Afsettingsbevel teen Darling-boer teruggetrek

(Argieffoto ter illustrasie: Kwanalu/Facebook)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het besluit om die afsettingsbevel teen Ivan Cloete, ʼn bruin boer van die plaas Colenso by Darling in die Wes-Kaap,  terug te trek.

Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, sê nié net mag Cloete nou op die plaas aanbly nie, maar sal hy ook voorsien word van ’n 30 jaar-huurooreenkoms met dieselfde voorwaardes as wat van toepassing is op kommersiële huurkontrakte.

Maroela Media het vroeër berig die departement het die plaas Colenso amptelik aan Cloete toegeken, maar dieselfde stuk grond daarna aan ʼn MK-veteraan gegee. Die nuwe begunstigde het glo noue politieke bande en is reeds ʼn suksesvolle sakeman. Cloete is toe beveel om die plaas te ontruim.

Die departement het nou ná ’n ondersoek in ʼn verslag, wat aan die portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling voorgelê is, toegegee dat “dit duidelik is dat Cloete sedert 2012 nie regverdig behandel is nie”.

“Dit is uit die ondersoek duidelik dat die plaas Colenso aan Cloete toegeken sou word, maar senior amptenare van die departement het besluit om dit aan  ʼn ander persoon toe te ken,” lui die verslag.

Volgens die verslag was daar beslis onreëlmatighede en onbehoorlike optrede wat Cloete in ʼn moeilike posisie geplaas het aangesien hy van die een plek na die ander moes verhuis.

“Gevolgebestuur word geneem teen alle senior bestuur en amptenare wat deelgeneem het aan die geïdentifiseerde onreëlmatighede en wanbestuur.”

Steyn sê die DA sal nou vra dat dissiplinêre stappe gedoen word teen die amptenare wat aan die voorpunt van die onwettige afsettingsbevel was.

Dr. Theo de Jager, Saai se uitvoerende direksievoorsitter, het intussen die departement se besluit om die afsettingsbevel terug te trek, verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

FM ·

Dit is puik nuus gesien in die lig van soveel ongeruimdhede. ‘n Oorwinning vir landbou en geregtigheid. Ivan Cloete mag jy 30 geseënde jare boer!!!

Johnny ·

Die oorvloed van ongerymdhede laat heeltelmal te veel ruimte vir korrupsie en baantjies-vir-boeties

louis ·

Die gebeure maak my benoud en laat my terug dink aan die grondgrype van die Zanu Pf in Zimbwabwe

Stephen ·

Dit is wat gebeur as die druk volgehou word!! Dagvaar sommer die spul skurke ook nog boonop en eis vir die ongerief!!

Persheks Adri ·

Uitstekende nuus! Baie dankbaar vir die boer en mag hy net voorspoed en geluk hê vorentoe!

Friedrich ·

Net jammer hulle het die saak terug getrek, en dat daar nie ‘n hofbevel daaroor gemaak was nie

Tipper ·

Nou wie se plase gaan nou onteien word, die ou het nou sy plasie terug.

Aikie ·

Dalk moet ons goewerment (ANC) begin om die amptenare wat sulke growwe vergrype pleeg te “name and shame” tesame met die straf wat hulle opgelê was. Dit sal nou ‘n gebaar van openheid en deursigtigheid wees.
Dalk sal die amptenare baie versigtiger wees in hul daaglikse omgang met Jan Publiek. Gesien aan die vergrype van oudpresident Zuma beskou die meeste amptenare hulle verhewe bo die wet. Kyk maar vir Zuma. Hy het dit reg gekry om die Zondo komissie se tande te trek. Reguit vir hulle vertel om blommetjies te gaan pluk in die vlei en hy is nog steeds op vrye voet. Intussen kos dit die belasting betaler miljarde wat gebruik kon word om die “agtergeblewenes” op te hef.

Dries ·

“Gevolgebestuur word geneem”? Ek sal graag die vordering daarvan wil sien.

Sarel ·

Daar sal beslis nie teen enige vzn die Skuldiges opgetree word nie. Ons weet mos nou al

Mariana ·

Uitstekende nuus. Geluk Mnr. Cloete. Laat hierdie les wees vir al die hoë amptenare wat dink hulle kan maak soos hulle wil.

Hennie J ·

Dit is nou tyd dat die senior amptenare EN die sogenaamde mk veteraan by name genoem word en behoorlik gestraf word.

Johann ·

Iemand sal nou moet toesien dat Ivan veilig is. Die staat het bewys dat hy alle verantwoordelike verpligtinge ten opsigte van die plaas is as gevolg van growwe gierigheid sal prysgee.

AH ·

Ek is bly oor die nuus dat daar darem geregtigheid geskied het in hierdie geval, maar ek bly nuuskierig oor die persoon /persone wat by elke kommentaar ‘n duimpie af wys? Wil jy/julle nie maar julle kommenaar stuur sodat ons ook kan sien wat jy/julle negatiewe reaksies uitlok nie??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.