‘Afrikaners pleeg meeste haatspraak’ – minister

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

John Jeffery, adjunkminister van justisie, het hewige kritiek uitgelok met ʼn onlangse opmerking dat “wit Afrikaners” meer gereeld haatspraak pleeg. Hy het dié opmerking tydens ʼn vergadering van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste die afgelope week gemaak. Die vergadering het ten doel gehad om die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak te bespreek.

In reaksie op Jaco Mulder, VF Plus-LP, se kritiek op hierdie wetsontwerp het Jeffery opgemerk: “Mnr. Mulder is sekerlik bekommerd oor sy kiesafdeling, wat oorwegend wit Afrikaners is, want baie gereeld word hierdie rassistiese gebeurtenisse deur hierdie spesifieke groep gepropageer. Hierdie wet kan egter ook wit Afrikaners beskerm, sou hulle aangeval word.” Hy het dieselfde antwoord gereed gehad toe die DA kritiek op die beplande wet lewer.

“Die minister se optrede ondermyn die onpartydige doelwit van portefeuljekomitees en misbruik ʼn platform wat nie bedoel is vir goedkoop politiekery nie,” het Glynnis Breytenbach, die DA se skaduminister vir justisie, gesê.

“Die ANC maak hiermee sy oortuigings duidelik, naamlik dat dit net mense van ʼn bepaalde kleur is wat hulself kan skuldig maak aan haatmisdade.”

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ook die minister se uitlating skerp gekritiseer.

AfriForum het reeds in 2019 en 2021 skriftelike kommentaar teen hierdie voorgestelde wetsontwerp ingedien en in 2022 ʼn mondelinge voorlegging voor die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gedoen. Hierin het die organisasie sy kommer oor die wetsontwerp uiteengesit. “Die feit dat Jeffery hierdie haatlike, stereotiperende opmerkings teen Afrikaners gerig het, terwyl hy ook beweer dat die betrokke wetsontwerp konsekwent deur die ANC-regering toegepas sal word, bewys presies hoekom AfriForum dit nie ondersteun om aan die regering meer mag te verleen om spraak te polisieer in ooreenstemming met sy duidelike dubbele standaarde nie,” het Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, gesê.

“As mnr. Jeffery opreg daaroor besorg is om alle groepe, onder wie Afrikaners, teen haatlike retoriek te beskerm, sou hy eerstens sy neerhalende opmerkings terugtrek en in die openbaar om verskoning vra, asook sy ANC-kamerade vermaan wanneer hulle Afrikaners aanval en stereotipeer.”

Hy sê Jeffery se opmerking tydens dieselfde sitting dat die ANC “politieke doelwitte” het wat lede met die wetsontwerp wil bereik, is presies hoekom AfriForum dit teenstaan. “Hierdie wetsontwerp maak die deur oop vir verdere misbruik deur die ANC om eenvoudig die uitsprake van diegene wat hy wil stilmaak te kriminaliseer, eerder as om werklike haatspraak aan te pak.” 

In ʼn verklaring Vrydag het die departement van justisie en korrektiewe dienste egter aangevoer Jeffery se stelling is “buite konteks” vertolk. “Die minister het bloot gesê dat die wet albei kante toe werk en ook Afrikaners teen haatmisdade kan beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

TruthDealer ·

Nee Afrikaners pleeg Nie die meeste haatspraak nie. Vir die eenvoudige rede: As ons dit sou doen is dit reguit tronk toe met ons. Of eindelose hofsake en massiewe boetes en dreigemente teen ons en ons gesinne se lewens, ons besighede wat afgebrand word of moet toemaak, net eindelose probleme. Ons weet nou al hoe hierdie land werk en dat daar 2 stelle reels is.

Boer ·

Daar stem ek saam ek dink die EFF is die wat die haatspraak die meeste uitvoer.

Keelvol ·

Die ANC het geen integriteit nie. Die minister is duidelik nie in aanraking met die werklikheid nie. Daar was al soveel haatsprake teen die blankes in die land, daar was nie teen een opgetreë nie. Malema het hom skuldig laasjaar aan haatspraak gemaak en nog steeds het die anc nie opgetreë nie. So Ou minister, jy moet bykom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.