Afrikanerhistorikus Hermann Giliomee gesels op 84

Prof. Hermann Giliomee en sy vrou, Annette, voor hul huis op Stellenbosch. (Foto: Johannes Froneman)

Die soms omstrede historikus Hermann Giliomee vier op 4 April sy 84ste verjaarsdag. Johannes Froneman het hom in sy huis op Stellenbosch besoek en gee hier enkele indrukke oor hierdie denkleier se lewe en werk.

Dié onderwyser se seun van Porterville het op soveel terreine die goeie stryd gestry en gedoen wat ʼn goeie akademikus moet doen, naamlik klasgee, navorsing doen en publiseer. Tog is hy soms as “lamsakkig” uitgekryt en ʼn “slang”. Sy kritici was skerp.

UIteindelik is hy wyd erken as die voorste Afrikaanse historikus van sy tyd — een wie se invloed ver buite die enger Afrikaanse kring strek. Hermann Giliomee kon daarom in sy outobiografie ʼn goeie storie vertel, sonder om aan te dik.

Op sy oudag skryf hy hier en daar nog ʼn artikel (soos onlangs in Rapport oor die rol van die Broederbond), maar oor nog ʼn boek praat hy beslis nie. Ná sy outobiografie het hy ook onderneem om nie weer oor homself te skryf nie, maar hy gesels geredelik oor enkele episodes uit sy lewe.

Hy en sy vrou, Annette, het ʼn rustige lewe in die huis waarin hulle al 50 jaar woon — die huis wat sy, as argitek, destyds vir hulle ontwerp het en waarin hulle twee dogters grootgemaak het.

Hoe kry een mens dit reg om so ʼn reusebydrae te lewer? Giliomee gee geen maklike, opeens verhelderende antwoord nie. “Daar is geen diepe misterie nie,” sê hy. Sy werkskultuur het wel ʼn verrassende kinkel: “Ek kan nie saans werk nie.” Hy het ook nie naweke gewerk nie. “Ek was altyd tot my gesin se beskikking.” Daar was wel ook tyd vir gereelde tennis.

Hy was geen slaaf van die studeerkamer nie. Wanneer hy egter gewerk het, het hy gewérk, bevestig Annette. Hard en gefokus.

Die egpaar, wat reeds in 1965 in Pretoria getroud is, praat sonder baie woorde.

“Vir my was sy van die begin af die ideale lewensmaat. Vandag, meer as 50 jaar later, is sy steeds my grootste bron van inspirasie, krag en aanmoediging,” noem Giliomee.

Die omslag van sy outobiografie.

Sy boeke en artikels het hy jare lank met die hand geskryf, waarna dit vir hom oorgetik is. Eers laat in die 1990’s het die tiksterhulp weggeval en moes hy maar leer om op die rekenaar te werk.

“Ek is ʼn ‘slordige’ navorser,” beken hy. Hy het nie ʼn indrukwekkende kaartjiesisteem ontwikkel nie en bloot in notaboeke en selfs los blaaie sy aantekeninge gemaak wat tot boeke gegroei het.

“Maar ʼn padkaart moet mens hê. Jy moet weet wat jy probeer sê.” Dan het hy “soos ʼn padskraper” sy pad “deur die geskiedenis gestoot”. Soms het hy hom vasgeloop en moes hy maar weer probeer en herformuleer.

Hy was en is steeds oop vir nuwe interpretasies én om die ondenkbare te dink — soos dat dr. HF Verwoerd nie so ideologies benepe was as wat meestal voorgegee word nie.

Dit is juis ook Giliomee se vryer benadering tot sy vak wat hom in die 1970’s in botsing met sy kollegas op Stellenbosch gebring het. Die Departement Geskiedenis was destyds verknog aan die sogenaamd “wetenskaplik-objektiewe” benadering, ingebed in ʼn sterk Afrikanernasionalistiese ideologie en blind vir ingeboude subjektiwiteit wat erken moet word. As dosent op Stellenbosch het Giliomee duidelik teen die stroom geswem.

Sy doktorale proefskrif het bepaalde verskille reeds vroeg op die spits gedryf. Uiteindelik skryf ʼn buite-eksaminator: “My oorheersende indruk was: Hier is ʼn student wat te styf vasgehou is.” Die tesis is wel later as boek gepubliseer nadat Giliomee sy eie stempel sterker daarop afgedruk het.

In sy outobiografie wei hy wel uit oor sy kinderjare, studiejare op Stellenbosch, ʼn jaar as onderwyser by ʼn Engelse skool (om beter Engels te leer praat en skryf!), ʼn kortstondige loopbaan by Buitelandse Sake, sy gedwonge weggaan van die Universiteit Stellenboch in 1983, sy werk aan die omvangryke Die Afrikaners, sy ontledings van apartheid in talle artikels, rubrieke en boeke, die taalstryd op Stellenbosch, en die sake waaroor hy as Afrikaner trots én skaam is.

Hy het jonk aan die “tweedekind-sindroom” gely, meen Giliomee, en het soms teen ouerlike besluite “gerebelleer”. Vandaar sy ma se opmerking dat hy, by wyse van spreke, “against the government” was. Op 83 kon sy gelukkig in die gehoor sit toe haar effe dwars middelkind sy professorale intreerede in 1986 by die Universiteit van Kaapstad gelewer het.

Dit het egter in die toekoms gelê. Op Stellenbosch is ʼn naamlose brief in die 1970’s aan sy departementshoof en ander kollegas gestuur waarin hy beskuldig is van ʼn “lamsakkige houding” jeens sy werk. Hy is as ʼn “liberalis” en “slang” beskou wat die departement se naam in oneer bring.

ʼn Akademiese artikel is afgekeur en ʼn aansoek om bevordering tot professor misluk, maar Giliomee se statuur as akademikus en politieke ontleder was aan’t groei. Einde 1982 vra ʼn kollega van die Universiteit van Kaapstad hom om aansoek te doen vir ʼn professoraat in politieke studie, wat Giliomee sommer op ʼn Holiday Inn-briefhoof doen aangesien hy daar tuis was vir ʼn paar dae.

En so beland Giliomee tussen die Engelse, maar nie omdat hy wou nie. Intussen het hy ook ʼn gereelde rubriekskrywer vir die Cape Times geword — dít nadat Die Burger nie meer lus was vir Giliomee se artikels nie. (Jare vantevore het Piet Cillié hom nogal ʼn pos as joernalis by die koerant aangebied, noem hy so terloops.)

Die Giliomees het as gesin besluit om op Stellenbosch te bly en die pa moes maar inry Kaapstad toe. Toe hy jare later as befaamde historikus ʼn buitengewone professoraat by die Universiteit Stellenbosch aangebied word (nogal mét ʼn kantoor en parkeerplek), het die wiel mooi gedraai.

Stellenbosch-University

Universiteit Stellenbosch waar Giliomee studeer en later doseer het. (Foto: Cair.za.net)

Die wiel het ook op ander wyses gedraai. Van sy eertydse kritici (soos wyle Sampie Terblanche), wat hom van Marxisme beskuldig het, het later links van die ANC beland, en die eens ultranasionalistiese historikus Floors van Jaarsveld is geteer en geveer omdat hy as ʼn volksverraaier beskou is.

Nie dat daar ʼn sweem van leedvermaak by Giliomee bespeur kan word nie. Wel het hy die NP-gesinde verligtes van ouds oorleef en ʼn voorste kampvegter vir Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch geword.

“Ek het my Afrikanerskap nooit van die bergtoppe af verkondig nie,” merk Giliomee op. Maar dit is wie hy is. Van sy geboorte in 1938, die jaar van die Voortrekker-eeufees, maak hy niks, maar noem die volgende: “Deelname aan die volksbeweging was ʼn vormende invloed op my. Dit het ʼn gevoel gevestig van betrokkenheid by die Afrikaners as gemeenskap …”

In die Giliomees se huislike sitkamer hang ʼn mooi weergawe van sonneblomme deur Marjorie Wallace. Maar Giliomee het geen indrukwekkende studeerkamer waarvoor akademici so lief is nie. Geen massiewe boekrakke en indrukwekkende, geraamde eerbewyse nie.

Die Porterville-kultuur slaan deur: “Portervillers het gou skuins gekyk na diegene wat oor hul rykdom of geleerdheid gepraat het,” skryf hy.

Hy erken hy het blinde kolle gehad en foute gemaak. Soos oor die sterk opkoms van die ANC in die 1980’s. Dit is hierdie eerlikheid, ook selfkritiese eerlikheid as Afrikaner, wat Hermann Giliomee soms omstrede maak. Of waarnemers laat vra het: Hoe bring mens Giliomee se kloutjie by die oor?

Wel het hy by geleentheid in die vroeë 1990’s voorgestel dat liberaaldenkendes in Suid-Afrika (saam met die Kanadese filosoof Charles Taylor) tegelykertyd kies vir individuele én groepregte (soos taalregte). Die een sluit nie die ander noodwendig uit nie.

Hierdie voorstel het ʼn “krisis” in die Instituut van Rasseverhoudinge veroorsaak, die liggaam waarvan Giliomee toe pas as president aangewys is.

Dit bied egter ʼn nuttige sleutel tot die verstaan van Hermann Giliomee as Afrikaner-denker — die seun van Porterville waarin ʼn vryburger-DNS nog leef. Dalk dwars, maar nie “links” of “regs” nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ettienne ·

By Prof Gilliomee klas gehad op varsity. Merkwaardige man. Onuitwisbare indruk op my gemaak as student in die geskiedenis. Nounog lief vir die geskiedenis …

Elize ·

Ek het sy program “Die Afrikaner” baie geniet. Oopkop en feitlik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.