Afskaling van aktualiteitsdekking op RSG wek kommer

PEN Afrikaans, ʼn vereniging van skrywers, joernaliste en uitgewers, meen die programaanpassings wat RSG sedert die begin van April in werking gestel het, verteenwoordig ’n drastiese verskraling van die openbare uitsaaier se voorheen sterk aktualiteitsaanbod en word deur ’n groot aantal luisteraars en joernaliste betreur.

Die program Monitor is met ’n uur verkort, en in die proses tot ’n tydgleuf beperk waartydens klaarblyklik minder luisteraars ingeskakel is (06:00 – 07:00). Die program Praat saam, waarvan Lynette Francis-Puren die aanbieder was, is van die lug verwyder.

“Hierdie programme se enorme bydrae, oor dekades heen, tot die openbare diskoersvoering oor aktuele sake in Afrikaans is sedert die aankondiging van die programveranderings deur verskeie kommentators belig,” sê PEN Afrikaans in ʼn verklaring.

RSG se nuwe ontbytprogram, Op en wakker, wat sedert 4 April uitgesaai word, is gemik daarop om vermaak te verskaf, oftewel programaanbod op ligter trant as die bydraes oor aktuele sake wat voorheen lugtyd gekry het.

“PEN Afrikaans is as skrywersorganisasie gemoeid met die stand van ook die Afrikaanse joernalistiek, wat natuurlik radiojoernalistiek insluit. Radio is en bly die toeganklikste medium om feite en nuus aan ’n enorme aantal mense te lewer. ’n Radio is relatief goedkoop en nasionale uitsendings dek die grootste deel van ons land; om radio te luister is boonop gratis.

“In ’n tyd waarin vals inligting soos ’n pandemie op die sosiale media versprei, is toegang tot gekontroleerde feite en ingeligte gesprekvoering in alle landstale noodsaaklik. Die openbare diskoers oor aktuele sake in Afrikaans is ’n gevoelige slag toegedien met RSG se afskaling van hul aktualiteitsprogramme. Hierdie slag is, met inagneming van die groter medialandskap waarbinne koerante se drukoplae kwyn of verdwyn, en aanlyn nuusplatforms dikwels van betaalmure gebruik maak, des te meer gevoelig.”

Herman Wasserman se pas gepubliseerde boek Disinformation in the Global South toon dat talle selfoonnetwerke en -kontrakte die sosiale media goedkoop, soms gratis, aan mense bied, terwyl toegang tot feiteblaaie dikwels nog duur data verg – vir baie nuusverbruikers ʼn struikelblok tot sulke gratis toeganklike nuusplatforms.

“Om verskeie redes, waaronder die gebrek aan redaksionele kontrole en verantwoordbaarheid uitstaan, is sosiale media geen alternatief vir wat hier verlore gegaan het nie.”

Teen hierdie agtergrond betreur PEN Afrikaans die nasionale uitsaaier se besluit om weg te doen met die genoemde program en programdeel wat oor jare as gerekende en gewilde bakens van verslaggewing en gesprekvoering gevestig is. “Dit is programme wat in die verlede ’n belangrike rol gespeel het in die oordra van kiesersinligting in die aanloop tot en tydens verkiesings, in die analiseer van politieke en maatskaplike vraagstukke van die dag, en sodoende in die bemagtiging van Afrikaanssprekendes.

“Dit is verder kommerwekkend dat daar geen openbare raadpleging of gesprek met RSG-luisteraars was voordat die programaanpassings gemaak is nie. Volgens RSG se sakebestuurder is die veranderinge ook deur geen vooraf marknavorsing onderlê nie.”

PEN Afrikaans sê as ’n openbare uitsaaier het RSG ’n unieke en belangrike mandaat in diens van die publiek, en daardie mandaat behoort met erns en omsigtigheid benader te word. RSG se bydraers, aanbieders en luisteraars verdien dit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Swerwer ·

Radiostasies sal die meer lank neem voor dit nie meer in ons taal beskikbaar gaan wees nie.
Aanpassings tot kommunistiese vlak is oral merkbaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.