Afsondering: Dié bedrywe mag heropen

Die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, verduidelik hoe die heropening van die ekonomie gaan werk. (Foto: GCIS)

Die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, het Saterdag gesê sekere bedrywe word van 1 Mei geleidelik heropen in ʼn poging om die ekonomie te midde van die Covid-19-pandemie weer aan die gang te kry.

Patel het gesê ʼn versigtige balans moet tussen die heropening van die ekonomie en die bekamping van die virus gevind word. “As ons dit te vinnig doen, loop ons die gevaar dat infeksies beduidend kan styg en ons na vlak 5 sal moet terugkeer. Dit is skadelik vir die ekonomie en ons gaan mense verloor wie se lewens gered kon word.

“As ons te stadig reageer, stel ons die ekonomie in gevaar. Ons moet met omsigtigheid te werk gaan.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand gesê die afsonderingstydperk gaan trapsgewys opgehef word. Suid-Afrika is in dié stadium op vlak 5, waar ingrypende maatreëls geld om die verspreiding van die virus te bekamp en lewens te red.

Op 1 Mei word na vlak 4 afgeskuif, wat beteken sommige aktiwiteite word toegelaat, onderworpe aan uiterste voorsorgmaatreëls om gemeenskapsoordrag en verdere uitbrekings te beperk.

Suid-Afrikaners wat gehoop het dat hulle ná volgende week – wanneer ʼn verslapping van die regulasies rakende die staat van landwye afsondering in werking tree – ʼn alkoholiese drankie sal mag koop, het slegte nuus gekry. Die verbod op die verkoop van alkohol geld steeds en word eers op vlak 3 opgehef.

Sigarette mag wel vanaf 1 Mei verkoop word.

Patel het gesê die verskillende bedrywe wat ná volgende week hul bedrywighede mag begin hervat, sal deur die loop van die naweek behoorlik daaroor ingelig word.

Bedrywe wat ná 1 Mei geleidelik mag heropen of wat uitgebrei word:

  • Landbou, bosbou en visserye
  • Elektrisiteit-, gas- en watervoorsiening
  • Vervaardiging (dit sluit in vervaardigers van kinderklere, wintersklere, komberse, beddegoed, rekenaars en selfone, sekere motoronderdele, sement, boumateriaal, hardeware en skryfbehoeftes)
  • Bou- en verwante bedrywe (daar word begin met projekte wat verband hou met openbare werke, asook die bou van paaie en brûe en kritieke instandhoudingswerk)
  • Handel (dit sluit in warm, voorafbereide maaltye, maar slegs vir tuisaflewering, tabakprodukte, tuiskantoortoerusting, opvoedkundige boeke)
  • Inligting- en kommunikasiedienste
  • Media- en vermaakdienste
  • Finansiële en sakedienste
  • Restaurante (slegs aflewerings en onderworpe aan die klokreël wat tussen 20:00 en 05:00 geld)
  • Vervoer (taxi’s word onderworpe aan streng voorwaardes toegelaat om sake te doen)
  • Mynwese
  • Dienste (dit sluit in ingenieurswese, rekenkundiges, regsdienste, oproepsentrums, informele herwinning, herstelwerk)
  • Sekere staatsdienste

Patel het gesê daar word in dié stadium op primêre bedrywe gefokus omdat dit die begin van die meeste waardekettings is. Hy het gesê die geleidelike heropening van dié bedrywe gaan Suid-Afrikaners ook die geleentheid gee om plaaslik vervaardigde produkte te ondersteun.

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Aankondiging oor die heropening van skole en ander onderwysinstellings word Maandag gedoen.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het gesê daar sal Dinsdag ook meer bedryfspesifieke besonderhede oor die heropening van die verskillende sektore bekend gemaak word.

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het vroeër gesê geen reis tussen provinsies word toegelaat nie – behalwe in uitsonderlike gevalle. Suid-Afrikaners word ook steeds nie toegelaat om oor en weer te kuier nie. Oefening word onder “streng voorwaardes” toegelaat, maar “georganiseerde aktiwiteite” bly verbode.

Die berig is gewysig sedertdien dit aanvanklik publiseer is om groter duidelikheid te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jacobus

Net ter inligting. Geld die klokreël vir inbrake, kaping en koperkabel diefstal in?

Erik

Vir hoeveel maande, jare gaan ons hierdie speletjie speel? Vlak 4, nee, julle is stout, vlak 5, nee wag, nou weer vlak 3, behalwe in Jhb en Kaapstad? En vlak 5 klink vir my maar vrek ver van vlak 0 af? Ek verstaan dat iets gedoen moet word. Ek verstaan dat ons ‘n bottelnek by hospitale probeer voorkom. Ek verstaan dit alles baie mooi. MAAR is dit realisties? Ek weet nie wat die alternatief is nie… Miskien om die virus maar sy gang te laat gaan? Onsensitief? Ons het jong kinders, moet teruggaan werk toe, maar hul skooltjies bly gesluit,… Lees meer »

Burgermeester

Ek sien Patel het ‘n sin vir humor, taxi’s word toegelaat om hadel te dryf, maar hulle gaan onderwerp word aan streng voorwaardes. Wys my ‘n taxi wat aan een van daai voorwaardes gaan voldoen, ek wys vir jou ‘n unicorn.

Ronel

My eerlike opinie is dat dinge te vinnig gelig word. Die syfer styg nog daagliks?!

Jaco

Wat van haarkappers?