Afsondering: Bykomende maatskaplike werkers ontplooi

Miljoene mense is reeds van staatshulp afhanklik en die nood verhoog by die dag. (Foto: Twitter)

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het aangekondig dat die staat 1 890 bykomende maatskaplike werkers aangestel het om Suid-Afrikaners te help om die maatskaplike swaarkry tydens algehele afsondering te probeer hanteer.

Zulu het in ʼn voorlegging aan ʼn virtuele sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor maatskaplike ontwikkeling gesê die grootste behoefte bestaan by bejaardes wat alleen woon en vereensaam, by kinders van geskeide ouers en slagoffers van gesinsgeweld.

Sy het omvattende statistieke oor die verskillende provinsies se bevegting van die koronavirus bekend gemaak.

Die grootste uitdagings wat deur die minister uitgelig is, is die uitbetaling van R18 miljoen se Sassa-welsyntoelae, sielkundige ondersteuning aan kwesbare mense in die samelewing, vinnige optrede teen geweld teen vroue en kinders, die akkommodasie en voeding van haweloses en die effektiewe aanwending van vrywilligers.

Wat die huisvesting van haweloses betref word die meeste werk in die Wes-Kaap gedoen, waar 6 681 hawelose mense tans gehuisves word. Gauteng het 3 121 haweloses in versorging, KwaZulu-Natal 2 071, die Oos-Kaap 560, Limpopo 461, Mpumalanga 387, Noordwes 261, die Vrystaat 247 en die Noord-Kaap 168.

Tot dusver is 442 gevalle van gesinsgeweld aangemeld tydens die afgelope vier weke van afsondering. Gauteng het met 217 gevalle amper meer as al die ander provinsies saam. In KwaZulu-Natal is 56 gevalle aangemeld, in die Wes-Kaap 44, in Mpumalanga 36, in Noordwes 23, in die Oos-Kaap 19, in die Vrystaat 13 en in die Noord-Kaap 7.

Wat die verspreiding van kospakkies betref (waar heelwat korrupsie en wanbestuur aangemeld word) het die minister syfers verskaf wat nie wiskundig klop nie. Hieruit is dit duidelik dat die Wes-Kaap in dié opsig die beste vaar (50% van pakkies is hier versprei). Die tweede meeste aantal kospakkies is in die Noord-Kaap uitgedeel, dan Mpumalanga, Gauteng, die Oos-Kaap, Limpopo, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Noordwes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

Waarom word daar so baie in die Wes Kaap gedoen? Dit is ‘n projek van die ANC om stemme te werf daar om in die komende verkiesing die DA uit die kussings te lig.

Boortor ·

Waar kom al hierdie gekwalifiseerde werkers nou vandaan? Vir jare was daar hopeloos te min van hulle . Of is dit nou weer n ” one hour on line crash course” kwalifikasie soos al die ander ” coussis”?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.