Afsondering: Cele kap dié wat ongehoorsaamheid bepleit

(Foto: SA Polisie)

Die minister van polisie, Bheki Cele, het oproepe op die publiek om te mobiliseer teen die afsonderingsregulasies ten sterkste veroordeel.

Cele sê die oproepe ondermyn die gesag van die staat.

Die minister se oproep volg nadat 17 mans Vrydag in Pretoria-Wes aangekeer is waar hulle, ondanks regulasies ingevolge die Wet op Rampbestuur wat dit verbied, byeengekom het. Hulle wou glo saam aanbid.

Vroeër in die week het ʼn video waarin ʼn man vra dat “alle Moslems … saamkom om te aanbid” soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. In dieselfde video bied die man gratis regshulp aan vir enigiemand wat moontlik vir só ʼn oortreding in hegtenis geneem sou word, het die polisie gesê.

ʼn Ondersoek na die video word gedoen.

Cele het ook ʼn beroep op Suid-Afrikaners en veral geloofsleiers gedoen om saam te werk om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Volgens die minister was verskeie mense wat oor naweke tydens die afsonderingstydperk in hegtenis geneem is mense wat om geloofsredes byeengekom het. Geen byeenkomste, behalwe begrafnisse met minder as 50 mense, word tydens die afsonderingstydperk toegelaat nie.

“Wanneer mense die afsonderingsregulasies wetend of onwetend oortree, het die polisie geen ander keuse as om die wet af te dwing nie. In sommige gevalle beteken dit mense word in hegtenis geneem,” het Cele gesê.

“Die wêreldwye pandemie vereis groot opofferings van ons en ingrypende veranderings aan die manier waarop ons normaalweg sou leef. Hoe vinniger ons aanvaar dat dit buitengewone tye dié is, hoe vinniger kan ons dalk oplossings kry om die koronavirus eens en vir altyd uit te wis.”

Hy het Suid-Afrikaners ook weer gevra om die regering se maatreëls te steun en te gehoorsaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rodger17

Wat weet cele van hierdie virus?Het hy ook oornag n doktersgraad verwerf?Hy wil die sweep klap en almal moet spring.Pasop as hierdie ysterhand van cele op publiek backfire!Hy gaan anargie laat losbars soos nog nooit gesien is nie.

Flip

Hoeveel Taxi drywers en pendelaars het julle al in hegtenis geneem cele? ‘n taxi met agt mense in is mos dieselfde as n begrafnisdiens wat deur 51 mense bygewoon word.

Willem

Dis waar ongewapende aanbidders sien hy kans voor maar nie die klomp op die kaapse vlakte nie. Te bang om hul voete daar te sit

Werner

Cele, die gesag van die staat is deur mense aan julle gegee, en sal deur mense van julle weggeneem word

Snowball

Cele moet kom kyk hier in die parkeerareas van winkelsentrums in Kempton waar die karwagte en motorwassers (ten aanskoue van metro-polisie) buite is en werk soos voor grendelstatus …. selektiewe wetstoepassing; daai ou storie van “All animals are equal but some are more equal than others”