Afsondering: ACDP waarsku oor misdaadrekord vir oortredings

Gemoedere in Pinetown loop hoog nadat ‘n man wat glo die polisie gevloek het, hom verset teen inhegtenisneming. Duisende mense is reeds vir oortredings van die afsonderingsregulasies aangekla. (Foto: Doctor Ngcobo/ANA)

Die ACDP het Suid-Afrikaners wat ʼn skulderkenningsboete vir ʼn oortreding van die afsonderingsregulasies betaal, gewaarsku dat dit neerkom op ʼn misdaadrekord en vra nou vir ʼn wysiging om dít te verhoed.

ACDP-LP Steve Swart sê talle mense besef moontlik nie die gevolge daarvan om ʼn skulderkenningsboete te betaal nie. Hulle moet dit eerder oorweeg om ʼn skriftelike voorlegging aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te doen as hulle aangekla word van ʼn oortreding van die regulasies.

“Baie mense wat die regulasies oortree, gaan skulderkenningsboetes betaal om ʼn hofverskyning te vermy,” het Swart gesê.

“Die meeste van hulle besef nie dat hulle dan ʼn misdaadrekord gaan hê wat ʼn ernstige uitwerking behels as hulle aansoek doen om werk nie. Dit gaan ook ander regsimplikasies inhou.”

Swart het gevra vir ʼn wysiging aan die bepalings sodat dit nie die geval gaan wees nie.

Sommige bepalings is hoogs omstrede en opposisiepartye vra dat sekere afsonderingsregulasies – wat nou al twee maande lank geld – verslap word.

Swart sê daar is ʼn wydverspreide gevoel dat sommige bepalings “irrasioneel” is. Dit sluit in die aandklokreël wat geld, asook die beperkings op oefening en handel.

Teen die einde van April – ná die eerste maand van die afsondering – is meer as 118 000 mense al aangekla van oortredings van die Wet op Rampbestuur wat tans geld, het Swart gesê.

Polisielede op patrollie in Limpopo tydens die afsonderingstydperk. (Foto: SA Polisie/Twitter)

“Die ACDP doen ʼn beroep op die minister [van justisie] om dringend aandag aan die kwessie te gee, gegewe die groot getal gewoonlik wetsgehoorsame burgers wat in hegtenis geneem en ingevolge die afsonderingsbepalings aangekla is.

“Intussen raai ons diegene wat reeds in hegtenis geneem en aangekla is aan om voorleggings aan die NVG te doen, veral as die oortreding as gering beskou word.”

Die kantoor van die Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, het gesê die skulderkenningsboete gaan geld as ʼn vorige veroordeling. Dit kan moontlik nié op die lys van vorige veroordelings wat aan die hof voorgelê word, verskyn nie omdat vingerafdrukke gewoonlik nie geneem word wanneer iemand ʼn skulderkenningsboete betaal nie.

ʼn Hof kan egter die oortreding in berekening bring as die beskuldigde só ʼn boete voorheen betaal het en nou vir ʼn soortgelyke oortreding teregstaan. Die aanklaer of ondersoekbeampte kan ʼn vorm by die klerk van die hof indien wat die vorige oortreding kan aandui en wat dan tydens vonnisoplegging oorweeg kan word.

Swart sê dit lyk of diegene wat wél skulderkenningsboetes vir oortredings van die afsonderingsregulasies betaal, se vingerafdrukke inderdaad geneem en hulle formeel aangekla word. Dit gaan dan as ʼn misdaadrekord wys.

Die adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste, John Jeffery, het gesê die departement werk nou al ʼn geruime tyd aan ʼn wetswysiging wat die aantal skulderkenningsboetes wat ʼn misdaadrekord tot gevolg het, sal beperk.

Hy het benadruk dat die departement nou al ʼn wyle werk aan die wysiging en dat dit nie oorweeg word as ʼn maatreël wat spesifiek van toepassing is op diegene wat die Covid-19-afsonderingsregulasies oortree nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie ·

Is daar dan ‘n klein of ‘n groot oortreding? Dis of jy gehoorsaam die wet of jy oortree hom. Liewe ouers, 118000 mense al aangekla? Dit dui mos duidelik op ‘n tendens van rebelsheid en doelbewuste wetteloosheid al is die wette hoe drakonies of belaglik. En nou moet diésulke oortreders met ‘n klap op die rug vrygelaat word en die rekord van so oortreding moet geskrap word. Neé Néé!!! Twee redes : Wie wil so ‘n rebel in diens neem? As daar nie ‘n rekord gaan wees nie, hoe gaan die afkoopboetes beheer word? Moet daar dan ‘n kwitansie wees vir die boete betaal, want as daar is, dan is daar ‘n rekord van ‘n oortreding. Anders gaan dit in ‘n ongelooflike bedrogspul verander en ‘n klómp geld gaan voete kry!! Hoe en wie gaan dit beheer? Wonder maar net…

Chris ·

Ons beskermers sonder maskers en met kortmou hemde?
Dit terwyl daar aanbeveel word om in die vou van jou arm te nies en dat mense opleiding moet ontvang oor die gebruik van “ppe” sien beampte wie se masker onder sy mond dien geen doel en almal ignoreer veiligheidsafstand.
Wonder wie doen “hulle” risikobepaling (risk assessments) en veiligheidsopleiding?

Elsa ·

Daardie wetwysiging is al meer as 5 jaar aan wording, maar daar is mos altyd môre.
Dit gaan daaroor:Mag en my persoonlike mening is dat SAPD net daarop uit is om hul mag te misbruik.
Štel alle besighede oop, dra n masker, einde van Al hierdie twak.

Peet ·

Word die wat hulle magte oorskry ook aangekla. Seker geen kriminele rekord vir diè kriminele nie.

Scalla ·

Verstaan ek dus reg, sekere wetstoepassers wat reeds oor misdaad rekords beskik is by magte om aan mense sonder rekords onbenullige boetes uit te reik om dan gedwing word om skulderkenning te betaal om hofverskynig vry te spring en geklassifiseer te word as misdadiger met rekord, Belaglik. Only in scrappy SA.

Genis ·

As ek na die nedersettings kyk, moes daar al 10miljoen gewees het..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.