlike motief is om te sê die naam moet verander, dan wil ek vir julle sê daar is niks meer bevrydend as die woord ‘nee’ nie. My appèl aan die raad is: kom ons sê baie duidelik vir die minister: Nee.”

– Nog ʼn lid uit die gehoor het gesê daar is nie baie tale in die wêreld wat vernoem is na die kontinent van waar dit kom nie. “Ek ken nie ʼn taal soos Europeaans of Asiaties nie, maar ek ken wel ʼn taal genaamd Afrikaans.” Hy sê om die monument se naam te verander na bloot “Taalmonument” sou geen nut dien nie. “Dit sal die totale simboliek van die monument minag. Daar sou geen sin meer daarin wees nie.”

– ʼn Lid uit die gehoor van Worcester het daarop gewys dat die ekonomie van die Paarl ook afhanklik is van toeriste se besoek aan die ATM.

Pieter Marais, lid van die provinsiale parlement vir die Vryheidsfront Plus, sê hy is ook ʼn uitvoerende raadslid van die Griekwa-koningshuis. “Ons steun dat die naam net so bly soos wat hy daar is. Jan van Riebeeck het hier aangekom met Hollands. Hy het nie Afrikaans gepraat nie. Ons is plaaslik vervaardig. Afrikaans is inheems, hy is plaaslik vervaardig met insette van Khoi en Maleiers. Die Griekwa het aanvaar dit is sy taal. En ek sien geen moontlikheid dat daar getorring moet word aan die taal nie. Verandering beteken een ding: dit is ver-Xhosa-ing. As iets nie Xhosa is nie, dan is dit nie aanvaarbaar as verteenwoordigend nie. En dit duld ons nie. Ek het hierdie taal lief, dis my wortels.

“Wat hier geskep is, het die Afrikaner onder sy leiding geskep. Wat ook al afgebreek is, het die Xhosa-sprekende tot dusver afgebreek. Ons wil hê hierdie monument moet staan vir alle Afrikaanses. Hierdie Wes-Kaap en Noord-Kaap is vir Afrikaanssprekendes. Ons is lief vir die taal. Ek kan die Raad nooi: kom Bonteheuwel toe en kom kyk watter taal praat hulle. Kom Mitchells Plain toe, Atlantis, Malmesbury, Wupperthal, Elim … wat praat die mense? As julle teen Afrikaans draai, dan draai julle teen al daai gemeenskappe, want Afrikaans is ons taal. Dit is ons moedertaal.”

Gerhard Pretorius van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) sê die organisasie het ʼn petisie van stapel gestuur teen Mthetwa se voorstel en bykans 30 000 mense het dit reeds onderteken. “Ons wil inderwaarheid minister Mthethwa bedank vir dit wat hy deur sy stelling reggekry het: om mense te verenig vir hulle taal en kultuur.

“Vandag verteenwoordig die Taalmonument nie net Afrikaners nie, maar 7 miljoen wit, swart en bruin Afrikaanssprekendes wie se harte Afrikaans klop. Staatsubsidies aan monumente mag nooit gepaardgaan met politieke ideologiese verwagtinge nie.”

Hy sê dit is duidelik dat die regering nie met taal- en kultuurgemeenskappe se erfenis vertrou kan word nie. “Die desentralisering van erfenisbestuur na gemeenskappe sal lei tot beter korporatiewe bestuur.”

Desiré van der Walt van Limpopo sê sy het van 2004 vir ongeveer vyf jaar op die portefeuljekomitee van kuns en kultuur gedien. “Die proses vir demografiese pleknaamverandering het die doel gehad om enige naam wat aanstootlik kan wees, te verander. As ons kyk na die Afrikaanse Taalmuseum en -monument is daar niks wat aanstootlik is nie. Inteendeel, die geskiedenis van die Taalmonument en die invloed wat dit gehad het om tot stand te kom, bewys dat daar inklusiwiteit is.”

Alana Bailey van AfriForum bevestig duisende het ook dié burgerregteorganisasie se petisie onderteken teen die minister se voorstel. Sy sê daar word baie gesê oor die taal, maar sy wou haar graag ook uitspreek oor die instelling. “As mens kyk na die webblad is dit ʼn ongelooflike prestasie dat enige instelling soveel verskillende tale kan akkommodeer. Dit is ʼn geweldige daad van disrespek teenoor die personeel en die Raad van die ATM as daar nou gesê word iets moet gedoen word om hulle inklusief te maak.

“Dit is ongelukkig die proses wat ons by soveel ander plekke ook gesien het. Daar word gesê daar is ʼn element van Afrikaans by daardie instelling – hetsy universiteit, skool of wat ook al – dit maak die instelling eksklusief, dit moet verwyder word en uiteindelik verloor die instellings hulle kultuur en word ʼn tipe Engelse instelling.”

Sy voeg by dit is baie belangrik dat die ATM baie sterker deur die publiek ondersteun word sodat dit nie verder gemarginaliseer word nie.

  • Klik hier om meer oor die simboliek van die Taalmonument te sien en te verstaan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.