Afsondering: Departement swyg steeds oor kleuterskole

(Argieffoto: pixabay)

’n Dringende beroep word op die departement van maatskaplike ontwikkeling gedoen om met die ouers en onderwysers van kleuters te kommunikeer oor wanneer sentrums vir vroeëkinderontwikkeling weer kan oopmaak. Dié sentrums, insluitend kleuterskole, crèches en dagsorgsentrums is nes skole in Maart gesluit weens die Covid-19-pandemie.

Dié departement het steeds geen inligting bekend gemaak oor kleuters se lot nie, terwyl die departement van basiese onderwys reeds ’n duidelike plan vir graad R tot graad 12 aangekondig het. Kleuterskole is die verantwoordelikheid van die departement van maatskaplike ontwikkeling en nie die departement van basiese onderwys nie.

Lumka Oliphant, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, het aan Maroela Media gesê sentrums vir vroeëkinderontwikkeling bly vir eers gesluit totdat ʼn besluit hieroor geneem is. “Die minister sal ʼn openbare aankondiging doen sodra die besluit gefinaliseer is,” het Oliphant gesê.

Maar ouers en eienaars van kleuterskole het aan Maroela Media gesê hulle is moedeloos.

“Dit voel asof graad R tot 12 bestaan, maar ons nie,” vertel Charmaine Botha, hoof van EDUX SA, ’n organisasie wat spesialiseer in sentrums vir vroeëkinderontwikkeling. “Ons het nog nie ’n dooie woord gehoor nie. Ons het laas van die departement gehoor toe hulle gesê het kleuterskole moet toemaak.”

Volgens Botha word boonop geen leiding of opleiding aan die eienaars en personeel van kleuterskole in die land verleen nie. Sy meen dat leiding oor die volgende twee maande van die uiterste belang gaan wees om te verseker dat kleuterskole weer kan oopmaak.

“As ons nie binne twee maande oopmaak nie, gaan kleuterskole vir goed hul deure moet sluit. Dit gaan beteken dat 1,5 miljoen kleuters nie ’n skool het nie en meer as ’n miljoen vroue [wat kleuterskole besit of bestuur] hul maatskappy gaan moet toemaak.”

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Volgens Botha is 30 000 vroue in die sektor reeds hul inkomste kwyt. Dit nadat hulle gedwing is om onbetaalde verlof te neem of afgelê is omdat sommige ouers opgehou het om skoolfonds te betaal. Ander kleuterskole het noodgedwonge begin om kortings aan ouers te gee.

Om sake te vererger, is slegs 13% van die land se kleuterskole tans by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) geregistreer, vertel Botha.

“Kleuterskole was nog nooit ’n prioriteit vir die departement van maatskaplike ontwikkeling nie omdat die departement soveel ander maatskaplike kwessies moet aanspreek. Die departement het bloot nie kapasiteit om [sentrums vir vroeëkinderontwikkeling] te bestuur nie.”

Sophia Fourie, ’n eienaar van ’n kleuterskool op Richardsbaai in KwaZulu-Natal, vertel dat die ouers van haar skool desperaat is vir inligting aangesien verskeie ouers reeds moet terugkeer werk toe. Dit plaas natuurlik druk op haar om antwoorde te bied, wat sy nie het nie.

“Ek wil hoegenaamd nie ’n heropeningsdatum druk of hê dat my personeel en die kinders moet terugkom as dit nie veilig is nie, maar daar is geen kommunikasie van die minister [Lindiwe Zulu] af nie. Daar behoort vir ons ook ’n infaseringsplan aangekondig te word. Die departement vergeet van ons.”

Fourie vertel dat die pandemie natuurlik ook sy tol op haar skool se finansiële posisie eis. Hoewel die WVF wel aan haar skool uitbetaal het, moes sy aan ouers sê om gedurende Mei-maand slegs te betaal waartoe hulle in staat is.

’n Ouer van twee kleuters, wat verkies het om anoniem met Maroela Media te praat, werk reeds vanaf die instel van die algehele afsondering in Maart voltyds van die huis af.

“Dit is die een uitsteldatum na die volgende en ons kinders se kleuterskoolhoof het nie regtig antwoorde vir ons nie. Ons betaal steeds skoolgeld vir twee kleuters en het dié maand ’n effense korting gekry. Ons is dankbaar daarvoor, maar dit lyk of die situasie nog maande lank so kan voortduur. Die departement se gebrek aan behoorlike kommunikasie is geweldig frustrerend.  Kleuters het omtrent voltyds aandag nodig. My kinders is gefrustreerd, en ek ook, en ek weet nie meer wat om vir hulle te sê nie,” vertel sy

Gauteng-skoolregistrasie-2016

Argieffoto

Sy sê haar oudste vra herhaaldelik wanneer sy gaan ophou werk en saam met hulle speel. “My hart breek. Ek besef gesondheid kom in dié stadium eerste, maar ’n eerlike antwoord van die betrokke staatsdepartement is seker nie te veel gevra nie.”

Volgens Botha is dit ook ’n bekommernis dat ouers stelselmatig gaan moet terugkeer werk toe, terwyl kleuters nie kan terugkeer skool toe nie. Dagmoeders word ook nie in dié stadium toegelaat indien hulle nie inbly nie. Dit beteken dat hulle in die huis saam met die kind of kinders moet woon.

Botha verduidelik dat ouers wat moet terugkeer werk toe, dus die volgende opsies het:

  • As ’n huisgesin uit meer as een ouer bestaan, kan ouers skofte werk sodat daar altyd toesig oor kinders is. Dit sal egter met die ouers se werkgewers onderhandel moet word.
  • ’n Familielid of vriend kan inbly en na die kind of kinders kyk indien albei ouers moet terugkeer werk toe.
  • ’n Huishulp sal as kinderoppasser kan dien, hoewel hy of sy dan ook sal moet inbly.
  • Verskeie regskenners se interpretasie van huidige regulasies is dat kinderoppassers mag terugkeer werk toe sonder dat hulle hoef in te woon. Ouers kan dus oorweeg om ‘n kinderoppasser aan te stel.

“Ons sit met groot krisis. Die departement moet ons toespreek sodat ouers kan rustig raak. Anders gaan mense die reg in hul eie hande begin neem en kleuterskole onwettig begin oopmaak en dít gaan ten koste van ons kinders wees,” verduidelik Botha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Fedup ·

It’s been 26 odd years already. Still they do not understand the concept of any education system.

Matthys Jacobus ·

“Live-in staff, and staff providing care to the sick, mentally ill, elderly, people with disabilities and children.”

Dit kom uit die regulasie gedateer 29 April 2020. Daar word nerens bepaal dat ‘n huishulp MOET inbly nie. Daar word betaal dat die persone gemeld in tabel 1 van die regulasies weer mag begin werk, en tabel 1 bepaal soos hierbo.

Anel ·

En hulle wil dit verpligtend maak dat kinders van ‘n sekere ouderdom MOET skoolgaan? Hulle kan nie eers hierdie tamaletjie ontrafel nie. Nou bly hulle maar stil, want hulle het vir hulle ‘n masiewe gat gegrawe, binne in gevoeter en weet nou nie hoe om daar uit te kom nie.

Onnie ·

Volgens my afleiding, van inligting wat ons vd departement ontvang en ons persoonlike inligting (soos of jy jong kinders by die huis het wat nog nie skoolgaan nie) wat ons aan hulle moet verskaf, gaan kleuterskole en dagsorgsentrums nie gou oopmaak nie. Die departement moet aflos onderwysers reël vir opvoeders met sekere siektetoestande, die wat jong kinders sonder sorg het en die wat op hul laaste termyn swanger is. Hulle sou nie die inligting van ons aangevra het as hulle geweet het dagsorgsentrums gaan binnekort weer oop wees nie. Kleintjies weet nie hoe om hul hande tuis te hou nie. Kieme sal vinnig versprei, hande ook meestal in die monde.

Francois ·

Die staat sal niks se want hulle word volle salaris betaal om by die huis te sit. Kyk wat sal gebeur as jy alle staatsamptenare se salaris wegvat of slegs 25% gee. Dan kyk ons hoe vinnig hulle plan maak om terug te gaan werk toe.

Willem ·

Hulle sal niks se nie want hulle weet niks en sal nooit iets weet nie

Gemaskerde Sopbeen ·

Die Minister en die Departement swyg want hulle het geen idee wat om te doen nie. Sidder solank mense, sidder. As dit so lank neem om met ‘n plan voorendag te kom is daar baie twak wat uitgedink kan word om op die gepeupel af te dwing.

Skim ·

Dit is regtig ‘n krisis. My dogter is ‘n onderwyseres by ‘n aanlyn skool. Sy werk dus van haar huis af. Haar 3 jarige kleuter moet nou noodgedwonge by die huis bly. Haar man is terug werk toe. Dit is byna onmoontlik vir haar skool te gee aanlyn met ‘n 3jarige kleuter wat nie kan verstaan hy moet stil wees terwyl mamma op die rekenaar vir kinders skool gee nie. Sy sê dit is chaoties en sit hande in die hare.

Anoniem ·

Maklik om te sê ouers wat kan moet skofte werk. Wat van die ouers wat altwee slegs kantoorure werk? Maklik om sê sus en so. Nou moet daar huishulpe of nannies gekry word? Wat is die maandelikse uitgawe daarvoor? My kleindogter is by ‘n kleuterskool. Haar ouers moet vol betaal by die kleuterskool, al is dit nou gesluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.