AfriSake stel vyfpuntplan bekend om eiendomsregkrisis af te weer

Foto: Maretha Maartens

Foto: Maretha Maartens

“Die toekoms van eiendomsreg in Suid-Afrika is in gedrang.”

Dit was die mening van verskeie kenners wat vandag aan die AfriSake Eiendomsregkonferensie deelgeneem het. AfriSake het tydens die konferensie ‘n verslag bekendgestel wat 14 verskillende wetsontwerpe, beleide en regsprake uitwys wat ten doel het om eiendomsreg drasties in te perk, af te takel of selfs te vernietig.

Volgens AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, toon die verslag dat die ANC-regering beplan om hul onteieningsbeloftes gestand te doen. Die verslag wys daarop dat die regering se herverdelingsbeleid nie slegs op landbougrond gemik is nie maar alle eiendom in die staat se visier plaas. “Hierdie wette is juis so geformuleer dat dit ‘n regsraamwerk skep wat uiteindelik op alle soort eiendom van toepassing gemaak kan word,” het Jansen van Rensburg gesê.

Die strategie is om eiendomsreg stelselmatig af te takel: Die staat beperk eers eiendomsreg deur fyn beplande wetgewing, en neem dan de facto-beheer oor eiendom wanneer dit te laat is om iets daaraan te doen.

Kenners wat aan die konferensie deelgeneem het, sluit in die Russiese ekonoom prof. Yuri Maltsev, ekonoom Dawie Roodt, dr. Anthea Jeffery van die Instituut vir Rasseverhoudinge, die uitvoerende hoof van die vryemarkstigting, Leon Louw, regskenner Willie Spies, en Piet le Roux van die Solidariteit Navorsingsinstituut. Alle deelnemers het die inhoud van die verslag onderskryf en was van mening dat daar ernstige rede tot kommer bestaan oor die toekoms van eiendomsreg in Suid-Afrika.

Ten einde die dreigende eiendomsregkrisis af te weer, het AfriSake ‘n vyfpuntplan bekend gestel. Dit sluit kortliks die volgende stappe in:

1. Legitieme en ordelike grondherstel vir individue wat hul eiendomsreg in die verlede verloor het, moet plaasvind, maar op so ‘n wyse dat bestaande eienaars nie hul regte verloor nie.

2. Herverdeling as regeringsdenkraamwerk moet bevraagteken word. Herverdeling word toenemend in verband gebring met ANC-nepotisme, swak dienslewering en korrupsie.

3. Regsaksies moet van stapel gestuur word om die regsbeginsels van eiendomsreg te beskerm.

4. Verskansing van persoonlike bates teen moontlike staatsvergrype moet plaasvind.

5. Politieke en ekonomiese druk moet op Internasionale vlak uitgeoefen word.

“Eiendomsreg is die hoeksteen van ‘n gesonde en groeiende ekonomie. Daarsonder kan Suid-Afrika se mense nie uit die moeras van armoede en werkloosheid gelig word nie”, het Jansen van Rensburg gesê.
Uiteindelik sal eiendomsreg nie deur die politici alleenlik beslis word nie, maar deur landsburgers. Aktiewe en georganiseerde burgerlike instellings het ‘n belangrike rol om te speel deur gemeenskappe te mobiliseer ten behoewe van eiendomsreg, het Jansen van Rensburg gesê

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

pieter hölscher ·

As ek na al die dinge van hophuise, kindertoelae ens kyk, dan begin dit werklik vir my voorkom hoekom hulle alle eiendom in die Anc regering wil hê…..kommunisme!!!
Hoe het die regering die swart arm mense aan die hare beet? Hophuise… dit bly regering eiendom…..kindertoelae, ‘n manier om mense te boelie dat hulle dit kan verloor, asook hul “huise”, as hul nie Anc in bewind hou nie. Ek sien nie enige oplossing vir die toekoms in Suid Afrika nie

Oom Jan ·

Kommunisme en opportunisme is nou al so verskans in die regering dat daar geen oplossing meer vir SA oor is nie. Die sg. reenboognasie was reg van die begin af ‘n drogbeeld om ons soet te hou. Al wat oorbly is selfbeskikking in ons eie gebied volgens internasionale beginsels waar ons weer kan asem skep en van alles ontslae raak waarmee daar tans gepoog word om ons volk en kultuur te vernietig. Eers as ons self weer stewig op eie voete staan kan ons daaraan dink om diegene te help wat hul lewens uit “Afrika standaarde” wil uitlig.

Tokkie ·

Jy is reg Pieter en toe Hendrik Verwoerd en andere gesê het ons verdedig die land op die grense teen oorname deur kommuniste is dit as bollie afgemaak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.