AfriSake kan selfstandige sakegemeenskap laat realiseer

piet-le-roux-afrisake-2018-06-05

Piet le Roux, die uitvoerende hoof van Afrisake. Foto: Reint Dykema.

Die sakebelange-organisasie AfriSake het Dinsdag sy strategiese prioriteite vir ’n selfstandige sakegemeenskap bekend gestel.

Dié bekendstelling het deel gevorm van AfriSake se konferensie “Vooruitsigte vir staatsbestande sake – hoe ondernemings kan slaag wanneer die staat misluk”, wat by die Atterbury-teater in Pretoria plaasgevind het. Meer as 300 sakelui, sakekamerverteenwoordigers, akademici, regslui en gemeenskapsleiers het die konferensie, bygewoon.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, sê die konferensie was ’n groot sukses. “

Ons weet dit is tradisioneel die staat se rol om ’n stabiele sakeomgewing te vestig. Ons weet egter ook dat hierdie regeringsrol in Suid-Afrika in praktyk toenemend te kort skiet. Die ekonomie is egter té belangrik om aan politici oor te laat. Daarom het ons top- plaaslike en internasionale kenners genooi om te praat oor wat sakelui kan doen om sélf ’n gunstige sakeomgewing te skep.”

AfriSake glo dat dit in die hele land se belang is dat sakelui verantwoordelikheid neem om self ’n gunstige sakeomgewing te skep indien die regering versuim om dit te doen.

“Net omdat die staat hierin misluk, beteken dit nie dat daar niks is wat sakelui of die publiek daaraan behoort te doen nie. ’n Gunstige sakeomgewing is onontbeerlik vir die produksie van goedere ten einde ’n voorspoedige en vreedsame samelewing moontlik te maak. Om self ’n gunstige sakeomgewing te skep, is in sakelui se persoonlike én in algemene ekonomiese belang – dit is trouens in die belang van die konstitusionele orde self.

“Om verantwoordelikheid te aanvaar, is die regte ding om te doen,” sê Le Roux. “Dit kan wees dat die politiek in Suid-Afrika in die toekoms drasties verbeter en dat die staat en staatsinstellings weer verbeter. Aan die ander kant is dit die realiteit dat die staat tans op baie dimensies verswak. Goeie risikobestuur vereis dat sakelui nie net blindelings hul hoop op politici plaas nie, maar ook intussen alternatiewe gereed kry indien die staat verder sou verswak.”

 ’n Selfstandige sakegemeenskap

AfriSake het op sy konferensie ook sy strategie vir ’n selfstandige sakegemeenskap bekend gestel.

’n Selfstandige sakegemeenskap is ’n gemeenskap van sakelui met die volgende drie eienskappe:

  1. Hulle is staatsbestand: Hul onderskeie ondernemings is so bestand moontlik teen politieke risiko’s soos onteiening, afgedwonge aandeleverkope en ander vorme van skadelike staatsinmenging.
  2. Hulle het bedingingsmag: Om kollektief met die regering vir ’n billike verhouding te beding en om tot ’n gunstige sakeomgewing by te dra.
  3. Hulle het institusionele alternatiewe: Om deur selfregulering en privaat infrastruktuur ’n alternatiewe sakeomgewing te skep waarbinne ekonomiese aktiwiteit deur sy lede en enigiemand anders voortgesit kan word indien die omgewing wat die staat skep, ontoereikend is.

 AfriSake se strategiese prioriteite

AfriSake beoog om sy visie vir ’n selfstandige sakegemeenskap met die volgende drie strategiese prioriteite te bewerkstellig:

  1. Sakekamerstrategie: AfriSake gaan sigself op die daarstelling van ’n uitgebreide netwerk van sakekamers en bedryfsaffiliasies toespits ten einde met die grootste moontlike bedingingsmag met die regering te skakel om ’n gunstige sakeomgewing te bevorder.
  2. Institusionele strategie: AfriSake gaan ’n sakekode ontwikkel waaraan sy lede geken kan word en wat die basis vir onderlinge samewerking en aantreklike handelsverhoudinge vestig. AfriSake gaan hom beywer vir toegang vir klein en medium sakeondernemings tot alternatiewe kommersiële geskilbeslegting, soos privaat mediasie en arbitrasie.
  3. Lede-ondersteuningstrategie: AfriSake gaan sy lede by wyse van advies en regsaksie bystaan om hul ondernemings en sakeomgewings teen nadelige staatsinmenging en ander politieke risiko’s bestand te maak.

Le Roux sê daar is uiteraard ook ander elemente tot AfriSake se strategie, maar dat hierdie drie prioriteite eerste aandag sal geniet.

 Oor AfriSake

AfriSake is ’n sakebelange organisasie met meer as 12 000 lede landwyd. Die organisasie is in 2011 gestig. AfriSake bestaan om ’n konstitusionele orde, vrye markte, eiendomsreg, ekonomiese voorspoed en ’n gunstige sakeomgewing in die belang van sy lede te beding en te skep, asook in die gemeenskaplike belang waar ook al sy lede sake doen.

AfriSake gee uitdrukking aan hierdie missie deur:

  1. Vryemarkleierskap ter bevordering van ’n konstitusionele orde, vrye markte en eiendomsreg, waarby inbegrepe openbare beleidsinspraak, deelname aan die openbare debat en regsaksie op plaaslike, nasionale en internasionale vlak;
  2. Die bevordering van ’n selfstandige sakegemeenskap, met institusionele infrastruktuur sodat sy lede en hul kliënte, klante en vennote sake kan doen ongeag ekonomiese en politiese omgewingsfaktore;
  3. Individuele lede-ondersteuning wat hulp behels soos arbeidsregadvies, opleiding, algemene regsadvies wat van tyd tot tyd aan lede gebied word; en
  4. Welwillendheid, ingevolge waarvan lede se ruimhartige bydraes na verdienstelike sake soos onderwys en ander gemeenskapsbehoeftes gekanaliseer word.

Luister ook hier:

  • In hierdie klankgreep verduidelik Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, hoekom die sakebelange-organisasie ʼn selfstandige gemeenskap vir klein sakeondernemings en entrepreneurs wil skep:
  • Frans Cronje, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, het nie enige doekies omgedraai oor die moeilike politieke waters waarin in die plaaslike ekonomie hom tans bevind nie:
  • Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, verduidelik wat hy bedoel as hy van staatsbestande geld praat:
  • Willie Cronje, wat die Alstom-leerstoel vir skoon energiestelseltegnologie aan die Universiteit van die Witwatersrand beklee, sê mense en gemeenskappe hoef nie meer vir die staat te wag om in hul elektrisiteitsbehoeftes te voorsien nie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Al ·

Ek het nog nie na so ñ hoek gekyk waarvan AfriSake praat dat ons as burgers en sakelui verantwoordelikheid moet neem om gunstige omgewing te skep vir ekonomie.

Pietman ·

Al hierdie inisiatiewe gaan niks help nie. Fokus om selfbeskikking. Dis baie moeliker om te kry maar die enigste uitweg naas emmigrasie.

Disselboom ·

Ja, bou aan jou eie ekonomiese vermoë, werk hard, neem inisiatief, maar sonder politieke mag bly jy uitgelewer aan die regering van die dag. Hierdie inisiatiewe en werk wat ingesit word is goed, solank dit nie ‘n suikerpilletjie word om die eintlike groot saak, naamlik die stryd om regmatige regeermag te hê, te vermy nie.

Digitale aanpassing ·

Onthou die tip oor hoe belangrik dit is om julself op te lei in digitale tegnologie en nuwe ekonomie, leer dit verniet aanlyn.

Aanlyn student ·

Ja daars baie gratis kursusse oor die onderwerp op Coursera, Edx en Udacity.

Etienne Prinsloo ·

Baie innoverend en edel. Die probleem in die skaakspel tussen besigheid en staat is baie meer kompleks. Vir elke anti Marksistiese, teen kader oorname plan is daar wetgewing, wetgewing wat bitter vinnig ter tafel gelê en implimenteer word. Wetgewing wat deur die anti blanke, blanke liberale besing word. Wetgewing wat teen ekonomiese beginsels indruis en beleggings vernietig.
Die ANC is op ‘n kruistog om elke blanke in “abject poverty” te sien, al beteken dit die einde van SA.

Joshua ·

Afri, kla die ANC aan by die VN om BEE as n misdaad te verklaar en te verban.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.