AfriSake vra interdik teen BLF

Argieffoto

Die sakeregtewaghond AfriSake het Woensdag met regstappe begin om ’n interdik teen Black First Land First (BLF) se leier, Andile Mngxitama, en sy woordvoerder, Zanele Lwana, te bekom vir die beweerde aanhitsing, opsweping van en bevele aan sy lede én die publiek om die misdade van betreding en onwettige grondbesetting te pleeg.

Armand Greyling, regs- en beleidsanalis van AfriSake, het gesê hofdokumente in hierdie verband is Woensdag op die BLF by sy hoofkwartier in Johannesburg beteken.

“Die sogenaamde ‘Land Now Declaration’ wat die BLF op 27 Mei 2017 in Soweto bekendgestel het, het byvoorbeeld ’n rassistiese ondertoon en sluit af met die woorde: ‘Take back the land! Land or death!’,” het Greyling gesê.

Greyling het gesê Lwana het in Junie 2017 tydens ’n onderhoud op Radio Sonder Grense (RSG) op die lug ’n beroep vir massagrondbesettings gedoen. “Die BLF het verder aangevoer dat die organisasie in Januarie 2018 massagrondbesettings sal fasiliteer, wat AfriSake met geen ander keuse laat as om in te gryp ten einde grondwetlike eiendomsregte te beskerm nie,” het Greyling gesê.

“Ons is ’n organisasie wat nie wetteloosheid en misdadigheid sal duld nie. Groepe soos die BLF moet begryp dat daar nagevolge is vir die dinge wat ’n mens in die openbaar kwytraak, en dat dit ’n strafregtelike oortreding is om ’n beroep op mense te doen om ʼn misdaad te pleeg.”

AfriSake het by monde van Greyling gesê hy twyfel nie dat die organisasie daarin sal slaag om ’n interdik teen die betrokke partye te bekom nie – “net soos wat ons gedoen het teen Julius Malema en die EFF vir dieselfde soort gedrag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.