Afskaffing van SAOG-tribunaal: Uitspraak verwelkom

Jacob Zuma (Foto: ANA)

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Donderdag sy tevredenheid uitgespreek met die beslissing van die Pretoriase hooggeregshof dat voormalige president Jacob Zuma onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik opgetree het toe hy deelgeneem het aan die afskaffing van die tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het in reaksie op die hofuitspraak gesê dit is belangrik dat die 277 miljoen burgers van die SAOG-streek die rol van streekstribunale en hul kritieke belangrikheid in die beskerming van die regte van alle burgers verstaan. “Wanneer individuele burgers, burgerlike samelewingsgroepe en aktiviste toegang tot die regbank in hul eie lande geweier word, moet daar vir hulle ʼn manier beskikbaar wees om hulle op ʼn hoër hof van arbitrasie te beroep om besluite te beveg wat ʼn impak op demokrasie en hul menseregte kan hê,” verduidelik hy.

Maroela Media het vroeër berig regterpresident Dunstan Mlambo het Donderdag die eenparige beslissing van ʼn volbank hooggeregshofregters in die hof gelewer.

Dit kom nadat die Prokureursorde van Suid-Afrika in April 2015 ʼn aansoek gebring het om die optrede van Zuma, asook dié van die minister van justisie, Michael Masutha, en die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Maite Nkoana-Mashabane, ongrondwetlik te verklaar met betrekking tot die SAOG 2014-protokol.

AfriForum het vier Zimbabwiese boere en twee landboumaatskappye suksesvol gehelp om tot hierdie saak toe te tree. Die boere het hul eiendomme as deel van Zimbabwe se grondhervormingsbeleid verloor. Hulle het die SAOG-tribunaal in 2008 suksesvol genader om hul eiendomsreg te beskerm, maar die tribunaal is eers opgeskort en toe daar gelaat om uiteindelik heeltemal tot niet te gaan.

Die hof het bevind dat Zuma se deelname aan die proses om die SAOG-tribunaal te ontbind, onwettig, irrasioneel en dus ongrondwetlik was. Mlambo het gesê as dit die bedoeling van die Zuma-regering was om Pretoria van die SAOG-verdrag en protokol te onttrek, moes toestemming eers by die parlement verkry geword het.

Die hof het verder ʼn kostebevel aan die aansoekers, sowel as die partye wat as vriende van die hof tot die saak toegetree het, toegestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

En……? Dis nie asof Zuma en sy kaders hulle al ooit aan howe gesteur het nie?

Koos ·

Alles goed en wel MAAR… watter verskil maak die uitspraak, behalwe ‘n geldjie vir AfriForum se regsmense?

Klug ·

Dankie tog, sanity at last maar WATTER AFRIKA leier het hom al aan julle of julle uitsprake gesteur? Julle het niks aan Mugabe se menseregtevergrype en gronddiefstal en die jagmaak op blankes gedoen nie .. julle doen steeds niks aan hom nie, soos julle niks aan ZUma en aan die ander AFrika leiers gaan doen nie .. dit is ‘n klugspul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.