Afsondering: Bepaalde verhoorafwagtendes tydelik vrygelaat

Argieffoto

Kragtens regulasies wat Maandag in die Staatskoerant afgekondig is, sal mense wat aangehou word vir mindere misdade en nie hul borgtog kan bekostig nie, tydelik vrygelaat word.

Dit vorm deel van omvattende maatreëls wat die funksionering van howe in die tyd van algemene afsondering moet reguleer.

Mindere misdade sluit kwessies soos verkeersoortredings, dronk op straat, leeglêery en mindere winkeldiefstal in, en berus op die oordeel van die regter of landdros. Dit is nie seker hoeveel beskuldigdes in dié kategorie val nie.

Luidens die regulasie moet hulle vrygelaat word met die opdrag om op ’n spesifieke latere datum in die hof te verskyn. Geen saak word laat vaar nie en niemand wat tans gevangeneskap uitdien, word geraak nie.

Opposisiepartye het die stappe verwelkom. Adv. Glynnis Breytenbach, DA-skaduminister van justisie, en dr. Corné Mulder van die VF Plus het gesê die maatreëls sou nie in die normale gang van sake welkom wees nie, maar maak sin binne die konteks van Covid-19.

Die regulasies sluit in dat howe daagliks slegs tussen 09:00 en 13:00 oop sal wees om dringende en noodsaaklike sake aan te hoor en dat slegs diegene wat by die hofsaak betrokke is (beskuldigde, hofpersoneel, regspanne, familie, getuies en noodsaaklike ondersteuners) die hofsaak mag bywoon. Die regter of landdros kan besluit hoeveel mense in die hofsaal mag wees.

Howe word ook aan streng sanitêre vereistes onderwerp. Niemand wat die land die afgelope maand binnegekom het, mag ’n hofsaal betree nie, asook niemand wat met ’n Covid-19-geval in aanraking was of simptome daarvan het nie. Diegene wat daaroor jok, kan bykomende straf opgelê word.

Ander regulasies sluit in:

  • Tolke mag nie oor provinsiale grense reis nie.
  • Buiten eerste verskynings en borgtogaansoeke, sal alle strafregtelike sake sover moontlik deur middel van regstreekse video-opnames hanteer word om verplasings van gevangenes tussen tronke en howe tot die minimum te beperk.
  • Sake waarby kinders betrokke is, sal in absentia uitgestel word en so min moontlik siviele sake sal voor die hof dien.
  • Sake wat wel deur die hof aangehoor sal word, is sake wat verband hou met die koronavirus, sake wat verband hou met regulasies oor die algehele afsondering, dringende hofbevele, sake oor teistering en sake oor huishoudelike geweld.
  • Die kantoor van die meester sal slegs sake oor die betaling van onderhoud, sake wat verband hou met begrafnisse en die aanwys van kuratore hanteer.
  • Wat hofbevele betref, sal slegs aansoeke wat verband hou met pleegsorg, aanneming, die verwydering van kinders uit ouersorg, die plasing van kinders in plekke van veiligheid, en gevalle waar kinders oor landsgrense heen ontvoer word, aangehoor word.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jan

Haha. Laaste sien van die blikkantien

Anel

So sake wat verband hou met die virus is ernstiger as moord en verkragting, of verstaan ek nou vrrkeerd?

Wilma

Leeglêery, gaan daar nou nie nog meer wees nie? Ek dink nie die klomp gaan weer gesien word nie. Hoop regtig dit gaan beter reguleer word as die vorige vrylatings, toe daar moordenaars en verkragtes ook “per ongeluk” vrygelaat was.

SomeOne

en so word al meer en meer toegewings toegelaat, waarom die “lockdown” periode dan

Amatambo

Wys net hoe onbevoeg ons owerhede is… dink hulle REGTIG dat hierdie verhoorafwagtendes gaan hulle by die voorwaardes/reëls hou? Nee-a – GISTER was APRILDAG-grap – hierdie is die grap van die jaar…